Print

Xenofobie Kan Weer in Suid-Afrika Opvlam

Written by Prof Johan Malan.

Daar is baie gerugte oor dreigende xenofobie (vreemdelingehaat) wat in SA die rondte doen. Dit is nie heeltemal ongegrond nie omdat Suid-Afrika besig is om ’n samevloeiingspunt vir die hele Afrika te word. Vanoor die hele Afrika sak werkloses en misdadigers op ons land toe omdat dit ’n redelike sterk ekonomie het en ook baie moontlikhede vir misdaadsindikate skep om hier te floreer. Daar is groot kompetisie onder die werkersklas in die stryd om oorlewing, en dit is hieruit dat die vreemdelingehaat voortspruit. Onwettige immigrante is bereid om vir baie minder te werk, soms net vir kos, en dit ontneem plaaslike swartes hulle bron van inkomste.

Dit is nodig om na ’n aantal faktore te kyk wat almal ’n rol speel in die verskynsel van xenofobie, anders loop mens gevaar om net een aspek daarvan raak te sien en dit buite verhouding te oorbeklemtoon:

Historiese faktore

Daar was nog altyd vreemdelingehaat in Afrika, soos uit die lang geskiedenis van inter-etniese geweld en stamoorloë op die kontinent blyk. Vreemdelinge is óf verdryf en doodgemaak óf militêr onderwerp en die oorlewendes (meesal vrouens en kinders) in die oorwinnaar se samelewing opgeneem. Die koninkryke van Shaka en Dingaan onder die Zoeloes en Mosjesj onder die Suid-Sotho’s was sprekende voorbeelde hiervan.

’n Nuwe dimensie van xenofobie is egter deur die kolonisering van Afrika geskep. Blanke lande in Europa het op premoderne Afrika toegesak en beslag gelê op groot gebiede vanwaar hulle grondstowwe vir hulle ontwikkelende ekonomieë gekry het. Dit het tot rassespanning aanleiding gegee, omdat blanke oorheersers die plaaslike swartes in ’n toestand van onderworpenheid gehou het. Hierdie situasie is gestereotipeer en later het baie van die swartes die persepsie gehuldig dat die blankes in die algemeen hulle onderdrukkers en uitbuiters is. ’n Lang geskiedenis van swart-wit-konfrontasie het uit hierdie gespanne verhouding voortgevloei.

Verdere inter-etniese spanning is ook deur die onbesonne optrede van die koloniseerders in Afrika geskep. In die proses van kolonisering het hulle geografiese in plaas van etniese grense bepaal en sodoende vyandige stamme in een land saamgegooi en ook dikwels bestaande stamgebiede deur landsgrense van mekaar geskei en afgesny.

Die dominante posisie wat blankes polities, ekonomies en militêr in die kolonies beklee het, het die gevolg gehad dat inter-etniese geweld onder die swartes afgeneem het, want konflikte van hierdie aard is deur die koloniale moondhede onderdruk. Verder het blanke oorheersing daartoe gelei dat die swart inwoners in ’n land teen die blankes verenig is en binne die raamwerk van nuutgestigte bevrydingsbewegings ’n gemeenskaplike stryd teen blanke oorheersing gevoer het. Hierdie ideologiese stryd het spoedig gewelddadig geraak en ’n groot rol in die onafhanklikwording van Europese kolonies in Afrika gespeel.

Onafhanklike swart state

Ghana (die Goudkus gedurende koloniale tye) was die eerste swart staat in Afrika suid van die Sahara wat in 1957 sy onafhanklikheid van Brittanje verkry het. Die naam “Ghana” (“Vegter-Koning”) is in ere herstel, want dit was die naam van ’n inheemse koninkryk wat in prekoloniale tye beheer oor groot dele van Wes-Afrika gevoer het. Hierna het ’n groot aantal  kolonies onafhanklikheid verkry en die hele proses is volvoer toe Suid-Afrika, wat reeds ’n  onafhanklike land was, ook onder die beheer van ’n swart meerderheidsregering gekom het.

Dit wat in Ghana begin het, is in 1994 in Suid-Afrika voleindig. Dit maak van dié twee lande belangrike bakens in swart Afrika se politieke selfverwesenliking en skep ook ’n besondere band tussen hulle. Ten spyte van hulle onafhanklikheid verkeer Afrikastate steeds in ’n stryd teen die dominante  posisie wat blanke én Asiatiese lande internasionaal op politieke, ekonomiese, tegnologiese en sportterreine beklee. Dit is waarom swart Afrika so sterk met Ghana se sokkerspan geïdentifiseer het toe hulle onder-20 span in 2009 die eerste span uit Afrika was om FIFA se wêreldbeker in ’n eindstryd teen Brasilië te wen, en in 2010 die kwarteindronde van die senior kompetisie te bereik. Hulle span is in Suid-Afrika die BaGhana-BaGhana genoem – in ’n sekere sin die verteenwoordigers of voorlopers van Bafana-Bafana.

Die feit dat swart Afrika se politieke onafhanklikheid nie die magiese deur na ’n utopia was nie, het na ’n lang reeks burgeroorloë en staatsgrepe op die kontinent gelei. Die gemeenskaplike  blanke vyand het sy posisie van oorheersing verloor, en ou etniese konflikte, asook konflikte tussen strydende vryheidsbewegings, het weer sterk na vore getree. Hierdie keer was dit swart-teen-swart geweld, aangesien net klein elite-groepe die voordele van onafhanklikheid geniet en steeds die meerderheid uitgebuit het.

Regstellende aksies het sulke absurde uiterstes aangeneem dat leiers in die regering – maar veral in semi-staatsinstellings en die private sektor – aan hulleself en medebestuurslede sulke buitensporige salarisse en bonusse betaal dat die werkers geen keuse het as om oor hulle relatief swak vergoeding in opstand te kom nie. Hierdie probleme is verswaar deur die ekonomiese resessie van 2009/2010, asook die groot toestroming van onwettige immigrante na lande soos Suid-Afrika. Die kompetisie vir werk en beheer oor hulpbronne het hewig begin word en in baie gevalle na geweld gelei – veral ook na xenofobie omdat arm vreemdelinge bereid is om vir minder te werk.

Die huidige posisie van blankes

Omdat blankes hulle politieke beheer oor die land verloor het, beteken dit hoegenaamd nie dat ’n polities-gedrewe uitwissingsoorlog deur militante swart groepe teen hulle beplan word nie, al dink baie van hulle dat dit wel die geval is. Suid-Afrikaanse blankes word ook nie as vreemdelinge beskou wat uit die land verdryf moet word nie – in elk geval nie deur ’n noemenswaardige groot aantal swartes nie. Daar ís beslis klein groepies erg militante swartes wat ondersteuners van Zimbabwe se Robert Mugabe is, en wat ook graag al die blankes van hulle plase af sou wou verdryf. Hulle geniet egter nie die steun van die meerderheid lede van die ANC-alliansie nie en word kort-kort gerepudieer.

Ten spyte hiervan is daar ’n groep ver-regse blankes wat aan ’n selfopgelegde vreeskompleks ly omdat hulle meen dat hulle enige oomblik die slagoffers van ’n landswye volksmoord kan  word. Hulle haal buite-Bybelse “profete” soos Siener van Rensburg en Johanna Brandt aan   om die scenario van ’n sogenaamde “nag van die lang messe” te skep waarin blankes wyd en syd vermoor gaan word nadat ’n “vooraanstaande swart leier” dood en begrawe is. Daar word  ook beweer dat vuvuzelas geblaas word om die voorvadergeeste se hulp op te roep vir die komende rasse-oorlog, wat glo kort ná die  sokker-wêreldbekertoernooi sal uitbreek. Hierdie vrees het hulle al daartoe gelei om ontvlugtingsplekke in die platteland voor te berei waarheen oorlewende blankes moet uitwyk.

Die Suidlanders, asook verskeie ander Israelvisiegroepe, is met hierdie veldtog besig. Hulle beoefen vervangingsteologie deur hulleself in die plek van die volk Israel te stel. ’n Ou Testamentiese oriëntasie word aan hulle ondersteuners voorgehou, waarin ’n bloedige stryd teen heidense nasies noodwendig vir hulle bepaal is. Hulle glo egter dat die Here aan hulle die oorwinning sal gee en dat die Vierkleur weer oor groot dele van SA sal wapper. Daar is egter baie twis, korrupsie en misleiding in hulle geledere, en wat hulle doen kan glad nie as ’n “Christelike” veldtog beskou word nie.

Die groot meerderheid blankes het gelukkig ’n meer realistiese en objektiewe siening oor  hierdie probleem, hoewel baie van hulle mank gaan aan onkunde oor wat die Bybel oor die eindtyd vir ons sê. As gevolg hiervan is hulle ook nie goed voorbereid op dit wat die toekoms vir ons inhou nie. Kom ons kyk eers na gebeurtenisse op die grondvlak, en wat ons in die nabye toekoms te wagte kan wees:

Groter etniese vermenging en konflik. Weens die regering se swak immigrasiebeheer en onvoldoende patrollering van ons grense gaan die toestroming van buitelanders steeds groter afmetings aanneem. Suid-Afrika is besig om ’n mikrokosmos van die hele swart Afrika te  word, en dit gaan die aard van politieke beheer steeds meer omstrede en aanvegbaar maak. ’n Skeuring in die regerende party weens die ontevredenheid van werkers onder die leiding van Cosatu, is ’n groot moontlikheid. Nuwe alliansies en drukgroepe kan gevorm word, wat tot  ’n groot mate van politieke onstabiliteit sal lei. Die opstandigheid sal egter nie primêr teen   blankes gerig wees nie, omdat hulle reeds polities gemarginaliseer is.

’n Groot stryd om beheer oor ekonomiese en natuurlike hulpbronne. Dit sluit beheer oor sakeondernemings, boerdery en landbougrond in. Regstellende aksies kan dus voortgaan en die deur vir nog meer blanke mans na aanstellings op bestuursvlak toemaak – selfs ook op ’n toetreevlak vir jongmans. Die grootste enkele probleem sal na verwagting op die terrein van grondhervorming voorkom. Dit kan van twee kante af kom: enersyds meer druk van regeringskant af om plase te onteien, en tweedens ’n toename in plaasbesettings deur  plakkers, werkloses en opgesweepte rebelle. Geweld is ongelukkig deel van laasgenoemde groep en die polisie sal beslis meer proaktief moet optree om boere en hul belange te beskerm.

’n Toename in misdaad. Die vlaag misdaad in die land is teen alle mense gerig – nie net teen blankes nie. Hoewel die regering en sy polisiediens meer kan doen om misdaad te bekamp, sal dit nooit eers naastenby genoeg wees om landsburgers se veiligheid te verseker nie. Almal moet stappe doen om hulleself en hulle besittings te beveilig. Hierdie probleem is nie tot Afrika beperk nie, en is besig om wêreldwyd toe te neem. Dit gaan dus nie noodwendig veel verligting bring om van een land na ’n ander te vlug nie.

Bybelse scenario

Die Bybel voorspel iets veel erger as xenofobie vir die eindtyd. Daar word na ’n groot verdrukking verwys, wanneer die Antichris beheer oor die aarde sal kry. Volgens Openbaring 13 sal hy ’n nuwe wêreldorde van politieke, godsdienstige en ekonomiese eenheid op aarde instel. In daardie tyd sal daar baie oorloë en natuurrampe voorkom, maar Christene wat  geestelik waardig is, sal die tyd van goddelike oordele ontvlug (Lukas 21:36).

Ons moet na die groter prentjie kyk en ons optrede in die lig daarvan bepaal. Suid-Afrikaners moenie die fout maak om op grond van historiese konflikte ’n ras-gebaseerde uitwissingsoorlog in hulle land te voorspel nie. Hulle moet ook nie die fout maak om hulleself in die plek van die volk Israel te stel en na die misleidende stemme van hulle eie profete te begin luister nie. Belangriker nog: ons moenie die ekumeniese denke en globalisme van die komende nuwe wêreldorde van die Antichris ten prooi val nie, want dan sal ons die ware Christus verloën. Dit is die grootste skade wat ’n mens kán lei.

Watchman Nee 17