Print

Die Bybel se Waarmerk van Egtheid

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Wetenskaplike bewyse is gevind dat die Bybelse teks nie van menslike oorsprong is nie. God het onmiskenbaar sy seël van egtheid daarop geplaas.

Ons leef in ‘n tyd waarin die integriteit van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God deur baie mense bevraagteken word. Verskeie teoloë beweer dat die eerste vyf boeke van die Bybel Joodse volksverhale of mites is wat mondelings oorgedra is, en dus nie histories geloofwaardig is nie. Gebeurtenisse soos die skepping, Noag en die ark, die verwarring by Babel, die deurtog deur die Skelfsee en die Jordaan, die manna en die kwartels, die wolkkolom en die vuurkolom in die woestyn, asook talle ander beskrywings, word as volksverhale en legendes afgemaak.

Hierdie gebeure word dus nie meer as feite en definitiewe optredes en handelinge van God aanvaar nie, en vir alles word daar moderne verklarings aangebied. Die oorsprong van hierdie verhale word gekoppel aan beweringe soos die beperkte kennis en insig van die mense van daardie tyd, asook hulle bygelowigheid. Die beskrywing van Noag en die vloed word bv. afgemaak as ‘n oordrewe weergawe van ‘n lokale oorstroming van die Tigris- en Eufraatriviere, en dat dit maar net vir daardie mense gelyk het asof die ‘hele aarde’ onder water was. Daar word verder aangevoer dat die ark onmoontlik groot genoeg kon wees om al die diere, voëls en insekte te akkommodeer en boonop nog genoeg kos vir so ‘n lang tyd saam te neem nie. Die hele verhaal is vir hulle dus net ‘n mite waaraan geen betroubaarheid gekoppel word nie!

Die probleem is dat baie Christene weerloos teen sulke aanslae op die Bybel is. Evolusioniste en ander mense wat glo dat hulle modern en wetenskaplik dink, skroom nie om die Bybel aan te val en uitmekaar te trek nie. Hierdie mense, asook talle moderne teoloë en ander valse profete, sal veel eerder die mitologie, Boeddhistiese en ander filosofiese geskrifte en fabels aanhang en verdedig, as wat hulle die Bybel letterlik sal opneem. Die Bybel self waarsku teen hulle valse leringe:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet. 2:1-3; eie beklemtoning).

Volmaakte getal

God het aan ons ‘n wapen gegee waarmee ons aanvalle op sy Naam, sy Woord en die werke van sy hande kan beveg en kragteloos maak. Dit is die waarmerk van egtheid wat ons in sy Woord kan sien, asook in die werke van sy hande in die skepping.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na iets waarmee almal van ons vertroud is, nl. die natuur. ‘n Mens kan nie anders as om duidelike wette en patrone of ordes in die natuur op te merk nie. Hierdie wette en ordes is so volkome dat dit onafhanklik kan bestaan, maar ook saam ‘n groot en volmaakte geheel vorm.

Die getal sewe word algemeen in die Bybel gebruik om volmaaktheid en afgehandeldheid mee aan te dui. Die hele skeppingsverhaal strek bv. oor sewe dae. Dit is interessant om ook in die natuur die volgende verskynsels in verband met die getal sewe op te merk:

·         Daar is sewe note in ‘n musiek-oktaaf.

·         Die spektrum van wit lig bestaan uit sewe kleure.

·         Die periodieke tabel wat al die elemente aandui, bestaan uit sewe groepe.

·         Die eiers van verskeie soorte voëls broei in veelvoude van sewe dae uit. Hoender: 3x7=21 dae; kanaries en baie ander soorte: 2x7=14 dae; swaan: 5x7=35 dae; volstruis: 6x7=42 dae... Die lys hou aan en aan, maar die patroon bly dieselfde: veelvoude van 7.

·         By diere word dieselfde patroon herhaal. Muis: 3x7=21 dae; huiskat: 8x7=56 dae; leeu: 14x7=98 dae; skaap: 21x7=147 dae...

·         Die menslike embrio ontwikkel in tien afsonderlike periodes van 28 (4x7) dae vir ‘n totaal van 280 (40x7).

·         Die aarde is 49 (7x7) keer groter as die maan. Sewe vastelande word op die aarde aangetref.

Hierdie raak maar net ‘n paar aspekte aan van hoe God die mens en die natuur met sy volmaakte stempel gemerk het as baie goed (Gen. 1:31).

Ivan Panin

Daar was ‘n Russiese wetenskaplike, dr. Ivan Panin (gebore in 1855) wat ‘n merkwaardige bydrae oor die geloofwaardigheid van die Bybel as die Woord van God gelewer het. Ná lang studies in Duitsland het hy na Amerika verhuis. Hy het onder andere na wysheid en kennis oor die lewe gesoek. Hy het die natuurwetenskappe ondersoek. Ook het hy die geskrifte van die Griekse filosowe, die Romeinse filosowe, die Middeleeuse en moderne filosowe oor die sin van die lewe bestudeer, asook die geskrifte van talle letterkundiges. Hy het ook musiek en die mistiese gelowe van die Ooste ondersoek, maar alles tevergeefs.

Die antwoord op al die vrae in sy gemoed het Panin uiteindelik in die Bybel gevind. Hy het die misterie van die mens se skepping, sy sondeval en die herstel van sy verdorwe natuur deur die wedergeboorte verstaan. Hy het self ook die nuwe lewe deelagtig geword wat die Here deur Jesus Christus aan alle sondaars bied wat soekers na die waarheid is. In hierdie wonderlike God, die enigste ware God wat die hemel en die aarde geskape het, is alle skatte van wysheid en kennis verborge. Elkeen wat na hierdie wysheid soek, sal dit vind (Jak. 1:5)

As ‘n wetenskaplike was dr. Panin baie beïndruk met die absolute wet en orde wat hy in die natuur aangetref het. Hy het ook opgemerk hoedat die stempel van sewe in die natuur afgedruk is. Nadat Ivan Panin sy hart vir die Here gegee het, het hy gewonder of God nie sy unieke stempel van goedkeuring wat Hy op al sy skeppingswerke geplaas het, dalk ook op sy Woord geplaas het nie. Hierdie gedagte het hom gelei na wat heelwaarskynlik een van die mees intensiewe navorsingsprojekte is wat ooit oor die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste van die Bybel onderneem is. Hy het die res van sy lewe hieraan gewy en met die mees verstommende bewyse vorendag gekom.

Numeriese waardes

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar in die betrokke Hebreeuse en Griekse tekste nie van Arabiese syfers (1,2,3...) gebruik gemaak is om getalle voor te stel nie, maar van letters in die alfabet. Om dit te kan doen, is ‘n numeriese waarde aan elke letter van die alfabet toegeken. Die letterwaardes in die Hebreeuse alfabet verskil van dié in die Griekse alfabet. Dit beteken dus dat elke woord, hetsy in Hebreeus of Grieks, noodwendig ook sy eie numeriese waarde het.

Panin het onder andere gevind dat indien jy enige gedeelte in die Bybel neem wat ‘n eenheid vorm, bv. ‘n paragraaf, die getal sewe in verskillende vorms en veelvoude daarin voorkom. Die gebruik van die getal sewe neem ook ‘n verskeidenheid patrone aan, waaronder die volgende die belangrikste is:

·       Die aantal woorde (Hebreeus of Grieks) in ‘n paragraaf is ‘n faktor van 7.

·       Die aantal unieke woorde is deelbaar deur 7.

·       Die aantal naamwoorde is deelbaar deur 7.

·       Die woorde wat met ‘n klinker begin is deelbaar deur 7.

·       Die aantal woorde wat met ‘n konsonant begin, is ook deur 7 deelbaar.

·       Die aantal letters in al die woorde is deelbaar deur 7.

·       Die totale aantal klinkers is ‘n faktor van 7.

Hierdie is die sewe algemeenste patrone wat in die oorspronklike teks se getalswaardes voorkom. Sommige gedeeltes het meer verskynsels as ander, terwyl sekere eienskappe in baie gedeeltes herhaal word.

Kom ons neem ‘n spesifieke geval. Génesis 1:1 bestaan uit 7 Hebreeuse woorde, en dié 7 woorde bestaan uit 28 (4x7) letters. Die eerste 3 Hebreeuse woorde bevat die onderwerp en bestaan uit 14 (2x7) letters. Die onderwerp en werkwoord, as dit vertaal word, lui soos volg: “In die begin het God geskape”. Die laaste vier woorde bevat die voorwerp wat, as dit vertaal word, lui: “die hemel en die aarde”, en bestaan uit 14 (2x7) letters. Hierdie voorwerp kan verder in twee afsonderlike voorwerpe ingedeel word, nl. “die hemel” en “die aarde”. Elke voorwerp bestaan uit 7 letters. Die kortste woord kom in die middel van die sin voor. Die aantal letters van hierdie woord en die een net links daarvan is 7. Die aantal letters van die kortste woord en die een net regs daarvan, is ook 7.

In Mattheus 1:1-11 is die verhaal van die geboorte van Christus. In Grieks is daar 49 (7x7) unieke woorde in dié gedeelte. Van hierdie 49 woorde begin 28 (4x7) met ‘n klinker en die oorblywende 21 (3x7) met ‘n konsonant. Die 49 woorde bestaan saam uit 266 (38x7) letters waarvan 140 (20x7) klinkers is en 126 (18x7) konsonante. Van die 49 woorde kom 35 (5x7) meer as een keer voor en 14 (2x7) net een keer. Die aantal woorde wat in meer as een verbuiging voorkom is 7, terwyl 42 (6x7) woorde net in een vorm gebruik word. Daar is 42 (6x7) naamwoorde en 7 ander woorde. Van die 42 naamwoorde is daar 35 (5x7) persoonlike naamwoorde, terwyl die oorblywende 7 algemene naamwoorde is. Van die 35 persoonlike naamwoorde is daar 28 (4x7) name van die manlike geslagsregister van Jesus en 7 ander name.

Die lys van sewevoudige patrone in die grondteks van die Bybel gaan aan en aan. Dit lewer sterk getuienis van die goddelike inspirasie daarvan. Dit sou ‘n onmoontlike taak vir verskillende outeurs wees om oor ‘n tydperk van duisende jare ‘n uitgebreide en omvattende teks te skep waarvan die inhoud sin maak, in volkome harmonie is, en ook nog al hierdie en talle ander numeriese patrone bevat. Daar is buiten die Bybelse boeke nog nooit enige boek of manuskrip in die wêreld gekry wat dieselfde kenmerke vertoon nie.

Die Bybel is die Woord van God! Dit berus onteenseglik op ‘n unieke, verbale inspirasie deur God self. Petrus sê dat heilige mense van God deur die Heilige Gees gedrywe of meegesleur is [Gr. pheromenoi] toe hulle God se Woord geskryf het (2 Pet. 1:21). Lukas het dieselfde woord gebruik om na ‘n skip te verwys wat deur die wind meegesleur is en sodoende weggedryf het (Hand. 27:15, 17). Die goddelike outeurskap van die Bybel word sodoende duidelik verklaar. Paulus bevestig ook die oorsprong van die Woord wanneer hy sê: "Die hele Skrif is deur God ingegee" [theopneustos, wat geïnspireer beteken] (2 Tim. 3:16). Die Bybel bevat dus nie die tydgebonde en beperkte sienswyses van mense nie, maar die woorde, opdragte en beloftes van God.

Die Here bevestig sy Woord deur dit waar te maak en in volle vervulling te laat gaan. Jesus het gesê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Luk. 21:33; 1 Pet. 1:25). Jy kan hierop reken!

Watchman Nee 17