Print

Die Vereistes en Kenmerke van Dissipelskap

Written by Prof Johan Malan.

Die Here Jesus het na die wêreld gekom om die losprys vir die verlore mensdom se sonde te betaal, maar ook om dissipels op te lei om die boodskap van verlossing tot aan die eindes van die aarde te verkondig. Hy het sy Woord nagelaat, en ook die Heilige Gees gestuur, om alle gelowiges wat hulleself hiervoor aanbied, bekwaam te maak om gebruik te kan word as dissipels in sy diens. Ons moet nie by bekering berus en dan terugsit nie, maar daarna streef om ook aktiewe volgelinge van Christus te word wat aan al die Bybelse vereistes en kenmerke van dissipelskap voldoen. Dan alleen kan die Here Jesus ons in sy diens gebruik.

Die vereistes vir dissipelskap kan saamgevat word in die volgende tien sleutelbegrippe, of opdragte, wat almal met ’n “W” begin: Wedergeboorte as eerste vereiste, wen teen die vlees, word met die Gees vervul, wees diensbaar, wen siele, werf ander dissipels, weerstaan die Bose, waak teen alle gevare, waarsku die dwalendes, wag op die Here.

1. Wedergeboorte as eerste vereiste

Ons lewe as dissipels van Christus kan eers begin wanneer ons aan die basiese vereiste van wedergeboorte voldoen. Ons moet ons sonde en verlorenheid teenoor die Here bely en bereid wees om met ons ou lewe te breek, sodat ons as bevrydes van die Here met ’n totaal nuwe lewe kan begin (Rom. 6:11-13; 1 Joh. 1:9). Daar is geen ander manier om ’n volgeling van die Here Jesus te word nie as om geestelik deur Hom herskep te word. Hy moet jou van jou sonde reinig en deur die Heilige Gees sy goddelike natuur in jou hart vestig sodat Jesus Christus in jou kan leef. Op die dag wanneer dit gebeur, word jou naam geskryf in die boek van die lewe wat in die hemel is (Luk. 10:20). Vir die res van jou lewe moet jy kan getuig van die groot genade wat die Here Jesus aan jou bewys het, naamlik dat Hy jou siel gered het. Dit is ook ons belangrikste boodskap aan ’n verloregaande wêreld, want almal moet weet dat daar net een Redder vir sondaars is (Hand. 4:12).

Baie mense omseil die belangrikheid van wedergeboorte deur te beweer dat hulle Christelik grootgeword het en nog van altyd af die Here dien. Die feit is egter dat ons almal as sondaars gebore is, en as ons nie weergebore word nie, sal ons die koninkryk van God nie sien nie (Tit. 3:5). Dit het die Here Jesus vir ’n ongeredde leraar in Israel gesê wat self nie kon verstaan wat ’n nuwe geboorte deur die Heilige Gees is nie – en hy was die een wat veronderstel was om hierdie boodskap aan andere te verkondig (Joh. 3:3-10)! Jesus Christus se dissipels moet ’n duidelike getuienis van wedergeboorte hê, en almal moet kan sien dat die ou dinge in hulle lewe verbygegaan en alles nuut geword het (2 Kor. 5:17). Sonder hierdie getuienis is hulle vormgodsdienstiges en selfaangestelde diensknegte van Christus wat niks vir sy koninkryk sal bereik nie. Naamchristene mag dalk dink dat hulle ryk, suksesvol en voorspoedig is, maar volgens Bybelse standaarde is hulle geestelik arm, blind en dood (Op. 3:1, 15-17).

2. Wen teen die vlees

Ná die eerste genadewerk van wedergeboorte ontvang alle kinders van die Here ’n roeping tot dissipelskap. Hiervoor is daar ’n duidelike kosteberekening nodig, naamlik die bereidwilligheid om die ou, sondige natuur wat reeds in beginsel tydens ons wedergeboorte afgelê is, daagliks te kruisig en af sterf sodat die nuwe lewe onbelemmerd kan groei en volle beheer oor ons kan verkry. Die ou lewe word die “vlees” of “oue mens” genoem (Gal. 5:16-17; Ef. 4:22). Dit is sedert geboorte deur die mag van die gewoonte in ons lewe gevestig, en staan in die pad van die beheer wat die Heilige Gees ná wedergeboorte oor ons wil verkry. Hierdie struikelblok moet eers uit die weg geruim word voordat ons doeltreffende dissipels sal kan word.

Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself [die vlees of eie-ek] verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Sonder ’n duidelike selfverloëning en selfkruisiging diskwalifiseer Christene hulleself om dissipels te wees: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:27). Die ongekruisigde vlees is ’n bondgenoot van die wêreld en die sonde, en dit blokkeer die werk van die Gees in ons lewe: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Sommige dissipels van die Here Jesus raak later in hulle lewe geestelik laks, laat na om die vlees te weerstaan en in ’n gekruisigde posisie te hou, en val weer in ’n lewe van vleeslikheid terug. Hulle verloor dan die salwing van ’n Geesbeheerde lewe, raak selfsugtig, wêreldgesind en materialisties, en begin om onredelik en liefdeloos teenoor ander op te tree. Die Here sal ophou om sulke mense in sy diens te gebruik, en dit sal vir almal duidelik wees dat hulle niks bereik nie, en in werklikheid ook niks wil doen wat opofferings en selfverloëning vereis nie.

Dit moet ’n lewenswyse by ons word om ons kruis op te neem en gehoorsaam volgens die leiding van die Heilige Gees te lewe: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Dit moet jou hoogste ideaal en roem wees om met die gekruisigde Here Jesus te identifiseer. Paulus sê: “Wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).

Het jy al ’n volle oorgawe gemaak om die ou natuur met sy sondige neigings sonder voorbehoud af te lê sodat jy in die plek daarvan met die Heilige Gees vervul kan word? Indien nie, is jy nog een van die “vleeslike broeders” van 1 Korinthiërs 3:1-3 wat geheel en al deur twis en geestelike insigloosheid oorheers word. Hulle kon nie as dissipels gebruik word nie omdat hulle nog nie die dieper genadewerk van heiligmaking deelagtig geword het nie.

3. Word met die Gees vervul

Wanneer ons in ’n volle oorgawe met die ou natuur gebreek en dit oorgelewer het om gekruisig te word, sal die Here sy deel doen deur ons met die Heilige Gees te vervul. Die volgeling van Jesus word dan met goddelike krag toegerus, waarsonder hy nie sy taak as dissipel sal kan uitvoer nie. Die eerste dissipels is beveel om nie vir die Here te probeer werk voordat hulle hierdie geestelike toerusting verkry het nie: “Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49). Net voor sy hemelvaart het die Here Jesus hierdie belofte herhaal: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ... tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Hierdie belofte geld vir alle bekeerlinge van alle tye.

Na hierdie ondervinding het die dissipels vasberade en doelgerig voortgegaan om die Groot Opdrag uit te voer, selfs onder die moeilikste omstandighede. Die krag van die Heilige Gees het nie net aan hulle vrymoedigheid gegee om die evangelie met groot oortuiging aan vyandige en agnostiese gehore te verkondig nie (Hand. 4:33), maar om ook geestelik vinnig te groei en vervul te word met die kennis van die Here se wil (Kol. 1:9). Tydens krisissituasies is hulle opnuut aangeraak met krag uit die hoogte, wat die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat dissipels van Christus gedurig vars salwings deur die Heilige Gees nodig het (Hand. 4:31; 13:52). Vervulling met die Heilige Gees het wel ’n beginpunt, maar dit moet ook ’n voortgaande ervaring wees wat dikwels hernu word.

Heiligmaking is nie net nodig om ons te bekragtig om ons bediening as dissipels te kan uitvoer nie, maar verbind ons ook om op die persoonlike vlak in ons hele lewenswandel heilig te word (1 Pet. 1:15-16). Ware heiligheid gaan met nederigheid, mededeelsaamheid en hulpvaardigheid gepaard, sodat al die gesindhede van Christus deur ons geopenbaar kan word. Ons moet ’n skoon en rein lewe lei, vry van die besoedeling van wêreldse begeerlikhede, en rein gedagtes bedink wat tot die eer van die Here is. Daar moet altyd geleenthede gesoek word om deur gebed voortdurend kontak met Christus te behou.

4. Wees diensbaar

Ons moet besef dat ons beperkte geleenthede het om vir die Here te werk, omdat ons aardse lewe vinnig verbygaan. Dawid het gebid: “Here, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is. Kyk, U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak ...” (Ps. 39:5-6). Ons lewe gaan gou verby, soos die dag van gister wat vinnig verbyskiet. Moenie dat daar vermorste dae, weke, maande en jare in jou lewe wees waarin jy vir die Here kon gewerk het maar niks gedoen het nie. Elke situasie waarin ons is, is dalk net eenmalig en moet met die oog op die ewigheid benut word. Hoe weet jy of jy vorentoe weer met die betrokke persoon of persone kontak sal hê? Elke geleentheid wat onbenut verbygaan, is soos water wat onder die brug deurgeloop het – dit is vir altyd verby.

Die Here Jesus het gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld” (Joh. 9:4-5). Jesus het voor sy kruisiging net ’n beperkte tyd gehad om sy dissipels op te lei en sy aardse bediening af te handel; toe het die nag van sy kruisiging aangebreek. Daarna het Hy die verantwoordelikheid aan sy dissipels oorgedra om die lig van die wêreld te wees en die evangelie in ’n donker wêreld uit te dra. Vir baie van hulle het die nag van die einde van hulle aardse bediening ook gouer aangebreek as wat hulle verwag het. Van die twaalf dissipels was dit net Johannes wat ’n baie ou man geword het. Ons moet ook werk want die nag kom nader – dalk gouer as wat ons dink.

In ’n breër verband moet ons altyd onthou dat die dag van God se genadebedeling ook onwrikbaar verbygaan. Hierdie bedeling gaan eindig in die nag van God se oordele oor ’n ongeredde wêreld tydens die komende verdrukking. Miljoene mense gaan dan geoordeel word omdat hulle die evangelie van Christus nie aangeneem het nie. Elkeen van hulle behoort die reg gegun te word om die evangelie van Christus se reddende genade ten minste een keer in hulle lewe te hoor. Het ons daardie reg aan hulle gebied, of het ons deur ons stilswye baie verlore sondaars van hierdie godgegewe reg ontneem? (Vgl. Mark. 16:15). Elke nuwe geslag Christene het nog steeds die opdrag om binne die beperkte tyd van hulle aardse lewe te werk terwyl dit dag is en die evangelie tot aan die uiterste van die aarde uit te dra.

As dissipels van Christus moet ons altyd vir diens beskikbaar wees. Paulus het reeds tydens sy eerste ontmoeting met Christus vir diens aangemeld: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” (Hand. 9:6). Hy moes egter eers vir ’n paar dae lank homself verootmoedig en met die Heilige Gees vervul word voordat hy ’n dissipel van Jesus kon word. Ananías het die pas bekeerde Paulus as ’n “broeder” aangespreek en vir hom gebid sodat hy met die Heilige Gees vervul kon word: “Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. ... En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand. 9:17, 20). Daar het net ’n kort tyd verloop tussen Paulus se redding en vervulling met die Heilige Gees, waarna hy dadelik met die uitvoering van sy roeping begin het.

5. Wen siele

’n Dissipel is ’n gestuurde wat vir die Here moet werk (Joh. 20:21). Die groot taak wat Jesus Christus aan sy dissipels opgedra het, was om oral sy getuies te wees sodat siele gered kon word: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). In die Ou Testament het die Here al gesê: “Hy wat siele win, is wys” (Spr. 11:30). Met verwysing na die ewige heerlikheid wat vir kinders van die Here in die hemel wag, het Daniël gesê: “Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:3).

Petrus het dissipels van die Here Jesus vroeg in Nuwe Testamentiese tye daaraan herinner dat hulle almal geroep is “om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9). Paulus het gesê: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ’n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig” (Rom. 1:14-15). Die Here het Paulus se siel gered, en hy het dit aan die oningeligte heidenwêreld geskuld om hulle ook van hierdie groot genadegawe van die Here Jesus te vertel – tot binne- in Rome, die hoofstad van die heidense wêreldkoninkryk van daardie tyd.

Ook ons skuld die evangelie aan alle mense, ongeag of hulle geleerd of ongeleerd, beskaafd of onbeskaafd, vriendelik of vyandig is. Die Here het die hele wêreld lief, en omdat hy nie ’n aannemer van die persoon is nie, wil Hy almal se siele red (2 Pet. 3:9). Dit is sy dissipels se taak om hierdie boodskap aan die wêreld te verkondig – ons skuld dit aan hulle.

6. Werf ander dissipels

Die taak van ’n dissipel strek egter nog veel wyer as die wen van siele, daarom is basiese evangelisasie net die eerste fase van die Groot Opdrag om oral in die wêreld dissipels te maak: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Ons is daartoe verbind om hierdie opdrag getrou uit te voer. Dit behels:

Fase een: Die redding van siele, met die oog daarop dat hulle direk daarna in gemeentes gevestig en ook opgelei moet word om ander dissipels te maak.

Fase twee: Die doop van jong bekeerlinge, sodat hulle die geleentheid kan hê om in die openbaar te getuig dat hulle deur ’n geestelike wedergeboorte in die liggaam van Christus ingedoop is (1 Kor. 12:13). Die doop red niemand nie, maar is ’n getuienis van redding. Apostels soos Paulus het selde of ooit bekeerlinge gedoop (1 Kor. 1:14-17), sodat gelowiges nie dalk moes dink dat die waterdoop deel van hulle redding was nie. Hy het dit aan die ouderlinge oorgelaat om bekeerlinge te doop, by die gemeentes in te lyf en daarna vir hulle verdere geestelike groei te sorg.

Fase drie: Deur voortgaande onderrig moes die jong lidmate verder in die Woord van die Here bevestig word, sodat hulle tot geestelike volwassenheid kon opgroei en so gou as moontlik kon begin om self ander dissipels te werf en op te lei: “... leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” In die proses moes nuwe gemeentes gestig word waar daar nog nie gemeentes was nie.

In moderne massa-evangelisasieveldtogte word slegs uitvoering aan fase een van die Groot Opdrag gegee, daarom lewer dit nie altyd blywende resultate nie. Bekeerlinge word nie by evangeliese gemeentes ingelyf nie, en hulle kry ook nie op ’n volgehoue basis onderrig wat na geestelike volwassenheid kan lei nie. Die gevolg is dat hulle self nie regtig dissipels word nie en dus ook nie in staat is om ander dissipels te maak nie.

Die Here Jesus wil nie net van ons evangeliste maak nie, maar dissipels wat sy kerk kan uitbrei en oral op aarde vestig. Deur die roep en toerusting van dissipels het Hy die hele Ou Testamentiese priesterorde vervang. Hy is self die Hoëpriester of Middelaar, en dus die Hoof van sy kerk op aarde (Ef. 1:22; Heb. 4:15-16), en sy dissipels is sy diensknegte deur wie Hy werk. Al sy dissipels moet op die nuwe en lewende weg tot die genadetroon toetree (Heb. 10:19-22), en nie toelaat dat daar ander middelaars tussen hulle en Christus inkom nie.

Ons moenie by gemeentes aansluit wat verhewe ampsdraers en menslik-bepaalde leerstellings het nie, want dit onderdruk die roeping en funksionering van dissipels wat deur Christus aangewys is om evangelisasiewerk te doen, gemeentes te stig en van die jong gelowiges ook dissipels te maak. Daar moenie ’n selfverheffende rangorde onder Christus se dissipels wees nie (Mark. 10:42-45), want dit het altyd negatiewe gevolge vir die suiwerheid van die leer wat verkondig word. So ’n hiërargie is ook nie op die opleiding van dissipels ingestel nie – net op die opleiding van “gesalfde” ampsdraers wat gemeentes ter wille van eiebelang en finansiële gewin in ’n onderworpe, afhanklike en geestelik onvolwasse toestand hou.

7. Weerstaan die Bose

’n Christen se lewe speel af te midde van twee groot werklikhede, naamlik die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Alle mense word as sondaars gebore, en is dus onderdane van die duiwel se ryk. Deur die wedergeboorte het die Vader “ons verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kol. 1:13-14).

Ons is egter nog steeds ín die verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê, hoewel ons nie ván die wêreld is nie. Weens ons kontak met die wêreld is ons blootgestel aan die duiwel se versoekings, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Hiervoor moet ons “kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte” (Ef. 6:10-12). Dit beteken dat ons met die Heilige Gees vervul moet wees indien ons hierdie groot stryd suksesvol wil stry en oorwinnaars in Christus wil wees.

Daar is veral twee terreine waarop Satan aktief teëgestaan moet word, en dit is op die morele en godsdienstige terreine. Op morele gebied wil hy van alle mense slawe van sonde maak deur bv. verdowings- en dwelmmiddels te gebruik, te steel, te lieg, te vloek, gewelddadig te leef, owerspel te pleeg, arrogant, hoogmoedig en geldgierig te wees, asook verskeie ander dinge te doen wat kenmerkend van ’n onrein lewe is.

Op die godsdienstige terrein kom hy as ’n “engel van die lig” om mense te mislei om in valse leerstellings te glo en so van die waarheid van God se Woord afvallig te raak (2 Kor. 11:13-15). Mense word deur mooi klinkende woorde mislei om die evangeliese leer van die Bybel te verwerp en in fabels te glo (2 Tim. 4:2-4). ’n Fabel is ’n mite of menslike teorie wat geen saligheidswaarde het om jou siel te red en jou lewe blywend te verander nie. Daar is baie kerke waarin daar onbybelse fabels verkondig word om die ongereddes se gehoor te streel en hulle salig te verklaar sonder die eis van wedergeboorte.

8. Waak teen alle gevare

Dissipels van Jesus Christus moet in ’n vyandige wêreld vir Hom werk, daarom moet ons teëstand verwag en altyd waaksaam wees. Paulus sê hy het van alle kante af teëstand en vervolging gekry – so erg dat hy soms vir sy lewe gevrees het. Hy sê: “Ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2 Kor. 1:8).

Paulus moes as evangelis uit verskillende oorde gevare trotseer – uit die natuur, terwyl hy op see was of op eensame paaie gereis het; uit sy eie volk omdat hy sy voormalige godsdiensleiers teëgegaan het; uit die heidendom omdat hy hulle afgodediens veroordeel het; en selfs ook uit sommige van die gemeentes wat hy gestig het, omdat daar toe reeds ongeredde vormgodsdienstiges was wat nie van sy streng standaard gehou het nie. Hy het sy lyding so beskryf:

“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en 'n dag het ek op die diepwater deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor. 11:24-28).

Ons is by ’n groot stryd betrokke en moet sekerlik verwag om ernstige teëstand en probleme te ervaar. Onder die ware dissipels van Jesus Christus is daar nie plek vir gemaksugtige en selfgesentreerde meelopers wat net daar is vir hulle eie finansiële voordeel en aansien nie. Paulus se probleme het tot uit die binnekringe van die vroeë gemeentes gekom, waar daar “valse broeders” was wat sy boodskap bevraagteken en verwerp het, en die geloof van jong Christene omgekeer het (vgl. 1 Tim. 1:18-20; 2 Tim. 2:17-18). Hy het soms sag met die dwalendes gewerk om hulle tot ander insigte te bring (2 Thess. 3:14-15), maar in ander gevalle streng dissipline ingestel en selfs skorsing uit die gemeente beveel (1 Kor. 5:5, 11-12).

Hoeveel te meer moet ons nie waak om in ons eie lewe waardig te wandel nie, terwyl ons ook moet waak teen die baie gevare wat van binne die kerk af uitgaan, asook vanaf ’n vyandige wêreld. Dit is nie sonder goeie redes nie dat ons die opdrag het om te waak en bid totdat die Opperherder ons kom haal en na ons hemelse woning wegneem (Luk. 21:36; 1 Pet. 5:4).

9. Waarsku die dwalendes

Behalwe die positiewe boodskap van die evangelie, het ’n dissipel van die Here Jesus ook die opdrag om teen geestelike dwalings te waarsku. Die verdediging van die waarheid moet egter nooit ’n hoofdoelwit word nie, maar altyd sekondêr tot die verkondiging van Bybelse leerstellings wees. Ons is nie geroepe om oggend, middag en aand net teen dwalings te waarsku nie, omdat dit alleen mense nie tot veranderde denke sal bring nie. Dit is net as die waarskuwing teen dwalings saam met die waarheid van verlossing en heiligmaking verkondig word, dat mense vrygemaak sal word: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. ... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:32, 36).

Daar moet ’n gesonde balans gevind word tussen die evangelie en die waarskuwing teen dwalings, omdat ’n begrip van sonde en dwalings ’n noodsaaklike element van die evangelie van verlossing is. Die Heilige Gees oortuig ons eers van ons sonde, dwalings en verlorenheid voordat Hy ons van die geregtigheid van Christus oortuig (Joh. 16:8). Daar moet dus altyd ’n waarskuwende noot in evangelieverkondiging wees, want die loon van sonde en dwalings is die dood.

Sommige predikers, veral die aanhangers van positiewe denke, laat na om teen die gevolge van sonde te waarsku, en verkondig ’n God wat almal so liefhet dat Hy niemand hel toe sal stuur nie. Waarom is bekering dan nog nodig as daar nie straf is nie? Indien sonde en dwalings nooit genoem word nie, hoe sal mense weet vanuit watter toestand hulle hul moet bekeer? Nee, die dwalendes moet ten alle tye gewaarsku en tot bekering opgeroep word.

10. Wag op die Here

Dissipels van die Here Jesus moet besef dat hulle ten alle tye diep afhanklik van Hom is. Hy het gesê: “... sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Ons moet nie op eie stoom probeer voortgaan en slegs volgens eie insig handel nie. Lei ’n lewe van gebed en toewyding, wag op die Here om antwoorde te kry, maar wag veral op Hom om jou voortdurend toe te rus met krag uit die hoogte.

Dawid het gesê: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Ps. 27:14). Hy sal beslis uitkoms gee as ons op Hom wag en Hom vertrou: “Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Ps. 33:18). Dit is die enigste manier om geestelik sterk te word: “Die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes. 40:31).

Behalwe krag en leiding vir elke dag, is daar ook ’n ander dimensie waarin ons op die Here wag, en dit is op die openbaring van Jesus Christus tydens sy wederkoms: “My siel wag op die Here meer as wagters op die môre” (Ps. 130:6). Elke môre kondig die blink môrester die koms van ’n nuwe dag aan. Ons moet ook ’n verwagting hê vir die Here Jesus se wederkoms en al ons werk in sy koninkryk met die oog hierop doen. Dit sal ons help om ons perspektief reg te hou en nie eiebelang in ’n verbygaande wêreld te begin nastreef ten koste van ons geestelike verpligtings nie. Ons moet altyd besef dat Christus ons lewens en werke gaan beoordeel, en net dit wat ewigheidswaarde het, sal die toets deurstaan.

Is jy ’n goeie dissipel van Jesus Christus? Dan sal jy met vrymoedigheid rekenskap van jou lewe voor sy regterstoel kan gee. Indien daar aspekte van jou lewe of bediening is wat nie aan die Bybelse standaard voldoen nie, moet jy jouself ondersoek en ’n nuwe oorgawe aan die Here maak. Word stil voor die Here en vertrou die Heilige Gees om jou in die hele waarheid te lei. Hy is die Een wat ons swakhede te hulp snel en ons krag gee om sonder huiwering met die groot taak van dissipelskap voort te gaan.