Print

Offers en Rituele van Halloween Leef Voort

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die okkultiese agtergrond van Halloween slaan nog steeds sterk deur, al meen sommige mense dat dit net 'n vorm van onskuldige vermaak is.

Halloween word elke jaar op die aand van 31 Oktober gevier, en het sy oorsprong in ‘n heidense nuwejaarsfees vir die verering van die geeste van afgestorwenes. Die Rooms-Katolieke Kerk het hierdie fees vroeg in die Middeleeue in ‘n Christelike fees probeer omskep, maar die okkultiese inslag daarvan het bly voortleef. Huidiglik is dit een van die belangrikste feesdae op die jaarlikse kalender van die hekse en sataniste.

Die ontstaan van Halloween kan teruggevoer word na die druïdes, ‘n heidense priester-orde wat in die voor-Christelike tydperk ‘n groot invloed onder die Kelte op die Britse Eilande gehad het. Hierdie fees was ‘n rituele nuwejaarsviering.

Die Kelte het geglo dat afgestorwenes op hierdie dag teruggekeer en met die lewendes gemeng het. Die geloof is gehuldig dat die siele van die sondige mense wat gedurende die jaar gesterf het, die gedaantes van diere aangeneem het. Deur geskenke en offers kon daar egter vir hulle slegte dade boete gedoen word, sodat hulle siele bevry kon word om ‘n hemelse bestaan te voer. Die god van die doderyk het alle siele geoordeel en besluit of hulle as mense of as diere sou voortbestaan.

Bepalings deur die pous

Die rede waarom sommige mense meen dat Halloween ‘n Christelike oorsprong het, is omdat pous Gregory III in die agtste eeu die fees vir die verering van die dooies na 1 November verskuif het. In die negende eeu het pous Gregory IV ‘n dekreet uitgevaardig dat dié dag deur alle Rooms-Katolieke gevier moet word.

Die Katolieke feesdag op 1 November staan as All Saints’ Day of All Hallows Day (Allerheilige-dag) bekend. Heel gou het dit egter gebruiklik geraak om die vieringe na die vorige aand te verskuif. Die fees van die vorige aand staan as  Hallows-even of Halloween (Allerheiligeaand) bekend. Die agtervoegsel -even of -eve dui op die vorige aand, net soos wat Christmas Eve of New Year’s Eve op Ou Kersaand of Oujaarsaand dui, wat die vorige aand gevier word.

Die viering van Halloween op die aand van 31 Oktober het nie net met die Keltiese nuwejaarsviering saamgeval nie, maar ook spoedig die karakter en inhoud daarvan oorgeneem. Dit is in die lig hiervan duidelik dat die Katolieke se verering van gestorwe heiliges, hulle opvatting oor die vaevuur, asook die feit dat daar ná ‘n persoon se dood boete gedoen en vir die vergifnis van sy sondes gebid kan word, ‘n onmiskenbare heidense inslag het.

Dit is nie net die Roomse Kerk wat aansluiting by die Kelte se heidense fees gevind het nie. Die hekse, towenaars en sataniste sien dit ook as ‘n ideale geleentheid om offers aan die songod, die god van die doderyk en die natuurgode te bring, en kontak met die geesteswêreld van die gestorwenes te maak. Dwarsdeur die Middeleeue, tot vandag toe, vier hulle hierdie fees met sy okkultiese rituele.

Onskuldige vermaak?

Baie mense beweer dat dié fees vandag ‘n skadelose vorm aanneem. Lekkernye, uitspattige en potsierlike kleredrag, uitbundigheid en kaskenades vorm alles deel van die fees. Mense sê dat dit onskuldige vermaak is wat niks met die heidense oorsprong van Halloween te doen het nie. Dit is juis in hierdie beskouing dat die gevaar geleë is. Mense neem aan feestelikhede deel wat ter ere van Satan, heidense afgode en die geeste van dooies ingestel is. Hulle is dus óf nie bewus van die bestaan van demoniese magte in die wêreld nie, óf hulle meen dat hulle maar daarmee kan assosieer sonder om beïnvloed te word.

Die argument dat Halloween nie meer is wat dit was nie, hou nie stand in die lig van die voortgesette okkultiese gebruike wat daarmee in verband staan nie. Hekse vereer op dié dag nog steeds hulle gode, terwyl sataniste dit as een van die belangrikste geleenthede beskou om diere of mense aan Satan te offer. Hulle groot doel is om hierdie geloof ook op andere oor te dra.

Of ons dit wil erken of nie, kleef daar geweldige bose konnotasies aan die gebruike van Halloween. Dit is nog steeds ‘n fees aan Satan en moet as sodanig deur Christene verwerp en vermy word.

‘n Fees vir die geeste

Die moderne gebruik om snaaks aan te trek en van deur tot deur te gaan om lekkers, neute, vrugte en sente te bedel, het sy oorsprong in die heidense nuwejaarsvieringe. Die geeste van die gestorwenes wat volgens die ou Keltiese geloof by die huise van die lewendes besoek afgelê het, is met versierde tafels vol lekkernye begroet. Aan die einde van die fees het inwoners wat spesiale uitrustings aangehad het om die geeste van die dooies voor te stel, na die buitewyke van die dorpe geloop om die geeste weer weg te lei.

Die spesiale onthaal vir die geeste is gereël om enige moontlike rampe en teëspoed af te weer wat die gestorwenes oor hulle lewende nageslag kon bring indien hulle nie geëer en versorg word nie. Mense wat in hierdie opsig nalatig is, mag vind dat hulle beeste vrek, die melk suur en die kos sleg word, of enige ander teëspoed wat die ontevrede geeste oor hulle kan bring.

Die geeste is tevrede gestel deur bv. bakkies met vrugte en ander geregte op sekere plekke vir hulle neer te sit. Wanneer hulle daarvan genuttig het, het hulle in vrede vertrek.

Indien u kind dus tydens Halloween feeste van deur tot deur gaan om lekkernye by mense te kollekteer, is hy met die nabootsing van ‘n ritueel besig wat uit ‘n antieke bygeloof voortspruit.

Vreugdevure

Baie mense is met die Halloween vreugdevure bekend, wat ook hulle oorsprong in die ou Keltiese rituele het. Elke gesin het só ‘n vuur gemaak, waar daar ook offers aan die natuurgode gebring is. In Skotland en Wallis het gesinslede wat rondom die vuur vergader het, elkeen ‘n gemerkte klip in die vuur gegooi. Gebede is dan aan die gode van die gesin gerig terwyl hulle rondom die vuur staan. Die volgende oggend is al die klippe uit die as gehaal. Indien iemand nie die klip met sy merk daarop kon kry nie, is dit as ‘n voorbode beskou dat hy in die komende jaar sou sterf.

Verskeie ander vorms van fortuinvertellery is ook beoefen. Die nuwejaarsvieringe van die Kelte het voorspellings van hierdie aard weens die besondere nabyheid van die geeste by sulke geleenthede, moontlik gemaak. Vandag is dit nog steeds gebruiklik dat mistici soos waarsêers tydens dié vieringe toekomsvoorspellings en fortuinvertellery beoefen.

Swart katte

Onder hekse in baie wêrelddele is Halloween ‘n baie belangrike feesdag waarop hulle aktief toorkuns beoefen. ‘n Heks se toorkrag is in ‘n amulet met bonatuurlike kragte gesetel, of ‘n dier waarin sy ‘n bose gees beveel het om in te vaar. Dit is bekend dat hekse van katte, honde, uile, slange of varke gebruik maak waarin ‘n bose gees skuil. ‘n Swart kat word baie algemeen met hierdie okkultiese mag geassosieer omdat swart die simbool van boosheid, donkerheid en die dood is.

Heidense tradisie

Die meeste van die moderne vieringe van Halloween is ontleen aan die okkultiese rituele uit die antieke kultuur van die Kelte. Selfs die manier waarop kinders en grootmense mekaar skrikmaak of vermaak, is ‘n voortsetting van ‘n fees waarin mense geleer is om op te tree asof die geeste [selfs in ‘n sigbare gedaante] in hulle midde is.

Die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n groot rol gespeel om ‘n Christelike kleed oor hierdie heidense fees te trek en dit in ‘n oënskynlik onskuldige vorm voor te sit. Hulle het selfs so ver gegaan om die heidene om te koop of te dwing om ‘Christene’ te word. Geld en geskenke is aan mense gegee om op All Souls’ Day [die dag ná All Saints’ Day of Hallows Day] ter ere van die siele van ontslape familielede te vas. In plaas van die afgode moes familiegeeste en die geeste van bekende heiliges vereer word. Vir die heidene was dit ‘n aanvaarbare plaasvervanger [eintlik ‘n gewysigde voortsetting] van hulle voormalige gebruike en rituele.

Geen kompromie

Die Bybel waarsku ons teen kompromie met heidense gebruike:

"As jy kom in die land wat die Here jou God aan jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. Daar mag niemand by jou gevind word… wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ‘n gruwel… Hierdie nasies… luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie" (Deut. 18:9-14).

Vir ‘n Christen is daar hoegenaamd geen regverdiging om aan feesvieringe ter ere van die duiwel en sy ryk van demone, hekse, towenaars, afgode en bose geeste deel te neem nie – in watter gedaante hulle hulself ook al voordoen. Daar kan ook nie vir vermaaklikheidsdoeleindes aan heidense feeste en rituele deelgeneem word nie. Mense wat swart klere aantrek en hulself as hekse, towenaars of sekere diere vermom, of wat spookhuise inrig net om ander skrik te maak of ‘n poets te bak, beweeg gevaarlik naby aan die terrein van die vyand. Die duiwel hou van speletjies wat deur sy ongesiene ingryping ‘n aaklige werklikheid kan word.

Deur speletjies soos Halloween bevorder die deelnemers idees en kweek belangstellings in okkulte dinge waardeur hulle hulself én andere vir invloede van hierdie aard oopstel. ‘n Persoon wat tydens ‘n speletjie van ‘n okkultiese mag bewus word deur iets te kan doen wat ander nie kan doen nie, kry dadelik aansien en sal weer daarna soek. Só word hy of sy gevang om met vreemde magte te begin eksperimenteer.

“Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God… Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Kor. 6:16-17).