Print

Die Vrou in die Gemeente

Written by Prof Johan Malan.

Die rol van die vrou in die gemeente is in beginsel ooreenstemmend met haar sosiale posisie in die gesin: in beide gevalle het die Here die man as hoof oor haar aangestel. Hierdie reëling bevat geen element van diskriminasie teen die vrou nie, maar is getref om die godgegewe natuur, emosionele ingesteldheid en pligte van beide geslagte op die beste moontlike manier tot hulle reg en onbelemmerde ontplooiing te laat kom.

Die Here het ‘n verhewe doel met die gesin as die basiese bousteen van die samelewing. Die verhouding tussen ‘n man en vrou in gesinsverband word met die liefdesverhouding tussen Christus en die gemeente vergelyk (Ef. 5:25-33). Christus het Homself in liefde oorgegee om die gemeente by die bruilof van die Lam in heerlikheid, sonder vlek of rimpel, voor Hom te stel. Net so ook moet die man ‘n atmosfeer van ongeveinsde liefde in die gesin skep, waarin hy só vir sy vrou en kinders omgee dat hy homself sal oorgee om hulle tot volmaakte selfverwesenliking in die lewe te laat kom.

Benewens die verpligting tot wedersydse liefde en respek in die gesin is daar ook die verantwoordelikheid van gesagshandhawing. Dit het die Here aan die man opgedra: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (Ef. 5:22-23). Die man het dus gedelegeerde gesag wat van die Here af kom, gevolglik is hy aan Christelike beginsels van gesagsbeoefening gebonde: “Ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus" (1 Kor. 11:3).

God het die onbetwiste oppergesag in die heelal. Dit is sy wil dat menslike samelewings ordelik sal bestaan, daarom het Hy gesinne, gemeentes en regerings met gesag beklee: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, word deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan” (Rom. 13:1-2).

Die groot belangrikheid van gesagshandhawing in die samelewing spruit uit die feit dat daar twee opponerende koninkryke is: die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Satan se ryk word volgens Jakobus 3:16 met afguns, selfsug, wanorde en allerhande gemene dade verbind. As gevolg van die sondeval leef alle ongeredde mense in ‘n toestand van sonde, wanorde en rebellie teenoor God. Onder omstandighede soos dié is dit te begrype waarom die Here aan regerings die reg gee om wetteloosheid en wanordelikheid te straf (Rom. 13:4).

Dieselfde verantwoordelikheid vir gesagshandhawing en straf is ook in gesinsverband aan mans verleen, omdat hulle kinders in sonde gebore word en van kleins af moet leer om gesag te aanvaar deur die besluite van hulle ouers “in die Here” te eerbiedig (Ef. 6:1). Hiersonder sal daar wanorde in die gesin heers, en die Here sal die man daarvoor aanspreeklik hou. Die taak van die vrou is hoofsaaklik op die terreine van liefdevolle versorging en opvoeding geleë. Sy kán kinders dissiplineer en straf, maar steeds binne die breër raamwerk van die man se gesagsposisie.

Daar is dus ‘n duidelike rolverdeling tussen ‘n man en ‘n vrou in die gesin. Die man is fisies sterker omdat hy orde moet handhaaf, vyandige aanvalle teen weerlose gesinslede afweer, en in die sweet van sy aangesig brood verdien om vir sy gesin te kan sorg. Dit behels soms harde en fisies veeleisende werk. Hy is ook emosioneel só ingestel dat hy gesag kan handhaaf en ernstige krisisse sonder huiwering kan hanteer.

Die vrou, daarenteen, is fisies swakker, emosioneel fynbesnaard, en kom die beste tot haar reg as sy binne ‘n geborge omgewing leef wat deur die man geskep is. Hy moet die verantwoordelikheid vir die sekuriteit en voortbestaan van die gesin dra, terwyl sy vir die daaglikse versorging, bemoediging en opvoeding van die gesin moet instaan, en ook deur haar sin vir die estetiese ‘n mooi en aangename leefruimte skep. Haar vroulikheid moenie ondermyn word deur haar met take te belas wat deur die man uitgevoer moet word nie. Mans moet begrip vir hierdie rolverdeling hê, en hulle vrouens ondersteun en liefhê. Indien hulle dit nie doen nie, oortree hulle self God se reëls en kan as ongehoorsames nie verwag dat Hy hulle gebede sal vehoor nie: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys… sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Pet. 3:7).

Die Here verwag van die vrou liefde en onderdanigheid teenoor haar man: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente" (Ef. 5:22-23; vgl. Kol. 3:18, Titus 2:5 en 1 Pet. 3:1). In Bybelse tye is kultureel bepaalde gebruike soos lang hare en die dra van hoofbedekkings as uiterlike simbole aanvaar dat vrouens hulle mans se gesag aanvaar (1 Kor. 11:3-15). Deur die eeue heen het die kleredrag en haarstyle van sowel mans as vrouens egter verander, maar die Bybelse beginsel van die man se gesagsposisie in die gesin en gemeente bly onveranderd. Die moderne vrou is dus steeds aan hierdie beginsel gebonde, maar sy moet dit deur haar houding te kenne gee en nie noodwendig deur eerste eeuse kulturele gebruike nie.

Die man en vrou vervul aanvullende rolle, daarom moet elkeen vir sy eie bydrae geëer en erken word. Daar is nie sprake van meerderwaardigheid en minderwaardigheid nie. Hoewel daar biologiese en emosionele verskille is wat met hulle onderskeie rolle in verband staan, is daar, met die inagneming van variasies in persoonlike begaafdhede, nie intellektuele verskille tussen mans en vrouens nie. Trouens, dit is ‘n erkende vroulike rol in die gesin om opvoeding te gee en kennis aan die opkomende geslag oor te dra.

Wanneer ‘n vrou buite gesinsverband in die samelewing ‘n bepaalde rol vervul, moet dit steeds met die volle inagneming van haar roeping en persoonlike begaafdhede as vrou wees. Daar moenie van haar verwag word om oor mans te regeer nie – sy kan net gesag oor ander vrouens en kinders uioefen. Daar móét egter vir haar ruimte geskep word om haar talente te gebruik en haar kundigheid tot ander se voordeel te beoefen. In die gemeente kan sy verskeie take beoefen m.b.t. tot Sondagskool, vrouediens, bidure, Bybelstudie, volwasse-onderrig, spyseniering, onthale, ens. Sy mag egter beslis nie op die kerkraad dien en vir die hele gemeente preek nie. Waarom nie?

Die enigste rede waarom vroue by kerkrade en die prediking uitgesluit word, is weens die handhawing van gesag wat daarby betrokke is. In ‘n gemeente gaan dit nie net oor die oordra van kennis uit die Bybel nie, want dit kan vrouens net so goed doen, maar dit gaan oor waarskuwings aan onordelikes, en vermanings aan dwalendes wat nie die gesag van die Woord wil eerbiedig nie. Wanneer lidmate hulleself nie aan Bybelse riglyne wil onderwerp en hulle gedrag en sienings daarby aanpas nie, moet daar dissiplinêr teen hulle opgetree word. Dit is ‘n inherente deel van woordverkondiging in die gemeente.

Paulus sê vir Timótheus: “Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees… Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (1 Tim. 5:20; 2 Tim. 4:2). Titus kry ook die opdrag om in alle erns te bestraf en te vermaan (Titus 2:15). Paulus sê dat hy vir die verdediging van die waarheid bestem is (Fil. 1:17). Hy moet dus ook apologeties preek en met die gesag wat die Here aan hom verleen het, kragtig stry vir die ware geloof (vgl. Judas 1:3).

Gesagsfunksies van hierdie aard het die Here in die hande van mans geplaas, daarom mag net ouderlinge wat ook aan die geestelike kriteria voldoen, preek en oor die gemeente regeer. “’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig… een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” (1 Tim. 3:2-5; vgl. Titus 1:6). Dieselfde reëls geld vir diakens: “Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer” (1 Tim. 3:12).

Daar word geen ruimte hoegenaamd gemaak dat vrouens as ouderlinge of diakens aangestel kan word nie, omdat dit in botsing met hulle rol in die gesin en samelewing is. Paulus sê: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou” (1 Tim. 2:12; vgl. 1 Kor. 14:34). Die woord wat hierdie vir “stil” gebruik word (Gr. hesychia) beteken nie dat sy hoegenaamd niks mag sê nie, maar dat sy rustig, onderworpe en leerbaar moet wees (vgl. Hand. 22:2 en 2 Thess. 3:12 waar hierdie woord ook gebruik word).

Wat sal van ‘n vrou word as sy haar in die harde wêreld van ‘n man begewe en haarself sodoende buite God se gesagstruktuur probeer handhaaf? Sy sal haar vroulikheid heeltemal inboet en emosioneel knak onder die lading van verantwoordelikhede waarvoor sy nie geroepe en toegerus is nie. Sy sal óf in depressie óf in arrogansie verval. Met haar sal gebeur wat ook met mans gebeur wat nie hulle gesag binne die raamwerk van God se oppergesag beoefen nie. Só ‘n situasie lei óf tot gesagsmisbruik (outokratiese optrede en onderdrukking) óf tot gesagloosheid (anargie en bandeloosheid).

Wanneer gesag op die regte, Bybelse manier deur Geesvervulde mans beoefen word, dan word die welsyn en geestelike groei van die gemeente bevorder, en daar word ook teen valse lerings gewaak. Indien die ouderlinge egter nie nougeset in die lig van God se Woord wandel nie, dan kan hulle geestelik self begin dwaal en sal ander ouderlinge hulle moet vermaan en bestraf. Aan die ouderlinge in Ėfese het Paulus gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:28-30).

Geestelike afvalligheid kan soms drastiese optrede vereis. Paulus sê vir Timótheus dat hy aan “die geloof en ‘n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himenéus en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie” (1 Tim. 1:19-20). Mense wat nie God se gesag wil eerbiedig nie, kies self vir hulle ‘n ander meester, Satan, die groot rebel. Dit is ook die ouderlinge se taak om afvalliges te vermaan en te dissiplineer.

Uit die aard van die saak kan vroue nie by die beoefening van die kerkraad se funksies betrek word nie, omdat dit gesagsbeoefening en dissiplinering insluit. Hulle kan slegs by kerkraadsvergaderings gekoöpteer word om getuienis oor ‘n saak te lewer en hulle besonderde kundigheid en insig oor een of ander onderwerp te deel. Die kerkraad moet egter nie deur vrouens gemanipuleer word nie.

Daar word soms verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat vroue in Bybelse tye as diakonesse aangestel is, en as gevolg daarvan die implisiete reg het om ook hoër in die hiërargie van die gemeentebestuur te vorder, sodat hulle ook ouderlinge en leraars kan word. Hierdie aanname word na aanleiding van Fébe in Romeine 16:1-2 gemaak. Die 1933/53 vertaling van Die Bybel sê dat sy ‘n dienares van die gemeente was, maar die Nuwe Vertaling sê dat sy ‘n diaken (Gr. diakonia) was.

Die woord diakonia wat hier gebruik is, beteken ‘n dienaar of dienskneg. In Romeine 15:8 staan daar Jesus Christus ‘n dienaar (diakonos) van die besnydenis geword het, en in 1 Korinthiërs 3:5 word Paulus en Apollos dienaars (diakonos) van die gelowiges genoem. Hulle was beslis nie diakens in gemeenteverband, soos wat die term later vir hierdie amp gebruik is nie. Om dieselfdde rede was Fébe net ‘n dienares en nie ‘n diaken op die kerkraad nie. Soos reeds aangetoon, moet ‘n gekose diaken op die kerkraad, soos ‘n ouderling, ‘n man van een vrou wees wat sy eie huis goed regeer – nie ‘n vrou van een man nie!

In Bybelse tye het verskeie dienaresse uiters waardevolle werk in die gemeentes gedoen, sonder om hulleself op die terrein van die man te begewe. Priscilla word in Romeine 16:3 ‘n medewerkster van Paulus genoem, en volgens 1 Korinthiërs 16:19 het sy ‘n gemeente in haar huis gehad waar gelowiges bymekaargekom het. Van Lidia, die purperverkoopster, lees ons dat sy tot bekering gekom het en vir Paulus en sy reisgenote gedwing het om by haar tuis te gaan (Hand. 16:14,15,40). Timótheus word ook gelukkig geag omdat sy ouma, Loïs, en sy ma, Eunice, sulke gelowige vroue was wat die krediet vir sy geestelike vorming gekry het.

In die gemeente van God moet orde ooreenkomstig die riglyne van sy Woord gehou word. Mans, vrouens en kinders moet hulle toegewese rolle vervul sonder om buite daardie perke te beweeg. In die aanstelling van kerkraadslede moet die mees bekwame en geestelik beproefde persone verkies word, soos wat hulle hulself in die samelewing onderskei het. Ons lees die volgende oor die kiesing van diakens in die vroeë kerk: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel” (Hand. 6:3).

Wat die vrouens betref, moet hulle ook met die volle inagneming van hulle bekwaamhede en standaard van geestelikheid met bepaalde take toevertrou word. Die toesig oor en opvoeding van kinders en jongmense is veral geskik vir hulle. Gekoördineerde vroueaksies is baie nodig in gemeentes, en dit sluit Bybelstudies en bidure in. Vrouens kan ook vir gemengde groepe volwassenes en kinders Bybelstudie aanbied indien hulle hulself op dié terrein onderskei het, want dit neem nie die vorm van ‘n erediens aan waarin standpunte namens die gemeente geneem en rigied op lidmate van toepassing gemaak word nie. Indien onsekerheid oor sake van ‘n leerstellige aard sou opduik, moet sy dit met haar man uitklaar, wat dit op sy beurt na die kerkraad kan neem, indien nodig. Die Here wil elke persoon in die gemeente binne die verband van sy of haar posisie en roeping, toerus dat hy of sy volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16-17).

Andrew Murray 32