Print

Kenmerke van ‘n Gemeente

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die basiese roeping, eienskappe en kenmerke van 'n ware gemeente van Christus.

Ons leef in ‘n tyd van ongekende misleiding, veral op godsdienstige gebied. Die duiwel span al sy misleidingskrag in om Jesus Christus se dissipels van die suiwer Bybelse leer afvallig te maak, hulle ywer te laat verflou, hulle met nietige dinge besig te hou wat geen ewigheidswaarde het nie, en hulle ook in morele sondes te laat verval. Sodoende verswak en ondermyn hy die kerk van Christus waarteen hy veg en behaal in die proses groot oorwinnings.

Dit is nodig dat alle kinders van die Here in ‘n tyd soos hierdie opnuut sal opleef na die hoë roeping van God in Christus Jesus. Ons is geroepe heiliges wat onsself opnuut van elke besoedeling van die vlees en die gees moet reinig, en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Ons moet die eie-ek in ons lewe kruisig, en ook sorg dat hy gekruisig blý. Dit is die Here se voorwaarde vir ware dissipelskap en die doeltreffende funksionering van sy kerk op aarde (Luk. 9:23).

Ongelukkig leef baie mense met hul ongekruisigde, ou natuur saam. Hulle kom nêrens in hulle geestelike lewe nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Dit is ‘n sinnelose oefening om die Here in die krag van die vlees te probeer dien. Daar is selfs baie predikante wat dit probeer doen, maar hulle werk het geen geestelike diepte nie. Lidmate kom gedurig in aanraking (soms in botsing) met hierdie leraars se ongekruisigde vlees en is dan diep teleurgesteld in hulle.

As ons welgevallig in God se oë wil wees, moet ons elke dag wandel deur die Gees, dan sal ons nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie (Gal. 5:16). Om dit te kan doen, verg ‘n lewe van selfverloëning, diepe afhanklikheid van die leiding van die Heilige Gees, en die bereidwilligheid om die Here se wil in alle sake te soek en ook te doen.

Dit is belangrik om die opdrag, funksies en kenmerke van 'n ware Christelike gemeente goed te begryp indien ons wil seker maak dat dit tot eer van die Here en tot opbouing van sy lidmate reg funksioneer.

Roeping, identiteit en plig van die gemeente:

·       Dit is gebou op die Rots Jesus Christus (Matt. 16:18).

·       Dit bestaan net uit geredde mense (Hand. 2:47).

·       Dit kan in sy kleinste vorm as ‘n huiskerk bestaan (Filemon v. 2).

·       Ouderlinge en diakens word ter wille van toesig, pastorale werk en ander dienste aangestel. Hulle is nie heersers oor die gemeente nie, maar voorbeelde vir die kudde. Hulle staan onder die gesag van die gemeente se Hoof, naamlik Christus (Hand. 14:23; 1 Pet. 5:2-4; 1 Tim. 5:17; 1 Tim. 3:1-5, 8; Hand. 20:28-30).

·       Gemeentevergaderings moet belê word om verslag oor belangrike sake te doen, en ook besluite oor buitengewone aangeleenthede te neem (Hand. 14:27 en 15:22). Die Heilige Gees se leiding moet baie duidelik oor alle besluite afgebid word.

·       Die gemeente se geloof moet opgebou word en dit moet groei (Hand. 16:5).

·       Die gemeente moet deur ordelikheid en heiligheid gekenmerk word (1 Kor. 14:33; Ef. 5:25-27).

·       Christus is die Hoof van die gemeente (Ef. 1:22), en sy posisie mag nie deur menslike gesagspersone ingeneem word nie.

·       Die gemeente funksioneer soos ‘n liggaam waarvan die lede verskillende maar aanvullende funksies het (1 Kor. 12:26-28; Rom. 12:5-8).

·       Gebed is een van die sentrale funksies van die gemeente (Hand. 12:5; Mark. 11:17).

·       Twiste tussen broeders moet binne die gemeente opgelos word (1 Kor. 6:4).

·       Byeenkomste moet getrou bygewoon word (Heb. 10:25).

·       Die gemeente van Christus is aan vervolging in die wêreld blootgestel (Hand. 8:1, 4; Joh. 15:19-20 en 16:33).

·       Deur sy Gees onderrig die Here die gemeente (Op. 2:7). Hy kan enigeen bekwaam maak om boodskappe te bring (1 Kor. 12:7-8; Ef. 4:11), en hierdie beginsel maak nie vir die posisie van ‘n menslik geordende leraar voorsiening wat alleen mag preek nie.

Die volgende sewe eienskappe is kenmerkend van die ware kerk van Jesus Christus, en moet almal behoorlik funksioneer indien die gemeente ernstig is om sy roeping te vervul:

1. Die Uitgeroepenes

Die Nuwe Testamentiese term vir die kerk of gemeente van Christus is die ekklésia – dit beteken letterlik die uitgeroepenes. Dit is diegene wat uit die duisternis van sonde en verlorenheid uitgeroep is en oorgekom het tot die wonderbare lig van Christus (1 Pet. 2:9). Deur ‘n geestelike wedergeboorte het die Here van hulle nuwe mense gemaak (Joh. 3:3). Die ware kerk van Christus bestaan dus slegs uit weergebore Christene. Hulle moet van veranderde lewens kan getuig, anders kwalifiseer hulle nie om lede van die gemeente van Christus genoem te word nie. Die toepassing van hierdie beginsel vir lidmaatskap blyk duidelik uit Handelinge 2:47: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” ‘n Mens móét eers teenoor die Here Jesus jou sondes bely (1 Joh. 1:9) en jou geloof in Hom as Verlosser stel (Hand. 16:31) sodat Hy jou geestelik kan lewend maak (Joh. 5:24). Dán eers behoort jy aan Hom.

So baie mense doen nooit ‘n eerlike sondebelydenis nie en kom dus nie werklik tot bekering nie. Hulle sluit in hulle ongeredde toestand by Christelike gemeentes aan, maar uit ‘n Bybelse oogpunt behoort hulle nie aan die gemeente van Christus nie. Hulle is vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5; Titus 1:16; Op. 3:1). Die Here sal hierdie vormgodsdienstiges eendag wegwys, al het hulle ook aan “kerke” behoort en selfs in sy Naam gepreek (Matt. 7:21-23). Hulle is nie gereinig deur die bloed van die Lam nie.

As gevolg hiervan het die begrippe “Christendom” en “Christelike kerk” reeds aansienlik afgewater geraak omdat dit ‘n versameling van geredde én ongeredde mense verteenwoordig. Dit is diegene wat deur die doop en belydenis van geloof hulle lidmaatskap verkry het, ongeag of hulle ‘n getuienis van wedergeboorte het of nie. Die ware kerk van Christus sluit slegs die weergebore Christene in. Daar word ook na hulle as evangeliese Christene, as ware Christene of (veral in die VSA) as fundamentaliste verwys om hulle van die groot groep ongeredde naamchristene te onderskei.

‘n Persoon wat gered is, is ‘n lid van die gemeente van Christus, ongeag of hy/sy by ‘n denominasie (“kerk”) aangesluit het of nie. Om as Christen jou roeping te vervul om ‘n getuie vir Christus te wees, is dit vanselfsprekend dat jy jou by ander Christene sal voeg om die Here meer effektief te kan dien. Dit is terselfdertyd ‘n uitdrukking van die noue band van liefde wat tussen lede moet bestaan (Joh. 13:35). Gemeentelede noem mekaar ‘broer’ en ‘suster’ omdat hulle met dieselfde Gees deurdronge is en dieselfde hemelse Vader het. Hulle leef deur die geloof en het dieselfde eindbestemming in die nuwe Jerusalem.

2. Tempel van die Heilige Gees

Die gemeente van Christus het die opdrag om heilige, Geesvervulde lewens te lei: “…dit is die wil van God: julle heiligmaking… hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 8). “Soos Hy wat julle groep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15).

Lede van die gemeente van Christus moet begryp dat die Heilige Gees nie net uitgestort is om hulle te oortuig van sonde en te wederbaar nie – hulle is ook geroepe om ‘n tempel van die Heilige Gees te wees sodat hule God verheerlikende lewens kan lei (1 Kor. 6:19-20). Die Heilige Gees wil hulle vervul sodat hulle in die eerste plek oorwinnend oor sonde, versoekings en die vlees kan leef (Gal. 5:16), en in die tweede plek diensbaar gemaak kan word in die koninkryk van die hemel (Hand. 1:8).

Wat die aspek van diensbaarheid betref, om getuies vir Christus te wees, word die gemeente as ‘n kandelaar beskryf (Op. 1:20). In hierdie kandelaar word die olie van Heilige Gees gegiet sodat die gemeente (en ook elke individuele lidmaat) ‘n helder skynende lig in ‘n donker wêreld kan wees.

Baie gemeentelede besef ongelukkig nie hulle opdrag om met die Gees vervul te word en heilig te leef nie (Ef. 5:18). Sommiges leef só vleeslik en onder die heerskappy van sonde dat hulle glad nie as “geestelike mense” beskryf kan word nie. Hulle vleeslikheid manifesteer in gesindhede soos twis, jaloersheid en tweedrag, en dit ondermyn die gemeente van Christus totaal (1 Kor. 3:1-3). Sulke vleeslike lidmate wat in sonde leef, moet ernstig gewaarsku word: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:16-17).

Ontledig jouself voor die Here en gee jouself oor om vir die eerste keer, of by hernuwing, met die Heilige Gees vervul te word. Hy sal jou krag gee om teen versoekings te oorwin en ook om ‘n getuie vir Christus te wees. Hy sal jou in die hele waarheid lei (Joh. 16:13) en ook aan jou ‘n bepaalde gawe (of gawes) gee om die Here te kan dien (Rom. 12:6).Here

3. Die Liggaam van Christus

Deur die wedergeboorte word ons in die liggaam van Christus ingedoop: “Ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:13). Soos ‘n liggaam ‘n organiese eenheid is waarin die verskillende lede mekaar aanvul, is dit ook die geval met die liggaam van Christus. Die lede funksioneer aanvullend tot mekaar:

“Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (Rom. 12:4-6). [Vir ‘n uiteensetting van die verskeidenheid funksies van die lede, kyk ook Rom. 12:7-8 en 1 Kor. 12:12-31].

Saam met ander lede kan jy jou talente en gawes op ‘n aanvullende wyse tot die uitbreiding van God se koninkryk aanwend: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10). Die plaaslike gemeente moet teen passiwiteit en onvrugbaarheid waak en daarna streef om ‘n volwaardige weerspieëling en verteenwoordiger van die korporatiewe liggaam van Christus te wees.

Beoefen u taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees omdat ons die Here nie deur die krag van die vlees kan behaag nie. Die loot moet ín die wingerdstok bly as dit veel vrug wil dra. Die outoriteit van u geestelike roeping is net in Christus gesetel, en die Heilige Gees bekragtig u om dit uit te voer. U staan op oorwinningsgrond wanneer u u roeping deur die krag en genade van Jesus Christus beoefen. Hy is ons Hoof – die een wat ons roep, toerus, lei én uitstuur:

“…die Vader van die heerlikheid… het Christus… as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:17-23).

4. Klein kuddetjie

Die Here Jesus verduidelik die roeping en bekragtiging van sy volgelinge ook só: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Luk. 12:32).

In hierdie analogie is Christus se volgelinge ‘n kudde skape wat deur die Goeie Herder gelei en versorg word. Hulle is diep afhanklik van Hom om hulle na groen weivelde te lei, te beskerm en deur elke gevaarlike situasie te lei (Ps. 23:2-4). Die Herder ken sy skape, voorsien in hulle behoeftes, en weet om hulle uit alle benoudheid te lei: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken… en Ek lê my lewe af vir die skape” (Joh. 10: 14-15).

Die Opperherder het ook opsieners aangestel om verantwoordelikheid te neem met die versorging van elkeen van sy kuddes op aarde:

“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het”(Hand. 20:28)

Baie herders is so vleeslik en vol van eiebelang dat hulle glad nie hierdie taak met waardigheid vervul nie. Indien hulle dit wél volgens Bybelse riglyne doen, sal die Here aan hulle genadeloon gee. Die selfsugtiges het hulle loon weg:

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4).

5. ‘n Pilaar en grondslag van die waarheid

Die gemeente van die lewende God is “’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15). Dit moet ‘n kenmerk van die gemeente van Christus wees dat dit die Bybelse leer van die saligheid in stand sal hou sodat mense nie in dwalinge verval nie. Die gemeente móét dus ‘n apologetiese (verdedigende) bediening hê waarin die suiwer Christelike leer teen dwaalleringe verdedig word. Goeie onderskeidingsvermoë is hiervoor nodig.

Daar rus ‘n verwantwoordelikheid op die herder om toe te sien dat lidmate oor die sektes ingelig is en in staat is om hulle dwalinge in die lig van die waarheid van die Woord te kan weerlê. Judas sê die volgende oor hierdie taak:

“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip… goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus, verloën” (Jud. 1:3-4).

Die stryd wat ons vir die waarheid stry, sluit ook die aspek van Bybelvertalings in. Baie van die dwalinge word deur verkeerde vertalings bevorder.

6. Dissipels van Christus

Alle gemeentelede moet daarna streef om aan die standaard van dissipels van Christus te voldoen. Die Here Jesus het sy dissipels geroep, onderrig, toegerus én uitgestuur.

Roeping: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Matt. 4:19). “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Daar is dus ‘n bepaalde selfverloëning, of kruisiging van die eie-ek, as voorwaarde vir dissipelskap. Iemand wat nie bereid is om dit te doen nie, diskwalifiseer homself as ‘n dissipel (Luk. 14:27).

Onderrigting: Jesus het sy disspels oor ‘n tydperk van drie jaar deeglik onderrig oor die dinge van die koninkryk sodat hulle hierdie kennis weer aan ander kon oordra. Hy het gesê: “…leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). In die proses van voortgesette onderrig speel die Heilige Gees ‘n sleutelrol in alle dissipels se lewens: “…die Trooster, die Heilige Gees… sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle julle gesê het” (Joh. 14:26). Dissipelskapskursusse, bv. hoe om siele te wen, is baie waardevol. Hierdie kennis kan egter deur selfstudie ook opgedoen word.

Geestelike toerusting: “…julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees” (Hand. 1:8). Kennis alleen maak opgeblase (1 Kor. 8:1), daarom móét dit altyd met geestelike insig, genade en die vervulling met die Heilige Gees gepaard gaan (2 Pet. 3:18). Die dissipels is uitdruklik verbied om te begin leer voordat hulle toegerus is met krag uit die hoogte (Luk. 24:49). Voldoen u aan hierdie vereiste?

Sending: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…” (Matt. 28:19). “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). “Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe” (Luk. 10:3). Alle gemeentelede het die opdrag om getuies vir Christus te wees – so ver en wyd as moontlik. Begin by jou huis, by jou werksplek, in jou tuisdorp, en waar jy ook al heen reis. As jy nie self die evangelie effektief kan uitdra nie, ondersteun dan iemand anders om dit te doen. Wees net op een of ander wyse daarby betrokke!

7. Die Bruid van die Lam

Die gemeente is die Bruid van die Lam. Die romantiek van die Christendom word weerspieël deur die groot liefde wat die hemelse Bruidegom vir sy bruid het, en wat ons ook vir Hom moet hê. Daar moet ‘n innige verlange wees om by die bruilof van die Lam met Hom verenig te word. Deur ‘n proses van heiligmaking moet ons voorberei word om op ‘n waardige wyse, sonder vlek of rimpel, voor Hom te verskyn:

“Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:26-27).

Die heiligmaking wat so ‘n noodsaaklike voorbereiding vir ons ontmoeting met die hemelse Bruidegom is, behels twee duidelike aspekte. Die eerste is persoonlike heiligheid. Ons moet nie onrein, sondige gewoontes hê waardeur ons na gees, siel of liggaam besoedel word nie (2 Kor. 7:1; 1 Thess. 5:23-24). Tweedens moet ons werke doen waardeur die Here behaag word, omdat “heiligmaking” ook as “afsondering vir die diens van die Here” vertaal kan word. Daar moet dus bepaalde werke in ons lewe as die vrug van die Heilige Gees wees. Dit verleen terselfdertyd aan ons ‘n bruilofskleed:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8; kyk ook Ps. 45:10-11, 14-16).

Ons redding is toegerekende geregtigheid. By daardie geleentheid word die kleed van geregtigheid aan ons gegee. Heiligmaking is meewerkende geregtigheid, wat beteken dat ons medewerkers van God in Christus Jesus word. Wat dié saak betref, moet ons die Bybelse genademiddels soos gebed, getuienis, selfbeheersing, getrouheid en diensbaarheid gebruik en aktief saamwerk om ons heiligmaking te laat realiseer.

Hierdie twee genadewerke word duidelik in 1 Kor. 3:9-15 van mekaar onderskei. Redding is die fondament (Christus) waarop ons lewens oorgebou word (v. 11). Heiligmaking is die werke wat ons op dié fondament bou (v. 12-15). As jy met hout, hooi en stoppels bou, m.a.w. verganklike dinge, sal jy met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen. As jy met goud, silwer en kosbare stene op die rots Jesus Christus bou, sal jy loon ontvang. Terselfdertyd sal hierdie werke, wat die regverdige dade van die heiliges is, jou bruilofskleed versier:

“Die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei” (Ps. 45:10, 14-15).

Hierna sal ons altyd by die Here wees en saam met hom in sy koninkryk regeer. Bly net getrou in hierdie tyd van groot afvalligheid: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).

Richard Baxter 07