Print

Goddelike Oordele en Tekens van die Tye

Written by Prof Johan Malan.

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2010)

Die tekens van die tye moet versigtig in hulle korrekte dispensasionele verband beoordeel word. Daar is Christelike bedienings wat verskillende natuurrampe, asook mensgemaakte rampe, as die oordele van God oor goddelose nasies beskryf. In baie gevalle beskryf eindtydse tekens egter toestande wat gedurende die sewe jaar van verdrukking sal voorkom, en is gegee om die spoedige koms van Jesus Christus op die Olyfberg aan te kondig. Tekens van hierdie aard word soms verkeerdelik op die kerkbedeling toegepas.

Ons is in die bedeling van genade – nie in die bedeling van goddelike oordele nie. Slegte dinge wat tans gebeur, is in die meeste gevalle die gevolge van verkeerde houdings en onverantwoordelike dade deur mense: “Want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Amerika het ‘n anti-Joodse president, bloot omdat die Amerikaanse mense vir hom gestem het. Dit is nie God wat hom aangestel het om afvallige Amerikaners te straf nie! Gebeurtenisse soos hierdie moet as verkeerde besluite deur misleide mense met selfsugtige of humanistiese agendas gesien word. Die gees van dwaling is aan die werk om mense oral te mislei.

Die goddeloosheid sal voortduur totdat God ingryp om die ware gelowiges deur middel van die wegraping weg te neem, en slegs dan sal Hy die bose mense oordeel. Ons leef nie onder die Ou Testament toe daar afwisselende tye van goddelike seëninge en oordele in die wêreld was nie. God het toe dikwels wonderbaarlik ingegryp om Israel te red en die goddeloses te oordeel. Op hierdie manier het Hy sy goedkeuring of afkeuring van mense se gedrag sigbaar gedemonstreer. Hierdie goddelike dade het dikwels na die totale vernietiging van bose samelewings gelei (vgl. die tye van Noag en Lot).

Aan die begin van die Nuwe Testament het God Homself aan die mensdom geopenbaar deur die menswording, openbare bediening, kruisiging en hemelvaart van sy Seun, asook die uitstorting van die Heilige Gees en die vestiging van die Christelike kerk op aarde. Gelowiges sou deur die geloof lewe en nie deur aanskouing nie (2 Kor. 5:7). God sou in die liggaam van gelowiges werk om mense uit te red, te beskerm en vir hulle te sorg, terwyl sy Heilige Gees sou voortgaan om verlore mense van hulle sonde en behoefte aan verlossing te oortuig.

Alle mense het ‘n vrye wil om te besluit of hulle Christene wil wees of nie. Daar is geen dwang of intimidasie om mense te dwing om op ‘n sekere manier op tet ree nie, en ook geen oordele oor goddeloses gedurende hierdie dispensasie nie. Goddelike oordele word tot in die eindtyd voorbehou: “...omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel” (Hand. 17:31).

Mense kan kies om met hulle sonde voort te gaan, soos wat die meeste inderdaad doen. Daardeur aanvaar hulle die beheer van die duiwel en maak van die wêreld ‘n oorwegend goddelose plek om in te woon. As gevolg van hierdie situasie kan onderdrukkende ryke, bose regerings, valse godsdienste en afvallige kerke vir lang periodes oorleef, selfs eeue lank, sonder om deur God geoordeel of van die toneel verwyder te word. Wanneer hulle wel platval, is dit as gevolg van innerlike verdeeldheid en morele verrotting.

Slegs ekstreme Calviniste beskou die lotgevalle van mense in alle besonderhede as deur God voorbeskik, insluitend natuurrampe. Hierdie leerstelling skep baie vrae: Moet geestelike misleiding nie vir die bose dade van mense geblameer word nie? Is hulle lyding nie deur hulleself veroorsaak nie? Hoe kan natuurrampe as God se oordele gesien word indien hulle onreëlmatig voorkom en ook meer onskuldige mense tref as die werklike beplanners van boosheid? Word baie van hierdie rampe nie veroorsaak deur die mens se buitensporige inhaligheid wat verantwoordelik is vir die oorbenutting van natuurlike hulpbronne en die rampspoedige verhitting van die planeet deur die hoë volume koolsuurgas wat in die atmosfeer vrygestel word nie? Inhalige en bose mense is besig om hulle eie woongebied te vernietig.

Ons sal as ‘n saak van erns hierdie verskynsels moet probeer verstaan deur hulle in hulle regte dispensasionele verband te verklaar. Dit sal ons help om die tekens van die tye beter te kan verstaan. Die belangrikste eskatologiese tekens van die kerkbedeling gedurende die tyd wat die wegraping van die ware gelowiges voorafgaan, is nie natuurrampe nie, maar eerder tekens wat op geestelike en ideologiese sake betrekking het, asook die herverskyning van Israel as ‘n belangrike rolspeler in wêreldsake:

  • Geestelike misleiding is die bose dryfkrag agter die groot afval van morele en godsdienstige standaarde af, en dit verhaas die eindtydse uitstorting van God se toorn (1 Tim. 4:1; 2 Thess. 2:3). Slegs ware gelowiges in Christus sal die komende toorn ontvlug (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10).
  • Die fisiese herstel van Israel as voorbereiding vir hulle geestelike herlewing as God se volk is ‘n belangrike teken wat aandui dat die openbaring van God se koninkryk op aarde op hande is. Ondersteuning aan Israel, die bevordering van hulle geestelike welstand deur te verkondig dat Jesus Christus (Yeshua Ha Mashiach) hulle enigste Redder en hoop op die toekoms is, asook die verdediging van hulle gebiedsintegriteit en Bybelse reg op Jerusalem, is bewyse van ‘n kerngesonde eindtydse oriëntasie onder gelowiges.
  • Die opkoms van ‘n antichristelike nuwe wêreldorde wat die platform skep vir die spoedige openbaring van die Antichris en die begin van die verdrukking, is ‘n eindtydse ontwikkeling. Hierdie beweging word gekenmerk deur politieke, godsdienstige en ekonomiese wêreldeenheid (vgl. Op. 13) en verteenwoordig Satan se opponerende koninkryk op aarde waardeur hy gaan poog om die openbaring van Christus se duisendjarige vrederyk op aarde te voorkom. Ware Christene moet hulleself daaraan toewy om die Antichris se opmars na oorname teë te staan (2 Thess. 2:6-8).

Die oorloë en natuurrampe wat in die profetiese rede van Christus beskryf word, asook in profetiese boeke soos Openbaring, is tekens wat op die openbare verskyning van Christus aan die einde van die verdrukking dui. Hierdie tekens verwys na die oordele van God wat gedurende die sewe jaar van die verdrukking uitgestort sal word, wat ook die dispensasie van die Antichris se bose regering op aarde sal wees. Die huidige oorloë en natuurrampe val nie in hierdie kategorie nie en is, op die meeste, vroeë waarskuwings van die komende, wêreldwye tyd van benoudheid. In hulle huidige vorm is hierdie verskynsels nie oordele nie.

Indien ons meer klem op die teken van geestelike misleiding lê, sal ons besef dat Israel se geestelike probleme net so erg as dié van hulle grootste vyande is. In plaas daarvan om Israel se vyande te veroordeel omdat hulle nie die moderne Joodse staat erken en ondersteun nie, moet ons eerder beide partye konfronteer met hulle geestelike afdwalings en rebellie teen God. Die kritieke faktor is mense se verhouding met Christus, en die interstaatlike verhoudings nie.

As gevolg van Israel se betreurenswaardige geestelike toestand is hulle, soos alle ander volke, deel van die probleem en stuur op die tyd van benoudheid vir Jakob af – die sewe jaar lange verdrukking. In daardie tyd sal natuurrampe baie duidelik deel van ‘n goddelike ingryping in die lewens van mense wees met die oog op die loutering van gelowiges en die oordeel van ongelowiges. Aan die einde van hierdie tyd sal ‘n oorblyfsel uit alle nasies gered word (Matt. 24:29-30; Sag. 12:10; 14:16). Die profeet Jesaja bevestig dat gedurende die komende duisendjarige vrederyk van die Messias, ‘n oorblyfsel van Israel, Egipte en Sirië die Here eensgesind en van harte sal dien (Jes. 19:23-25).

Op die oomblik is ons nog in die bedeling van genade, hoewel in die laaste stadium daarvan. God praat met ons deur sy Gees, sy Woord en deur ware getuies in die kerk. Ons het baie profetiese waarskuwings dat die einde van die bedeling naby is. Laat ons, vir die huidige, ons aandag van wegtrek van orkane, aardbewings, vulkaniese aswolke, oliebesoedeling, goddelose regerings en ‘n dreigende ekonomiese ineenstorting, en eerder aan die verdiepende geestelike probleme van Israel, die nasies én die kerk aandag gee.

Die tyd sal inderdaad kom wanneer die kragte van die hemel baie erger geskud sal word as wat gedurende die kerkbedeling die geval was. Die doel met hierdie ongekende tekens sal wees om die openbare koms van die Koning van die konings aan te kondig. Hy sal die goddeloses oordeel en oor die hele wêreld regeer (vgl. Jes. 13:9-13; Sag. 14:2-13; Luk. 21:25-27; Op. 19:19-21). Hierdie apokaliptiese tekens word spesifiek met die groot verdrukking in verband gebring en sal in daardie tyd duidelik as dade van God erken word (vgl. Op. 16). Ons is nie nou in daardie situasie nie.

Die groot verantwoordelikheid wat nou op Christene rus, is om met voorbereidings besig te wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet. Dit vereis groter persoonlike heiligheid by elke gelowige, asook ‘n groter betrokkenheid by evangelisasie sodat “die volheid van die heidene kan inkom” (Rom. 11:25). Ons verhouding met die Here Jesus moet suiwer wees sodat ons heilig en sonder gebrek voor Hom kan verskyn (Ef. 5:25-27). Dit vereis volkome heiligheid in ons gees siel én liggaam (1 Thess. 5:23-24; 2 Pet. 3:11,14). In hierdie toestand van heelhartige toewyding moet ons dan uitbeweeg om dié wat buite is, in te bring. “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy Heer, as Hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Matt. 24:46).

Watchman Nee 27