Print

Verskillende Soorte Liefde

Ek het die volgende vraag ontvang oor basiese kenmerke van die Christelike geloof:

Vraag: “Ek wil graag meer duidelikheid oor die volgende stelling hê: Die Moslems se beoefening van hulle geloof bestaan meer uit dissipline terwyl die Christendom s’n meer uit liefde bestaan. Die vraag is: As ons die integriteit van die Christelike geloof teenoor Islam wil meet, hoe kan ons sien dat die Christendom die waarheid besit wat Islam nie het nie? Ek weet Jesus Christus is een voorbeeld, maar ek sou graag meer wou weet ten opsigte van dit wat in die mens van vandag se lewe aangaan. Is daar ‘n sekere wonder wat Christene in hulle lewe besit wat Moslems nooit sal hê nie? Het die Here Jesus sekere beloftes aan sy dissipels gemaak wat vir niemand anders geld nie (ek verwys nie hier na die eindtyd nie). Neem die Here se Gees jou liggaam oor en laat jou dinge sien wat ander nie kan nie, of glo mens maar net historiese gebeure wat jy nooit met jou eie oë gesien het nie? Wat gee daardie goddelike krag aan Christene vandag wat geen nie-Christen ooit sal besit of ervaar nie? As jy liefde gaan sê, definieer dit asb., want almal het liefde (Kevin).”

 

Antwoord: Daar is basies twee soorte liefde wat in die wêreld aangetref word, naamlik ‘n natuurlike liefde en ‘n goddelike liefde. Dit is noodsaaklik om ‘n duidelike onderskeid tussen hierdie twee soorte liefdes te tref, want benewens sekere ooreenkomste is daar ook belangrike verskille tussen hulle. Wanneer ons hierdie verskille ondersoek, moet ons ook kyk hoe hanteer mense liefdeloosheid, wat die neiging tot die kwade is.

Natuurlike liefde

Die natuurlike liefde is ‘n eienskap wat deur alle mense gedeel word omdat hulle daarmee gebore word. Hierdie liefde kan verskillende vorms aanneem, afhangende van watter verhouding daar tussen mense bestaan, bv. tussen ‘n man en ‘n vrou, tussen ouers en hul kinders, tussen familielede, tussen volksgenote, ens. In ‘n meer algemene sin kan natuurlike liefde as “humanisme” beskryf word – dit is ‘n gesindheid waarin die menswaardigheid van alle mense erken word, en dit lei dikwels na humanitêre aksies om hulp te verleen in gevalle waar mense swaarkry of wanneer hulle basiese menseregte nie erken word nie.

Daar is verskeie humanitêre of liefdadigheidsorganisasies wat daarop ingestel is om liefde en meegevoel te betoon aan mense wat in nood is. Voorbeelde hiervan is die Tafelronde, die Rotariërs en die Rooi Kruis. Die meeste regerings het ook programme vir noodleniging en welsynswerk. Hierdeur word ‘n morele plig erken om goed te doen aan diegene wat minderbevoorreg is of slagoffers van rampe is.

Die neiging tot kwaad

Ongelukkig is liefde nie die enigste morele ingesteldheid waarmee die mens gebore word nie. Alle mense het ook sekere negatiewe neigings in hulle karakter, soos bv. selfsugtigheid, magsug, begeerlikheid, haat en wraaksugtigheid. Die groot uitdaging is daarin geleë om die neiging tot die goeie uit te bou en die neiging tot die kwaad te onderdruk. Mense wat daarin slaag om positiewe eienskappe soos liefde en mededeelsaamheid te laat seëvier, word goeie mense genoem, terwyl diegene wat gedurig tot die kwade geneig is en aanhoudend daaraan toegee, slegte mense genoem word. Baie van hulle beland in die tronk, omdat die samelewing dit meesal nie aanvaar dat bose dade tot die nadeel van ander mense gepleeg word nie.

Daar is ’n mengsel van goedheid en boosheid in alle mense, daarom sal die natuurlike, ongeredde mense nie nét liefde kan betoon en goeie werke doen nie (vgl. 1 Kor. 2:14). Almal van hulle het ook ‘n donker kant in hulle lewe, al steek hulle dit ook hoe goed weg. Gesindhede van selfliefde en liefde vir verkeerde dinge soos rykdom, mag, hoerery, dronkenskap en oneerlikheid is deel van die gevalle mens se karakter. Selfs al onderdruk hy dit tot ‘n mate, bly dit inherent deel van hom en kan hy homself nie heeltemal daarvan losmaak nie. Ons kan dus nie almal wat goed doen en liefde betoon, salig spreek nie, want ons weet nie altyd wat die aard van hulle ander karaktertrekke en morele oortuigings is nie.

Die rol van godsdiens

Die verskillende godsdienste is elkeen op sy eie manier besig om die goeie in mense uit te bou en die kwade te weerstaan. Hulle brei die konsep van goed en kwaad verder uit deur nog meer reëls by te voeg by dit wat volgens hulle as reg en verkeerd beskou word. In ‘n sekere sin is alle gelowe by die beklemtoning van liefde betrokke, omdat hulle wil hê dat almal geluk moet vind en in vrede moet saamleef.

Verskillende vorms van straf word in alle godsdienste voorgehou aan diegene wat sleg is en nie vir die goeie wil lewe nie. Sommige gelowe is meer militant as ander en gaan selfs tot militêre stappe oor om hulle god se straf op oortreders toe te pas, soos bv. om “heilige oorloë” teen hulle opponente te voer. In die Koran (Sura 5:51,54 en Sura 9:5) word almal wat nie vir Allah as die enigste God en vir Mohammed as sy profeet erken nie, as afgodsdienaars getipeer. Hulle verwerp dus ook die Christene en Jode.

Die meeste humaniste wat ywerig in goeie werke is, verwerp egter alle godsdienste óf beskou hulle almal as gelykwaardig. Vir hulle is die mens inherent goed en het hy nie regtig godsdiens nodig nie.

Die uniekheid van die Christelike geloof

Die Christelike geloof is uniek en kan in verskeie opsigte van die nie-Christelike gelowe onderskei word. Die ware, Drie-enige God is die God van liefde (1 Joh. 4:8). Sy agape-liefde is ver bokant die onvolmaakte, menslike liefde verhewe. Dit is op die redding en behoud van alle mense ingestel; daarom het dit daartoe gelei dat God sy Seun na die aarde gestuur het om aan ons die geskenk van ware liefde te gee: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe” (1 Joh. 4:9).

Die uniekheid van die Christelike geloof bestaan daarin dat Jesus Christus vir ons twee dinge doen wat geen ander geloof ter wêreld vir sy volgelinge kan doen nie:

Eerstens: Omdat God alle mense liefhet en nie wil hê dat hulle verlore moet gaan nie (Joh. 3:16; Hand. 17:30; 2 Pet. 3:9), het Hy sy Seun as ‘n losprys vir ons sonde gestuur: “God [het] ons liefgehad en sy Seun gestuur as ‘n versoening vir ons sonde” (1 Joh. 4:10). Ons moet duidelik verstaan dat God nie net ‘n God van liefde is wat ons wil red en versorg nie – Hy is ook ‘n regverdige God wat sonde haat en onbekeerlike sondaars sal straf. Omdat alle mense gesondig het, is hulle onder die toorn van God: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23; vgl. 6:23). In geen ander godsdiens ter wêreld is daar ‘n losprys vir sondaars se sonde betaal nie, en om daardie rede het hulle geen basis vir vergifnis en redding nie.

Tweedens: Die goddelike agape-liefde wat na die menswording en kruisdood van Jesus gelei het, word ook aan ons gebied sodat ons volgens die beginsels van die nuwe lewe in Christus kan leef: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God” (1 Joh. 4:7). Die Heilige Gees stort hierdie besondere liefde van God in ons harte uit (Rom. 5:5), en dit stel ons in staat om soos Jesus te leef en in sy voetspore te volg (1 Pet. 2:21). Dit is ons roeping en plig as volgelinge van Jesus om in elke opsig van ons lewe in die lig te wandel: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).

Christene het ‘n edel, goddelike liefde in hulle wat die aanhangers van ander gelowe nie het nie. Die goeie werke wat ons doen, sal dus veel meer betekenis en diepte hê as die goeie werke wat die humaniste of die aanhangers van ander gelowe doen. Ons behoort alle mense, ook ons vyande, lief te hê met die liefde van God deur die evangelie van verlossing aan hulle te verkondig. Humanitêre hulpprogramme om in mense se tydelike behoeftes te voorsien, is sekondêr en dus nooit ‘n eerste of enigste prioriteit by ons nie. Mense se geestelike behoeftes is die belangrikste. Wat help dit indien ‘n persoon goeie mediese behandeling en onderwys kry, asook kos en klere, maar hy is geestelik nog steeds verlore en op pad hel toe? Natuurlik moet ons in sekondêre behoeftes voorsien as ons kan, maar dan is dit net ‘n middel tot ‘n groter doel, naamlik om by hulle siele uit te kom.

Die kwaliteit van goddelike liefde

‘n Christen moet in sy geestelike lewe nie net by redding vassteek nie, maar daarna streef om volkome in die liefde van Christus te wandel. Baie Christene voldoen nie aan hierdie standaard nie en tree in baie opsigte ongevoelig en liefdeloos op. Dit is nie wat die Here van ons verwag nie. Paulus sê dat ons wat in die liefde gewortel en gegrond is, daarna moet streef om ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). Dit moet ons hele lewe oorheers, sodat ons so ver moontlik aan alle Bybelse opdragte tot heiligheid en diensbaarheid uitvoering sal gee: “Elkeen wat sy Woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword” (1 Joh. 2:5).

Christene het ‘n unieke boodskap aan ‘n verloregaande wêreld, en ook ‘n goddelike lewe wat op ‘n baie hoër vlak as hulle ou lewenswandel behoort te wees. Dit is die nuwe lewe in Christus, en dit is wat ons aan die wêreld moet bied. Ons leef dus nie primêr vir goeie werke nie, maar ons verkondig Christus – dié Een wat vir ons sondes gekruisig is. Wanneer ons dit doen, moet ons egter ook ‘n helpende hand uitsteek na hulle wat in nood is, want die Here Jesus wil in alle behoeftes van alle mense voorsien na die rykdom van sy genade.
Richard Baxter 07