Print

Keurstene uit die Skatkamer van die Woord

Written by Prof Johan Malan.

Daar is verskeie Christenskrywers wat in hulle nadenke oor die aard en dieper betekenis van ons geloofslewe sekere groot waarhede ontdek en beskryf het. Wat hulle in die hemelse skatkamer van God se Woord gevind het, het hulle harte verlig en vir hulle onmisbare riglyne op die lewensweg geword. Dit het hulle aangespoor om verder in die onuitputlike skatkamer van goddelike waarhede te delf om hulleself geestelik te verryk.

Hierdie soektog kan net onder die leiding van die Heilige Gees gedoen word, “want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Die groot ontdekking wat alle eerlike soekers na die waarheid doen, is dat al die kosbare beloftes in God se Woord net deur geloof in die naam van Jesus Christus toegeëien kan word – in Hom is hulle ja en amen (2 Kor. 1:20). Dié waarhede is nie abstrakte en onpersoonlike gedagtes nie, maar dieper openbarings van ʼn Persoon – die vleesgeworde Woord (Joh. 1:14). Die soektog na goddelike waarhede moet daarop gerig wees “om die verborgenheid te leer ken van God die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kol. 2:2-3).

Die stellings hieronder is bedoel om ons eie geloof te toets en vas te stel hoe eg ons godsdienstige belewenis is, en of ons regtig opleef na die hoë roeping van God in Christus Jesus. (Fil. 3:14). Dink na oor die volgende waarhede en beoordeel jouself in die lig daarvan:

“Die menslike rede moet altyd op geloof volg; dit moet nooit voor geloof gestel word nie, en geloof nooit vernietig nie” (Thomas A. Kempis). God het aan ons deur sy Woord groot en ondeurgrondelike dinge geopenbaar oor Homself, sy Seun, sy Gees, die wêreld waarin ons leef, sy wondergenade, sy oordele, en ook oor die opponerende koninkryk van die duisternis: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” (Rom. 11:33). Hy het aan ons deur sy Heilige Gees die vermoë gegee om hierdie groot waarhede in die geloof te kan aanneem, al kan ons nie alles met ons verstand peil nie. Geloof in God moet juis die vertrekpunt van ons denke en begrip wees, want “die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid” (Ps. 111:10). Ons leef egter in die eeu van die rede. Menslike logika is die norm waaraan alles gemeet word, en hierdeur verhef die gevalle, ongelowige mens homself teen die kennis van God. Hy skroom nie om op grond van sy beperkte insigte die bestaan van God te betwyfel, sy skeppingswerk as ʼn selfgedrewe evolusieproses te verklaar, wonderwerke soos Christus se opstanding uit die dood te ontken, en daardeur die integriteit van God en sy Woord heeltemal in hulle eie gedagtes te vernietig nie. Sulke mense blus in hulleself die vlam van geloof uit, en word in die proses hulle eie god wat self hulle lotgevalle bepaal. Die Bybel noem hulle dwase (Ps. 14:1).

“Die ryk man is nie hel toe omdat hy uiterlik ʼn slegte lewe gelei het nie. Die Bybel sê nie dat hy owerspel of moord gepleeg het, gedobbel, gedrink of gevloek het nie. Sy probleem was innerlik. Soos alle ongeredde mense het hy ʼn bose hart gehad. In sy verborge hart was hy teen God. Onthou dat hy nie hel toe gegaan het omdat hy ryk was nie. Daar is meer arm mense as ryk mense in die hel. Die ryk man het geweet waarom hy in die hel beland het. Hy het by Abraham gepleit om Lasarus terug te stuur en sy vyf broers ‘dringend te waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.’ In sy gesprek het hy gesê: ‘as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer’ (Luk. 16:28-30). Die ryk man het geweet dat as sy broers die hel wou ontvlug, hulle tot bekering sou moes kom. Hy het hel toe gegaan omdat hy hom nie bekeer het nie” (John Rice).

“Hy wat nie daarop ingestel is om mense te behaag nie en ook nie vrees om aan hulle aanstoot te gee nie, sal groot vrede ervaar, want alle onrus en ontwrigting van die emosies spruit voort uit verbode liefdes en nietige vrees” (Thomas A. Kempis). Wanneer ons nog verbode liefdes nastreef en meer aan mense gehoorsaam is as aan God, sal ons nie die vrede van God in ons harte ervaar nie. Ons moet die Here met ons hele hart liefhê en Hom alleen vrees en dien. Vrees vir mense moet nie ons besluite beïnvloed nie.

“Wanneer my begeertes en God se wil volkome in harmonie is, dan, en dan alleen, is ek vry” (A. Maclaren). Baie Christene het botsende begeertes in hulle harte omdat hulle in twee wêrelde leef. Die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede is nog nie in ʼn volle oorgawe oorgelewer om gekruisig te word nie, daarom kom dit met die begeertes van die inwonende Gees van God in botsing (Gal. 5:17). Solank hierdie toedrag van sake voortduur, is ons nog slawe van verkeerde begeertes en dus nie werklik vry in Christus nie. Ons moet daarna streef om onvoorwaardelik deur die Gees te wandel en net God se wil te doen (Gal. 5:16; Rom. 13:14).

“Christus het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het (Heb. 5:8). Ons karakter sal nooit die gelouterdheid, teerheid en afhanklikheid van God bereik wat dit vir sy vervolmaking nodig het, sonder dat ons deur baie smarte gegaan het nie” (A. Maclaren). Moenie teen die prikkels skop wanneer jy deur ʼn leerskool van lyding en beproewings gaan nie, want in sulke situasies word jou karakter gevorm en leer jy om jou vertroue in die Here alleen te stel.

“Elke ware gelowige raak bewus van sy mislukking, dat hy kortskiet aan dit wat hy in die Here behoort te wees; dan kom daar ’n duidelike ontmoeting met die opgestane Verlosser in ʼn volle oorgawe van die hart sodat die eie-ek kan sterf. Hierop volg ʼn geloofsaanvaarding van Christus se opstandingslewe deur die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees. Die gevolg hiervan is ʼn oorvloedige lewe wat deur die Here Jesus beskryf word as strome van lewende water – kyk Joh. 7:37-39” (V. Raymond Edmund). Na bekering kom almal van ons voor die uitdaging van heiligmaking te staan. Is jy bereid om aan jouself te sterwe, sodat Christus deur die Heilige Gees volle gestalte in jou lewe kan verkry?

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). Om in Christus te bly en te wandel soos Christus is twee seëninge van die nuwe lewe wat hier in hulle wesenlike eenheid aangebied word. Die vrug van ‘n lewe in Christus is ‘n lewe soos Christus” (Andrew Murray).

“In die oordeelsdag sal daar nie aan ons gevra word wat ons gelees het nie, maar wat ons gedoen het” (Tomas A. Kempis). Voor Christus se regterstoel sal elkeen se werke beoordeel word (1 Kor. 3:13). Net soos wat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:17, 26), is kennis wat nie na werke en ʼn aktiewe lewe van toewyding lei nie, ʼn nuttelose bate. “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17; vgl. Jak. 1:22). Ons word nie net ter wille van onsself in die Woord van die waarheid onderrig nie, maar sodat ons ook andere kan onderrig en geestelik opbou (Matt. 28:19).

“Dra die kruis met vreugde, dan sal dit jou dra” (Thomas A. Kempis). As ons die kruis van selfverloëning opneem en Christus volg (Luk. 9:23), sal ons vind dat dit ʼn bevrydende ervaring is omdat ons daardeur van al ons sondes, laste en bekommernis verlos word.

“Ek kan verstaan waarom so baie Christene nie die blydskap het wat hulle behoort te hê nie, en ook nie ʼn loflied in hulle harte nie. Daar moet eers ʼn volle oorgawe van ʼn persoon se hele lewe aan die Verlosser wees sodat hy die volheid van die Heilige Gees kan ontvang” (Robert E. Nicholas). Die Heilige Gees het nie net gekom om ons te wederbaar nie, maar ook om ons te vervul en te heilig. Ons moet vir hierdie seën bid en bereid wees om alles te bely en te laat staan wat in stryd is met sy doelstellings en heilige teenwoordigheid.

“Hoe gou gaan die heerlikheid van die wêreld nie verby nie!” (Thomas. A. Kempis). Ons lewe is soos ʼn nagwaak, en soos die dag van gister as dit vinnig verbyskiet. Ons moet leer om nie net vir die tydelike, sigbare dinge te leef nie, maar vir die onsigbare, ewige dinge van God se koninkryk (2 Kor. 4:18). “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17).

“Daar is vir ons ʼn diep betekenis in die Here se opdrag aan sy dissipels: ‘...groet niemand op die pad nie’ (Luk. 10:4). Jou werk is ʼn ernstige lewenstaak, en dit vereis dat jy baie dinge sal prysgee wat dalk nuttig en goed is. Jy moet bereid wees om sekere versoeke of eise aan jou van die hand te wys” (C. Inwood). In herlewingstye was daar toegewyde predikers wat selfs ete-uitnodigings van die hand gewys het omdat dit inbreuk sou maak op hulle stiltetye en voorbereidings om te preek. Ons moet ook die tyd uitkoop om die Here te dien, want die dae is boos (Ef. 5:16).

“Die groot meerderheid Christene is soos riviere wat na die Arktiese Oseaan vloei – bevrore om hulle mond” (B. Thomson). Christene wat nie die vrymoedigheid het om van hulle verlossing te getuig nie, het nie sterk innerlike oortuigings nie en verval maklik weer in ongeloof wanneer hulle aan toetse en versoekings blootgestel word. Die saad wat in die vlak grond geval het, het gou verskroei en verdroog omdat dit geen wortel gehad het nie (Matt. 13:5-6; 20-21). Sulke mense se lewens word soms met die Dooie See vergelyk, wat altyd net water ontvang maar niks uitgee nie. Hulle geestelike ervaring word gevolg deur stagnasie, afkoeling en selfs ʼn totale verlies aan lewe, daarom eindig hulle onvrugbare lewens in ʼn dooie soutsee of die gevriesde Arktiese Oseaan. ’n Ware Christen se lewe moet soos die See van Galilea wees, wat lewendige water het omdat dit net soveel uitgee as wat dit inneem.

“Ek sien hierdie wêreld as ʼn sinkende skip. God het aan my ʼn reddingsboot gegee en gesê: ‘Moody, red soveel as wat jy kan’” (D.L. Moody). Alle ware Christene het “oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24), en dit behoort hulle primêre doel te wees om ook ander mense te help om van die sinkende skip van hierdie wêreld af oor te kom na die lewensboot waarheen die Here Jesus alle sondaars roep (Luk. 19:10). Wanneer ʼn sondaar tot bekering kom en die Here Jesus as Verlosser aanneem, kry hy ook ʼn veilige plek in hierdie reddingsboot. Die “skip” van hierdie wêreld is die trotse pronkstuk van mensehande (soos wat die Titanic ook was), maar weens die hoogmoed van sy kaptein stuur dit af op vernietiging. Ons Christene wat hierdie ramp kan sien kom, moet mense dringend nooi om die gedoemde skip te verlaat en hulle toevlug betyds by Christus te soek. Hy hou sy reddende regterhand na ons toe uitgestrek, soos ook eens na Petrus toe hy begin het om in die stormsee te sink (Matt. 14:28-32).

“Verbondenheid aan Christus is die enigste geheim van onverbondenheid aan die wêreld” (A.J. Gordon). Daar is net een alternatief vir ʼn lewe in die verdorwe wêreld waarin ons gebore is, en dit is die nuwe lewe in Christus Jesus. Liefde vir die een sluit liefde vir die ander een uit, daarom dwing dit ons om ʼn duidelike keuse te maak: “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Vleeslike Christene wat deur hulle ongekruisigde natuur steeds die wêreld liefhet, tree in stryd op teen die Heilige Gees wat die nuwe natuur van Christus in hulle wil vestig en as ʼn totaal nuwe lewensbeginsel wil laat seëvier (Gal. 5:17). Daar is ʼn oplossing vir hierdie probleem: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

“Ons mislukkings en valshede moet ons na Christus toe dryf – nie van Hom af weg nie” (M.G. Pearce). Wanneer ons agterkom dat ons dubbelhartig is en ʼn lewe van dubbele standaarde lei, moet dit ons nie daarvan afskrik om onsself Christene te noem en as sy dissipels geken te word nie. Ons moet dan juis die geleentheid gebruik om introspeksie te doen en die omvang van ons probleem duidelik te leer ken – ook daardie verborge sondes en verkeerde gedagtes waarvan niemand anders weet nie. In die lig hiervan moet ons die Skrif ondersoek en groter duidelikheid oor die leer van heiligmaking verkry. “Dit is die wil van God: julle heiligmaking” (1 Thess. 4:3). Hy wil nie net ons siele red nie, maar ons ook volkome heilig maak na gees, siel en liggaam (1 Thess. 5:23-24). Ons moet egter eers met alle bewuste sondes breek voordat ons die volheidslewe deelagtig sal word: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

“Herlewing is die hernuwing van die eerste liefde van Christene. ʼn Herlewing van die ware Christendom skud die kerk wakker, trek dit uit sy teruggevalle toestand op, laat alle groepe ontwaak en vestig die aandag weer duidelik op die eise van God. Herlewing berus op die veronderstelling dat die kerk in ʼn besoedelde en teruggevalle toestand verkeer. ʼn Herlewing lei altyd daartoe dat Christene onder die oortuiging van sonde kom. Mense wat daarop aanspraak maak dat hulle God ken, en teruggeval het, sal nie ontwaak om die Here te dien voordat hulle hul harte deursoek en van hulle sonde bewus geword het nie. Die mag van sonde moet gebreek word. Christene bekeer hulleself by hernuwing. Herlewing is niks anders nie as ʼn nuwe begin van gehoorsaamheid aan God. Met gebroke harte moet Christene in diepe nederigheid in die stof voor die Here buig, al hulle sondes bely en afstand daarvan doen” (Charles Finney).

“Baie van die kerk se verslapping in geestelike toewyding, en die gevolglike versterking van wêreldgesindheid, vloei voort uit die verwaarlosing van die inspirerende en wêreldoorwinnende hoop op Christus se wederkoms” (A. Maclaren). Dit is absoluut noodsaaklik dat elke Christen die beloftes oor die Here Jesus se wederkoms ernstig sal opneem. Dit leer ons lankmoedigheid terwyl ons op Hom wag: “Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby” (Jak. 5:8). ʼn Christelike toekomsverwagting skerp ook ʼn toewyding tot heiligmaking by ons in, sodat ons onberispelik kan wees wanneer ons voor die hemelse Bruidegom verskyn (Ef. 5:25-27; 1 Thess. 3:13; 2 Pet. 3:11, 14).

“’Ek het julle ʼn voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen’ (Joh. 13:15). Wat ʼn kosbare woord! Wat ʼn wonderlike moontlikheid! Die Here Jesus sal aan my die goddelike krag van sy liefde verleen sodat ek dit ook aan ander kan toon. Hy seën my sodat ek ander kan seën. Hy het my lief sodat ek ander kan liefhê. Hy het ʼn dienskneg vir my geword sodat ek ʼn dienskneg vir ander kan word. Hy het Homself geheel en al vir my gegee sodat ek myself geheel en al vir ander kan gee. Ek moet net aan ander doen wat Hy vir my gedoen het. Ek kán dit doen omdat Hy dit vir my doen” (Andrew Murray).

“In die lewe van genade is vergifnis een van die eerste seëninge wat ons van God ontvang. Dit is ook een van die wonderlikstes. Dit is die oorgang van die ou lewe na die nuwe lewe – die teken en belofte van God se liefde. Saam met dit ontvang ons die reg tot al die geestelike gawes wat in Christus vir ons voorberei is. Die verloste heilige kan nooit, hier óf in die ewigheid, vergeet dat hy ʼn vergeefde sondaar is nie. Niks werk kragtiger in ons as God se vergewensgesinde liefde wat voortdurend as ʼn lewende werklikheid deur die Heilige Gees vernuwe word om ons liefde te laat opvlam, ons vreugde op te wek of ons moed te versterk nie. Elke dag herinner elke gedagte aan God ons hieraan; ons het alles aan vergewensgesinde genade te danke. Hierdie vergewende liefde is een van die grootste wonders van die goddelike natuur. God vind sy eer en heerlikheid daarin, en Hy wil ook hê dat sy verlostes in die groot seën van hierdie wete sal deel. Hulle word geroep om die vergifnis wat hulle so ruim en menigvuldiglik ontvang, ook aan ander te skenk” (Andrew Murray).

“Deur ons eerste geboorte het ons deelgenote aan Adam se dood geword. Deur ons tweede geboorte het ons deelgenote aan die tweede Adam se dood geword. Elke gelowige wat vir Christus aanneem, word ’n deelgenoot in die krag van sy dood, en is dood vir sonde. ’n Gelowige kan egter onkundig wees oor baie van dit wat hy verkry het. Tydens hulle bekering is baie gelowiges só bewus van Christus se dood vir hulle sonde as ’n daad van regverdigmaking, dat hulle nalaat om die betekenis daarvan te probeer verstaan dat hulle in Hom dood is vir sonde. Dit is eers wanneer hulle die behoefte aan Christus vir hulle heiligmaking ervaar, dat die begeerte opgewek word om die gelykvormigheid aan sy dood te verstaan. Hulle vind dan die geheim van heiligmaking in die feit dat hulle, soos Christus, ook vir die sonde moet sterf” (Andrew Murray).

“Alhoewel die kruis van Christus versier is deur die digter en die kunstenaar, sal die ywerige soeker na God vind dat dit steeds dieselfde wrede instrument van vernietiging is as wat dit in die ou tyd was. Die weg van die kruis is nog altyd die pynlike weg na geestelike krag en vrugbaarheid. Moet dit nie probeer ontwyk nie. Moenie ’n maklike uitweg soek nie. Moenie toelaat dat jy aan die slaap gesus word in ’n gemaksugtige kerk wat kragteloos en sonder enige godsvrug is nie. Moenie die kruis verf of met blomme versier nie. Aanvaar dit vir wat dit is, net soos wat dit is, en jy sal vind dat dit ’n ruwe weg na die dood en die lewe is. Jy moet ook volkome daaraan sterf” (A.W. Tozer).

“God soek nie na briljante manne nie, Hy is nie afhanklik van welsprekende manne nie, en Hy is nie beperk tot talentvolle manne om sy evangelie in die wêreld uit te stuur nie. Hy soek na gebroke manne wat hulleself beoordeel het in die lig van Christus se kruis. Wanneer Hy enigiets gedoen wil hê, dan gebruik Hy manne wat aan die einde van hulleself gekom het, wie se vertroue nie in hulleself is nie, maar in God” (H.A. Ironside).
Andrew Murray 32