Print

Krisis in SA Onderwys

Written by Prof Johan Malan.

Die Suid-Afrikaanse regering en sy grondwet onderskryf die Nuwe Era Beweging se beginsels van globalisme, holisme en multigodsdienstige denke. In die regering se uitkomsgebaseerde onderwysstelsel word hierdie Nuwe Era beginsels aktief nagestreef – nie ter wille van verbeterde opvoedkundige resultate nie, maar ter wille van ’n veranderde, geïntegreerde samelewingsorde.

In Die Basuin van Februarie 2001 het Linda Malan in ’n artikel onder meer die volgende oor die doelstellings van ons onderwys gesê:

“Die hoofmotief van die model van Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) wat in Suid-Afrika gevolg word, is op die behaviorisme geskoei, wat gedragsomvorming ten doel het. Daar word van die standpunt uitgegaan dat die samelewing bepaalde probleme het, bv. geweld, dwelms, Vigs, verdeeldheid, ens. Die onderwys word dan vir die regstelling van hierdie probleme aangewend. Politieke oogmerke kan ook deur die onderwys bevorder word om die sosiale bestel in die land te verander en daardeur ‘n groter mate van nasionale eenheid te skep.

“Die belangrikste eienskap van hierdie model is dat goeie en doeltreffende onderwys nie die hoofdoelwit is nie. Die onderwys word eerder as ‘n middel tot ‘n doel gesien en sodoende vir ‘n ander doel as dié van die oordra van kennis en feite misbruik. Kennis en feite is sekondêr tot dit wat eintlik deur die onderwys bereik moet word. Daar is sekerlik in enige onderwysmodel die gevaar dat die onderwys misbruik kan word, maar met hierdie model is die misbruik van die onderwys die uiteindelike doel.

“Kurrikulum 2005 is op UGO geskoei. Waar hierdie soort UGO gebruik word, sal dit natuurlik ook afhang van wat met die onderwys beoog word. Die metodes en onderliggende filosofieë sal dus van een land na ’n ander verskil waar hierdie onderwysmodel toegepas word. Dit is ook belangrik om te noem dat sommige state in Amerika reeds van UG0 weggebreek het omdat dit duidelik geword het dat leerlinge etlike jare op skool kan wees en nog nie eers oor basiese lees- en ander lewensvaardighede beskik nie...

“Faktore wat ‘n rol speel om die filosofiese onderbou  van die kurrikulum te bepaal, is onder andere die Grondwet, die Handves van Menseregte en wetgewing wat die nasionale raamwerk van die onderwys bepaal. Die volgende is van die filosofiese grondmotiewe wat in Kurrikulum 2005 ingebou is: Postmodernisme, multikulturalisme, multigodsdienstigheid, intergeloofsdenke, sosiale omvorming, evolusionisme, humanisme, holisme en globalisme... Sommige is duidelik uitgespel en ander is meer subtiel in die verskillende uitkomstes verweef. Die gevolg is dat ons wesenlik met ‘n antichristelike kurrikulum te make het.

“‘n Verdere saak wat in ag geneem moet word, is dat daar reeds in Kurrikulum 2005 voorskriftelike onderwysmetodes, soos bv. rollespel, voorkom. Dit is ‘n metode wat in die gedragswetenskappe ontwikkel is. Sommige evaluasiemetodes en riglyne wat ook voorgeskryf word, dwing die onderwyser om sy/haar beoordeling vanuit ‘n bepaalde perspektief, of filosofiese denkrigting, te doen. Die gevaar hier is dat dit nie oor feite gaan nie, maar bepaalde gesindhede wat bevorder moet word. ‘n Substansiële aantal uitkomste in Kurrikulum 2005 is spesifiek daarop gemik om ‘n multigodsdienstige beeld by die leerders te skep,” aldus Linda Malan.

Suid-Afrika is inderdaad besig om die Nuwe Era-ideologie in sy onderwysstelsel te bevorder. Een van die godsdiensonderrig-handboeke wat Unisa se Dept. Godsdienswetenskap opgestel het, se titel is: “The human search for meaning – a multireligious introduction to the religions of humankind.” Hierdie handboek beskryf nie net die wêreld se grootste godsdienste op ’n positivistiese wyse nie, maar ook die onderlinge verband wat daar na bewering tussen hulle is. Die Nuwe Era Beweging se visie van ‘n godsdienstig verenigde wêreld waarin almal in harmonie met mekaar saamleef, mekaar aanvaar, en in ‘n denkwêreld van holisme of kosmiese eenheid opgaan, word deur dié benadering bevorder.

Verswakkende intelligensie

Ná verskeie jare van UGO betaal Suid-Afrika nou ook, soos die VSA en verskeie ander lande, die prys vir ’n akademies swak onderwysstelsel. Standaarde het oral verlaag, slaagsyfers het gestyg, maar enorme probleme is daarmee geskep omdat leerders se kennis power is en hulle aanpassing by universiteitsonderrig baie moeilik. Omdat universiteite van staatsubsidies afhanklik is, verlaag baie van hulle ook die standaarde om kandidate te trek en hulle slaagsyfers op te stoot.

In onlangse toetse wat gedoen is, is konkrete bewyse gevind dat kinders se IK as gevolg van UGO besig is om te verswak. Elke kind word met ’n basiese intelligensie-vermoë gebore, maar hierdie potensiaal moet deur onderwys (m.a.w. verstandelike oefening) ontwikkel word. Afhangende van ’n kind se graad van geskooldheid word daar verskillende IK-toetste opgestel. Dit is vanselfsprekend dat indien kinders se lees- en leervaardighede afneem, hulle kognitiewe ontwikkeling daaronder sal ly, met die gevolg dat hulle swakker in IK toetse sal vaar.

Verskeie opvoedkundige sielkundiges wat toetse in Johannesburgse hoërskole gedoen het, het gevind dat leerders wat aan UGO blootgestel is, se IK afgeneem het. Prof. Kobus Maree van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Opvoedkunde het die IK van ’n aantal leerders in Gauteng met dié van leerders van ’n paar jaar vroeër vergelyk. Sy bevinding was dat diegene wat aan UGO blootgestel is (m.a.w. Kurrikulum 2005), ’n laer IK het. Hy skryf dit toe aan die feit dat hierdie leerders sekere basiese beginsels nie bemeester het nie. Hulle het veral probleme met spelling, lees en syfervaardigheid. Prof. Maree het gevind dat die afname in IK nie so duidelik in skole is waar UGO saam met ou onderwysmetodes gevolg word nie.

Dr. Lanette Hatting, ‘n opvoedkundige psigoloog van Johannesburg, het dié bevindings bevestig. Sy sê: “Dit is skokkend hoedat kinders se spraakvermoë, asook hul vermoë om logies te kan dink, te argumenteer en hulleself uit te druk, die afgelope paar jaar afgeneem het. Verskeie van die kinders het ’n baie swak woordeskat en kan nie basiese berekenings sonder ’n rekenmasjien doen nie. Hulle geheue word ook nie meer geoefen nie. Die feit dat leerders nie behoorlik kan spel, lees of tafels opsê nie, het ’n daling in IK tot gevolg.” Sy het dit benadruk dat IK ‘n vermoë is wat ontwikkel moet word.

Tuisonderrig is veel beter

Die basiese geletterdheid en syfervaardighede van leerlinge wat tuis onderrig word, is baie beter as dié van leerlinge in openbare skole. Dit is een van die bevindings in ’n studie wat me. Dierdré Bester, ’n Pretoriase onderwyseres, vir haar meestersgraad aan Unisa gedoen het. Bester het die Universiteit se raadsmedalje vir haar tesis oor tuisonderrig gekry. Die titel van haar verhandeling is: “Die effek van tuisskoling op die sosiale ontwikkeling en akademiese prestasie van die pre-adolessent.”

Sy het in haar studie bevind die tuisleerlinge in gr. 4 is gemiddeld 90,5% geletterd, teenoor die 48,1% van leerlinge in openbare skole. Tuisleerlinge se gemiddelde persentasie vir syfervaardighede is 82,4% teenoor die 30,02% van dié in openbare skole, en hulle vaardighede in lewensoriëntering is ook baie beter (81,7%) as dié van leerlinge in openbare skole. Om tuisleerlinge se sosiale ontwikkeling te meet, is onderhoude met hulle gevoer en moes hulle ook vraelyste voltooi. Uit die resultate blyk dit dat hulle ten spyte van die verminderde sosiale kontak gemiddeld tot goed aangepas is.

Bester het die sg. MLA-toets gebruik om die akademiese standaard van tuisleerlinge met dié van hulle eweknieë in openbare skole te vergelyk. Dit is dieselfde toets wat die Onderwysdepartement, Unesco en Unicef gebruik het om die prestasies van graad 4-leerlinge in openbare skole te meet. Altesame 166 tuisleerlinge is by haar studie betrek.

Volgens Bester is dit duidelik dat tuisleerlinge akademies bevoordeel word omdat hulle prestasie aansienlik hoër as dié van leerlinge in openbare skole is. In die lig van hierdie bevindings, meen sy, behoort die voorbehoude wat die Onderwysdepartement rondom tuisonderrig het, opgehef te word sodat die leerlinge meer geredelik geregistreer kan word.

Kwaliteit van tuisonderrig

Wanneer die opsie van tuisonderrig oorweeg word, is dit vanselfsprekend dat die voordele van dié metode net tot hulle reg kan kom indien goeie leerplanne gebruik word. Bybelonderrig moet só aangebied word dat die kind die vermoë ontwikkel om teenstellend te kan dink, wat ’n duidelike onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd behels. Die etiese beginsels van eerlikheid, dissipline, hardwerkendheid en die eerbiediging van gesag word deur Bybelonderrig bevorder en gesteun. Wat sy sosiale vorming betref, moet die kind ook interaksie en gesonde kompetisie met ander kinders hê.