Print

Die Kinders van God en die Kinders van die Duiwel

Die wêreldbevolking word uit ‘n geestelike oogpunt in net twee groepe verdeel, naamlik die kinders van God en die kinders van die duiwel. Hierdie verdeling staan in verband met die twee groot koninkryke wat in ‘n stryd om beheer oor die mensdom teen mekaar gewikkel is – dit is God se koninkryk van waarheid, geregtigheid en die ewige lewe, en Satan se koninkryk van leuens, sonde en die ewige dood.

Daar is net een poort wat toegang tot God se koninkryk bied, en dit is Jesus Christus wat die straf vir die hele mensdom se sonde gedra het (Ef. 1:7). Almal wat aan God se koninkryk wil  behoort, moet deur bekering en wedergeboorte kinders van die hemelse Vader en dissipels van sy eniggebore Seun word. Alle mense buite Christus is uitgesluit: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12). Paulus sê aan die Galásiërs wat hulle geloof in die Here Jesus bely het: “Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus” (Gal. 3:26). Diegene wat waarlik in Christus glo, word deur die Heilige Gees gewederbaar en gelei: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14). Die Gees bedien die genadewerk van die Here Jesus aan ons.

Hierteenoor is daar die groot meerderheid ongereddes wat nie die Vader, die Seun en die Heilige Gees in hulle lewe het nie. Die Here Jesus het van die ongeredde vormgodsdienstiges gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie... omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh. 8:44). Hy is ‘n valse god wat daarop uit is om die mensdom te mislei en van die ware God en sy Seun af weg te hou. Hy verblind hulle sinne sodat hulle nie die evangelieboodskap kan verstaan en glo nie (2 Kor. 4:4).

Die kinders van God en die kinders van die duiwel word as die bewandelaars van die smal en die breë pad uitgebeeld wat weg van mekaar af na teenoorgestelde bestemmings lei – die een na die hemel en die ander een na die verderf. Dié twee paaie is ‘n geestelike klassifikasie van alle mense in net twee groepe. In die praktyk woon hulle egter tussen mekaar en dit is nie altyd maklik om te bepaal aan watter een van die twee groepe ‘n persoon behoort nie. Die regverdiges en onregverdiges is soos koring en onkruid wat in dieselfde land gesaai is, en eers in die oestyd van mekaar geskei sal word (Matt. 13:24-30). Elkeen se ware karakter word deur sy werke geopenbaar – dit is óf goeie vrugte, óf die onvrugbare werke van die duisternis.

Die gereddes en ongereddes werk saam, leef saam en kan selfs as getroudes ten nouste aan mekaar verbonde wees. Baie van die ongereddes doen hulleself moreel as “goeie mense” voor, maar niemand kan die geestelike duisternis uit sy hart verdryf deur self sy sondeskuld uit te wis nie. Uiteindelik sal die twee groepe radikaal van mekaar geskei word: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36). Dit sluit ook die afgestorwenes in, want vir die gereddes sal daar ‘n “opstanding van die lewe” wees en vir die ongereddes ‘n “opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29).

Hierdie saak is só uiters belangrik dat ons absolute duidelikheid oor ons geestelike stand voor die Here moet hê – soveel te meer omdat alle mense gebore word as sondaars wat die eerste Adam se gevalle natuur geërf het (Rom. 5:12). Niemand word as ‘n kind van God op die smal weg gebore nie, ook nie Christene se kinders nie, daarom moet daar eers ‘n tweede, geestelike geboorte plaasvind sodat ons die heilige natuur van die laaste Adam, Jesus Christus, kan ontvang en na die smal pad oorgeplaas word (Rom. 5:12-19). Hierdie oorgang uit die duisternis tot die lig is ‘n baie duidelike stap van bekering wat in die geloof gedoen moet word, en waarvan alle gelowiges sonder huiwering moet kan getuig:

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered” (Ef. 2:1-5; vgl. Kol. 1:13-14).

Paulus sê vir die Korinthiërs wat ook uit die duisternis van sonde na die lig van God se geregtigheid oorgekom het, dat hulle geen plek vir die kwaad moet gee nie en in elke opsig soos nuwe, veranderde mense moet leef: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:10-11).

Deur genade het die ou, sondige lewe verbygegaan en het alles nuut geword. Donker gedagtes van veroordeling is deur die vrede van sondevergifnis vervang; waar daar geestelike doodsheid was, het daar ‘n nuwe geestelike lewe gekom; waar daar verslawing aan sonde was, het daar vergifnis en ‘n volkome vryheid gekom; en waar daar neerlaag teen versoekings was, het daar oorwinning gekom. Deur die inwoning van die Heilige Gees omstraal die lig van die Here se teenwoordigheid ons lewe, sodat ons ‘n duidelike onderskeid tussen goed en kwaad kan tref. Ons hoef nie meer volgens die verdraaide waardes van ons ou, verdorwe natuur te wandel nie, maar kan deur die Here se genade werke van geregtigheid doen wat by die bekering pas. Hierdie werke is die vrug van die Heilige Gees en het ewigheidswaarde.

As kinders van die lig het ons ‘n duidelike missie in ‘n geestelik donker wêreld. Die feit dat gereddes en ongereddes saam in die wêreld woon en feitlik elke dag in noue aanraking met mekaar is, stel Christene in staat om die boodskap van redding makliker uit te dra. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Ons moenie soos die wêreldlinge word nie, maar skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Ons moenie in ons liefde teenoor die Here Jesus verkoel en omkyk nadat ons die hand aan die ploeg geslaan het nie, maar vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het.

Hierdie soort lewe vereis ‘n lewenslange betrokkenheid by die werk van die Here op aarde. As bewandelaars van die smal weg word ons geroep “om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9). Alle gereddes moet  getuies vir Christus wees – nie net predikante nie. Ons is uitgered uit die teenswoordige bose wêreld (Gal. 1:4), en ons moet ander help om ook hierdie wonderlike verlossing deelagtig te word. Die toorn van God rus op die kinders van die ongehoorsaamheid (Ef. 5:6; Kol. 3:6), daarom is dit lewensbelangrik dat hulle die boodskap van verlossing by ons sal hoor sodat hulle ook na die smal pad kan oorkom en ‘n hoopvolle toekoms kan hê.

As getuies van Christus moet ons deur die volheid van die Heilige Gees wandel, want hiersonder kan ons nie toonbeelde van sy reddende genade wees nie. Mense moet die vrug van die Heilige Gees in ons lewe kan sien, want dan alleen sal hulle ‘n idee kry van die groot verskil wat die Here Jesus in sy dissipels se lewens kan maak. As ons ou natuur nie gekruisig is nie, kan ons nie regtig deur die Gees wandel nie (Gal. 5:16-17; 6:14). Is jy van al jou sonde verlos en identifiseer jy daagliks só met die kruis van die Here Jesus dat die heiligheid van sy opstandingslewe bo enige twyfel in jou lewe sigbaar is (Luk. 9:23; Rom. 6:5-6; Fil. 3:10)? Die wêreld moet kan sien dat ons aan die Here Jesus behoort en vir die sonde gesterf het:

“Julle weet dat [Jesus Christus] verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat [aanhou] sondig het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is... Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar; elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie” (1 Joh. 3:5-10).

Die grys gebied van misleiding

Hoewel daar ‘n duidelike onderskeid tussen geestelike lig en duisternis is, is daar ook ‘n grys gebied van vormgodsdienstiges wat voorgee dat hulle goeie mense is wat op die smal weg is en aan die Here behoort. Hulle dien die Here egter net met hulle goeie werke en eer Hom met hulle lippe, maar hulle harte is koud en onweergebore. Jesus Christus het van Israel gesê: “Hierdie volk eer my met die lippe, maar hulle hart is ver van My af... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:6,9).

Die meerderheid Israeliete het hulleself as lede van die verbondsvolk beskou en as sodanig van die ongeredde heidendom onderskei. Hulle het egter slegs godsdienstige tradisies in stand gehou sonder dat hulle ‘n verhouding met die Here gehad het. Hierdie mense was in ‘n grys gebied van vormgodsdiens vasgevang waarin hulle nie meer heidene was nie, maar ook nie gelowiges met besnyde (veranderde) harte wat die Here in Gees en waarheid gedien het nie. Hulle was godsdienstig maar verlore. Hulle het hierdie verlorenheid agter ‘n rookskerm van godsdienstige tradisies verberg en voorgegee dat hulle God se volk is.

Dieselfde grys gebied van vormgodsdiens bestaan ook in Nuwe Testamentiese tye onder die nie-Joodse volke. Lidmaatskap van ‘n evangeliese gemeente is nie ‘n waarborg dat ‘n persoon gered is nie, want dit is moontlik om ook onder hierdie omstandighede net lippediens aan die Here te bewys. Paulus het vir Timótheüs gewaarsku teen mense wat in sonde geleef het, maar nogtans agter ‘n gedaante van godsaligheid geskuil het (2 Tim. 3:1-5). Hulle was wel uiterlik godsdienstig as gevolg van hulle kerklidmaatskap, sakramentsbeoefening en finansiële bydraes aan die kerk, maar die wederbarende krag van die Heilige Gees het in hulle lewe ontbreek. Hulle was ongeredde en geestelik kragtelose slawe van die sonde wat net vir materialisme, vermaak en ydele eer geleef het, maar terselfdertyd daarop aanspraak gemaak het om Christene te wees wat op pad was hemel toe.

Paulus se opdrag aan sy jong medewerker was: “Keer jou van hierdie mense af” (2 Tim. 3:5). Hulle leer altyd, maar kom nooit tot die kennis van die waarheid nie (2 Tim. 3:7). Hulle sit jaar ná jaar in kerke waar meesal net afgewaterde boodskappe aan hulle opgedis word, en kom nooit tot ‘n saligmakende kennis van God se eise van wedergeboorte en heiligmaking nie. Selfs al hoor hulle dit, verhard hulle hul harte. Hierdie ongereddes sal ten spyte van hulle kerklidmaatskap en vormgodsdiens weggewys word omdat hulle nie waarlik ‘n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie. Hulle sal tevergeefs roem in hulle kerkbywoning en goeie werke wat selfs in die Naam van Jesus gedoen is, want Hy sal aan hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Matt. 7:21-23). ‘n Uiterlike gedaante van godsaligheid is nie genoeg om van iemand ‘n Christen te maak nie.

Predikante moet tot ‘n groot mate vir die verskynsel van vormgodsdiens verantwoordelik gehou word, want dit is hulle wat van die gesonde leer van die Bybel afwyk en dan ter wille van populariteit en hulle ondersteuners se voortgesette finansiële bydraes, almal in die gemeente salig spreek en gerusstel. Hulle kom goed met hulle vleeslike lidmate klaar, want hulle bewandel saam die pad van ‘n dooie vormgodsdiens: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Maklike kortpaaie word na die hemel gebied, waar die eise van bekering en sondebelydenis nie verkondig word nie.

Die afvallige lidmate wat van lae standaarde en ‘n nie-veroordelende boodskap hou, het net soveel skuld aan die verwerping van die gesonde leer van die Bybel as hulle predikante. Hulle volg hierdie soort predikers na, woon hulle dienste by, koop hulle boeke en gee aan hulle ruim geldelike bydraes. Sodoende moedig hulle die fabels en leuens aan wat deur hierdie leraars aan hulle verkondig word, en as gevolg daarvan gee hulle ‘n slegte naam aan evangeliese predikers wat by Bybelse standaarde bly en die toenemende verval teëstaan.

Een van die baie populêre fabels wat verkondig word, is dié van positiewe denke. In hierdie benadering word lig en duisternis nie teenoor mekaar gestel nie, omdat sonde, oordeel en straf as negatiewe gedagtes beskou word wat liewer verswyg moet word. Niemand word sondaars genoem nie, God se straf oor sonde word nie verkondig nie, en daarom word die kruis as ‘n simbool van oordeel oor sonde ook nie genoem nie. Net positiewe gedagtes word genoem oor hoe God almal liefhet, wil seën, en wil help om hulle volle potensiaal te bereik.

Hierdie moderne, doelgerigte lewe is egter mensgedrewe en begin nie by die kruis en die belydenis van sonde nie, daarom is dit ‘n lewe wat op die sand van selfmisleiding gebou is. Die aanhangers daarvan word nie deur die Heilige Gees gelei nie, maar deur beloftes van sukses, rykdom en voorspoed tot hoër hoogtes aangespoor. Om hulle gewete te sus, word hulle by programme vir welsynswerk en armsorg betrek, maar nie by evangelisasie nie.

Die noodwendige gevolg van halwe waarhede is geestelike misleiding deur middel van ‘n valse selfverlossingsleer. Hierdie humanistiese benadering is baie populêr en lei na die vinnige toename van ‘n ongeredde naamchristendom waarin mense net ‘n gedaante van godsaligheid het. Duisende mense stroom na groot, megagemeentes, luister na moderne ‘Christelike’ popmusiek en opbouende motiveringspraatjies waarin die evangelie van Jesus Christus glad nie tot sy reg kom nie. Ons sal dringend moet vasstel wat die einddoel van die sielevyand met hierdie verskerpte veldtog van misleiding in Christelike kerke is.

‘n Valse Jesus

Die eindtydse Christendom word aan geweldige druk blootgestel om van Bybelse leerstellings af te wyk en sodoende aan die misleidende evangelie van die nuwe wêreldorde se valse Christus uitgelewer te word. Dit is ‘n wêreldwye beweging wat as die groot afval van die laaste dae beskryf word (2 Thess. 2:3-4). In die proses word die suiwer leer van die Bybel deur duiwelse leerstellings vervang: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Die misleides weet nie dat die duiwel agter die vervalste evangelie is wat met mooi woorde aan hulle verkondig word nie, en aanvaar dit sonder teëspraak (2 Kor. 11:3-4).

Die groot doel met hierdie nuwe sienings is om die ware Jesus deur ‘n valse Jesus te vervang. Daar vind ‘n postmoderne dekonstruksie van die Bybelse Jesus plaas, waarin Hy van sy bonatuurlikheid en goddelike attribute gestroop word en dan as die “historiese Jesus” van die moderne teologie voorgehou word. Wanneer dit gebeur, is die Bybelse Jesus aan die beeld van die Antichris gelykvormig gemaak, maar Hy word steeds “Jesus” genoem.

Die wêreld is reeds in ‘n gevorderde stadium van misleiding waarin die maagdelike geboorte, godheid, wonderwerke, soendood, opstanding en hemelvaart van die ware Jesus deur ‘n toenemende aantal mense ontken word – ook in leidende Christelike kerke. In die proses word die Bybelse Jesus stelselmatig verander in ‘n ander Jesus wat binne die verband van ‘n valse evangelie onder die beïnvloeding van Satan se verleidende geeste verkondig word (2 Kor. 11:3-4). Nou is die pad oop vir die verskyning en wêreldwye oorname deur die eindtydse valse Jesus wat in die Bybel as die Antichris en die dier beskryf word. Hy sal deur ‘n misleide wêreld aanvaar en deur almal as vredemaker aanbid word:

“En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:3-4,7).

Satan wil duidelik nie godsdiens vernietig nie - hy wil dit vervals - sodat die hele mensdom hom as die universele God van alle gelowe sal aanbid en sy valse Messias-Koning as Christus en later ook as God sal aanbid (Dan. 11:36-38; 2 Kor. 4:4; 2 Thess. 2:4). Dit kan net met mense gebeur wat reeds mislei is, want hulle sal hulleself vir die Antichris en valse profeet se wonderwerke en bonatuurlike magspel oopstel en sodoende onder die beheer en geestelike verblinding van verleidende geeste kom (2 Thess. 2:8-12; Op. 13:11-15).

Ons leef in die tyd kort voor die geheime koms van die hemelse Bruidegom vir sy bruidsgemeente, en die openbaring kort daarna van die valse Christus van alle gelowe. Ons sal meer as ooit tevore moet ag slaan op die Here Jesus se ernstige waarskuwing in sy profetiese rede waar Hy gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).

Die groot eindtydse misleiding word in die Naam van Jesus gedoen, maar dit is duidelik nie die Jesus van die Skrifte nie. ‘n Valse, ekumeniese Jesus uit die koninkryk van die duisternis word verkondig, en die hele wêreld word voorberei om hom in verwondering na te volg. Naamchristene wat onkundig oor Bybelse profesieë is, is maklike slagoffers van hierdie misleiding. Hulle verloën maklik die ware Jesus en sy boodskap van verlossing.

Die oplossing

Die enigste oplossing vir hierdie ernstige situasie van misleiding is om die regte Bybelse Jesus en sy evangelie van bekering en vergifnis van sonde te verkondig (vgl. Luk. 24:46-48; Hand. 17:30; Ef. 1:7). Dit is die enigste manier om seker te maak dat mense op die smal pad is wat na die hemel lei. Valse profete probeer nou alles in hulle vermoë om die breë pad van onbeperkte menslike vryhede en ekumeniese kompromie voor te hou as die regte pad wat hemel toe gaan. Hulle beweer dat alle mense hemel toe gaan omdat daar, volgens hulle, nie ‘n duiwel of ‘n hel is waar sondaars gestraf sal word nie.

Die smal pad word geminag as die siening van ‘n klein groepie Christelike fundamentaliste wat heeltemal uit pas is met God se plan vir die mensdom. Hulle word beskou as ‘n groot bedreiging vir die samelewing omdat hulle so sterk op Bybelse waarhede staan en almal veroordeel wat dit nie wil eerbiedig nie. Hierdie klein groepie evangeliese Christene gaan toenemend deur die wêreld verwerp en ook vervolg word omdat hulle nie by die sienings en aksies van die misleide meerderheid wil inskakel nie. Ons moenie hierdeur van stryk gebring word nie, maar Paulus se raad volg: “Ly verdrukking, doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:5).

Daar is vir ons net een pad vorentoe, en dit is die smal pad hemel toe. Moenie na die valse profete luister wat ter wille van finansiële gewin, aansien en ekumeniese erkenning, geloofwaardigheid aan die breë pad gee deur fabels en leuens te verkondig nie. Ons moenie deur ons minderheidsposisie ontmoedig word en ook begin om die pad hemel toe vir ander se gerief breër te maak as wat dit is nie - dit is en bly ‘n smal pad. Die Here Jesus het gesê:

“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matt. 7:13-16). Moenie hierdie afvalliges se navolgers word en saam met hulle die waarheid verdraai nie.

Dit moet ons groot doel in die lewe wees om só aan die Here Jesus en sy Woord getrou te bly, dat Hy eendag ook aan ons sal kan sê: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Die Woord van die Here sal tot in sy fynste besonderheid letterlik vervul word, daarom moet dit in al sy basiese en letterlike konsekwensies verkondig word. Jesus se verhewe Naam as Verlosser, God en Koning, moet ook in ere gehou word, want “die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12).

Dit is net die waaksame en getroue diensknegte van die Here Jesus wat waardig geag sal word om die komende verdrukking te ontvlug en mede-erfgename van sy ewige koninkryk te wees (Luk. 21:36; Rom. 8:17). Ons mag nie links of regs van die smal pad afwyk nie, want slegs as ons dit nougeset volg, sal ons op die regte koers bly, en met goeie gevolg optree oral waar ons gaan.

Die Here Jesus verdra nie kompromiemakers wat die Bybel se integriteit aantas deur dit te bevraagteken en te verander om dit vir sondaars meer aanvaarbaar te maak nie, want dit is hulle wat mense se gehoor streel en die breë pad se sondes goed praat. Hy soek na getroue diensknegte wat die Woord van die waarheid reg sny en met oortuiging na andere uitdra (2 Tim. 2:15). Ons moet onsself daartoe verbind om die hele raad van God te verkondig – ook die profetiese woord (Hand. 20:27; 1 Thess. 5:20). Predikers moet nie net God se liefde en genade verkondig nie, maar ook sy oordele oor alle sondaars wat weier om hulle op grond van sy Woord te bekeer. Almal moet voor ‘n duidelike keuse gestel word, want daar is slegs twee paaie wat hulle kan bewandel. Die pad van die Here kan net deur sy genade betree en ook net volgens sy voorwaardes bewandel word. Toegewyde dissipels verkry die Heilige Gees se instaatstellende krag om enduit op die regte pad te kan volhard