Print

Transformasie Afrika 2007: Die Misleiding Duur Voort

Written by Prof Johan Malan.

‘n Suid-Afrikaanse gebedsbediening, Jerigo Mure, het van 19 tot 23 Februarie 2007 ‘n Afrika Gebedskonferensie by die Alte Lekker-jeugkamp buite Pretoria gehou. Die hoofsprekers op die byeenkoms was George Otis van die Sentinel-groep in Amerika en Graham Power, direkteur van Transformasie Afrika in Kaapstad. Die geleentheid was ter voorbereiding van die Wêreldgebeddag wat op Pinkstersondag, 27 Mei 2007, gehou sal word.

George Otis Jr.

George Otis is die afgelope aantal jare ná die bekendstelling van sy eerste twee transformasie-video’s, na aanleiding waarvan Transformasie Afrika tot stand gekom het, sterk deur verskeie evangeliese Christene gekritiseer oor sy oordrewe voorstelling van herlewings en omvangryke sosiale transformasies wat na bewering in plekke soos Kali in Kolombië, Almolonga in Guatemala, Kiambu in Kenia, en Hemet in Kalifornië plaasgevind het. Latere gebeure in hierdie plekke, asook in die res van die wêreld, bevestig nie sy aansprake nie en is dikwels eerder ‘n bewys van ‘n teenoorgestelde beweging.

Op die gebedskonferensie naby Pretoria het Otis sy benadering van die bespreking van wêreldwye transformasies verander en ‘n kort video gewys wat soos volg bekendgestel is: “Die Sentinel-groep bied ‘n film uit ‘n ander hoek aan: Die naderende vuur.” Die video het kort uittreksels uit filmmateriaal en TV nuusberigte oor die vernietiging wat wêreldwyd deur oorloë, terroristegroepe en natuurrampe veroorsaak word. Die tonele van ‘n verbrokkelende en brandende wêreld skep by leiers ‘n gevoel van hopeloosheid omdat hulle nie die probleme van ons tyd kan oplos nie. Hulle diplomasie, oorloë en politieke oplossings werk net eenvoudig nie.

Otis het tot die gevolgtrekking gekom dat gebed die enigste hoop vir ‘n verwarde wêreld is. Hy het só uit Jesus se gebed aangehaal: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9-10). Hy sê dat die koninkryk van God nét so op aarde ingestel moet word as wat dit in die hemel is – in al sy goddelike heerskappy, reinheid en produktiwiteit. Dit beteken dat daar hoegenaamd geen boosheid in die samelewing mag wees nie, omdat daar geen boosheid in die hemel is nie. Hy sê dat Lagos, Nairobi, Durban en al die stede van Afrika ‘n groot herlewing en transformasie nodig het om ooreenkomstig God se koninkryk te kan leef.

Otis het na verse soos die volgende verwys om aan te toon wat transformasie behels: “Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word” (Jes. 1:26). Tradisionele godsdienste en toorkuns moet ook afgelê word: “En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak; en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand... So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword” (Hand. 19:18-20).

George Otis sê dat anders as die film oor menslike lyding, oorloë en natuurrampe, daar 500 gemeenskappe in die wêreld is waarin daar tans herlewing is. Hy sê dat gebed en vas van kritieke belang is om herlewing en transformasie te weeg te bring, want daardeur alleen kan geweld, misdaad en lyding beëindig word. Hy sê dat wanneer God in ‘n samelewing teenwoordig is, alles vanself in plek val. ‘n Getransformeerde samelewing word gedefinieer as “’n woongebied, stad of nasie waarvan die waardes en instellings deur die genade en teenwoordigheid van God oorheers word. Hiervoor is daar ‘n sterk invloei van bonatuurlike krag nodig. Otis het sy gesprek oor transformasie afgesluit deur te sê: “Koninkrykswaardes moet in die openbare lewe in ere gehou word en ook na die volgende geslagte oorgedra word.”

Kommentaar: George Otis is vir sy teologie van morele waardes (“moral government theology”) bekend, waarin daar ‘n vorm van generiese goedheid aan God toegeskryf word op grond waarvan Hy mense se sonde vergewe sonder enige verwysing na die versoeningswerk van Jesus Christus aan die kruis (kyk: George Otis en sy misleidende teologie). In sy voordrag het hy nooit na die soendood van Christus en die betekenis daarvan vir die redding van sondaars verwys nie. Hy het net een keer die naam van Jesus genoem toe hy gesê het dat Jesus tot die Vader gebid het dat die koninkryk van die hemel na die aarde moet kom. Dit is ‘n baie ernstige tekortkoming hierdie en lê aan die wortel van sy valse evangelie. Hy beklemtoon die onderwerp van sonde baie sterk, en het selfs ‘n stelsel van geestelike kartering bedink om die sondes van ‘n gemeenskap te definieer en te lys. Hy beveel hiervoor belydenis en bekering aan, maar sonder om aan te toon dat Christus die prys vir ons oortredings betaal het deur sy lewe af te lê en sy bloed op Gólgota te stort. Baie van die moderne predikers het die kruis van Christus ook eenkant toe geskuif, maar word nogtans nie as gevolg van hulle noodlottige dwalings deur hulle groot aantal volgelinge verwerp nie.

Heerskappy-teologie is die belangrikste fokuspunt van die boodskap wat Otis verkondig. Hy verkies Ou Testamentiese gedeeltes waarin Israel se toekomstige posisie in die millennium ná die Messias se koms beskryf word. Selfs wanneer hy uit die Nuwe Testament aanhaal, doen hy dit net om sekere aspekte van gebed en groepsbekerings te bewys (bv. Hand. 19:18-20, soos hierbo aangehaal). Waarom verwys hy nie na gedeeltes soos Hand. 26:17-18, Romeine 3:23-25, Efésiërs 1:7 en 1 Johannes 1:7 nie?

Die Here Jesus maak dit baie duidelik dat sover dit die koninkryk van die hemel betref, sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Matt. 18:36). Dit is om hierdie rede dat die wêreld vir Christus en sy dissipels haat (Joh. 15:18-19). Ons is volgelinge van die verwerpte en gekruisigde Verlosser wat steeds deur die meerderheid mense gehaat en geminag word (Joh. 3:19). Diegene wat op die breë pad hel toe is, is veel meer as die Christene (Matt. 7:13-14). Ons moet soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag skyn (Fil. 2:15) en ons bediening vervul sonder om onbybelse verwagtings te koester dat die koninkryk van God in hierdie bedeling op hele gemeenskappe, stede en nasies sal neerdaal. Dit is slegs ná die koms van die Koning dat God se koninkryk in al sy heerlikheid openbaar sal word (Sag. 8:20-23; Jes. 2:2-4).

Die groot planne en verwagtings van die transformasie beweging is dispensasioneel heeltemal uit plek en sal nie na die instelling van God se koninkryk in “die teenwoordige bose wêreld” lei nie (Gal. 1:4). Rus liewer evangeliste en sendelinge toe en finansier hulle om in die bose wêreld in te gaan en die evangelie te verkondig sodat sommige gered kan word.

Graham Power

Die persoon wat die grootste opspraak op die konferensie verwek het, is Graham Power van Transformasie Afrika. Sy praatjie het sekere lede van die gehoor laat besluit om hulleself uit die beweging te onttrek en selfs uit kerke te bedank wat steeds hierdie aksie steun.

In sy boodskap het Graham weer die visioen beskryf wat hy oor die transformasie van Suid-Afrika, Afrika en uiteindelik die hele wêreld gehad het. Hy het daarna baie aandag gewy aan ‘n ondervinding wat hy in Februarie 2002 gehad het toe hy ‘n gebedsontbyt vir mans in Stellenbosch bygewoon het. Die spreker was ‘n 28-jarige Kleurlingman van Khoi oorsprong. Hy was ‘n voormalige bendelid en sy hele liggaam is vol tatoeëermerke. Sy onderwerp daardie oggend was “Die Heilige Gees.” Ná die byeenkoms het hy die mans vorentoe genooi om die Heilige Gees te ontvang. Een van hulle het weggehardloop, maar die ander het gebly om die “seën” van val in die Gees te ontvang.

Graham sê dat toe die man sy hand op sy skouer gelê het, het hy omgeval maar kort daarna weer opgestaan. Hy het nog twee keer geval, en die derde keer het hy 1½ uur lank op die vloer bly lê. Dit het vir hom gevoel of daar ‘n elektriese stroom deur sy hele liggaam gaan, en hy het die ondervinding as “wonderlik” beskryf. Hy het ook ‘n stem gehoor wat met hom praat en herhaaldelik sê: “Ek is die ruggraat” (ses keer), “Ek is die hoof van die ruggraat” (ses keer), “Ek is die koning” (ses keer), en “Ek is die koning van die konings” (ses keer).

Onmiddellik daarna het Graham ‘n ervaring buite sy liggaam gehad. Hy het homself gesien terwyl hy op sy rug op die vloer lê met sy arms uitgestrek na die kante toe sodat hy die vorm van ‘n kruis aangeneem het. Hy het toe gesien hoedat Afrika rondom sy liggaam vorm met Kaapstad by sy voete en Egipte by sy kop. Sy hande het in die rigtings van Wes- en Oos-Afrika gewys. Hy het ‘n vreemde sensasie van pyn gevoel wat van sy voete af deur sy bene en rug opgestyg het totdat dit by sy skouers en arms gekom het. Hy het dit vertolk as ‘n herlewings- en transformasiebeweging wat van Suid-Afrika af tot in Sentraal-Afrika sal versprei, en uiteindelik ook na die hele Afrika. Hy het ook gesien hoedat sy arms langer word en rondom die aardbol reik. Dit het vir hom daarop gedui dat die beweging wat in Suid-Afrika begin het, uiteindelik die hele wêreld sou insluit.

Graham het ooreenkomstig hierdie mistiese ervarings opgetree en die mikpunte met sy Wêreldbiddag aansienlik uitgebrei. Hy sê dat 199 lande in 2006 op Pinksterdag aan hierdie geleentheid deelgeneem het, en hy hoop dat in 2007 al 220 lande van die wêreld betrokke sal wees. Hy het Jesaja 66:18 aangehaal, waar die Here sê: “Die tyd kom dat Ek al die nasies en tale versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.” Graham het hierby gevoeg: “God se plan sal in Afrika begin en uiteindelik die hele wêreld insluit.”

Hy het ook ‘n groot gedeelte uit Jesaja 52:6-12 aangehaal, wat in werklikheid op Israel in Christus se duisendjarige vrederyk betrekking het. Die Here sê: “My volk sal my Naam leer ken... Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! ... Die Here het sy volk getroos, Jerusalem verlos... al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, [‘van die hoë plekke af’ het Graham bygevoeg] want die Here trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.”

Graham sê dat al die ware kinders van God na hoë plekke toe moet gaan, soos bv. hoë berge, om te bid dat sy koninkryk sal kom. Hy het aangekondig dat hy en ‘n groep mense op Pinksterdag op 27 Mei 2007 bo-op Berg Kilimandjaro gaan bid. Van hierdie hoogste punt af in Afrika sal hulle dan afkom om deur God gebruik te word om al die seëninge van sy koninkryk oor die vasteland uit te stort. Hy vra dat soveel as moontlik mense aan die Wêreldbiddag sal deelneem, verkieslik van berge en ander hoë plekke af, maar ook in kerke.

‘n Sekere persoon in Suid-Afgrika het sy visioen met Graham Power gedeel en vir hom gesê dat hy die voorbereidingswerk moet doen vir ‘n groot herlewing wat oor twee jaar sal uitbreek. Graham aanvaar die visioene wat ander mense het, en sê dat verskeie daarvan al aan hom oorgedra is. Volgens hierdie visioene sal herlewingsligte reg oor die donker kontinent aangesteek word om dit na die heerlikheid van God se koninkryk op aarde te transformeer. Van Afrika af sal die herlewing dan na die res van die wêreld versprei.

Gedurende sy praatjie het Graham Power dikwels gepraat oor wat God en die Heilige Gees doen, maar het nooit oor Jesus Christus as die Lam van God gepraat wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29), en wat sal terugkom om die wêreld in geregtigheid te regeer nie.

Kommentaar: Graham Power is ‘n toegewyde leier en organiseerder van die transformasie beweging. Dit is duidelik dat hy absoluut glo in die buite-Bybelse openbarings wat hy tydens mistiese ervarings gehad het. Hy besef klaarblyklik nie dat sy koninkryksvisie in stryd met die Bybel is omdat dit in botsing met die geaardheid en beginsels van die kerkbedeling is, soos deur die Bybel bepaal nie. Die verse wat hy as onderskraging vir sy koninkryksvisie uit Jesaja 52 aangehaal het, is vir ‘n toekomstige bedeling op Israel van toepassing. Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 1106) sê: “Die blydskap waarvan Jesaja in 52:7-8 praat, sal vervul word wanneer Israel se Messias na Sion terugkeer om te regeer. Sy regering sal deur vrede gekenmerk word.”

Graham en sy medewerkers pas die voorwaardes vir Israel se nasionale bekering in 2 Kronieke 7:14 ook op ander volke toe. Die meerderheidsteun wat die koninkryk van die duisternis egter geniet totdat Christus terugkom om die Antichris en sy volgelinge te vernietig en die duiwel in ‘n bodemlose put te bind, maak ‘n situasie soos dié egter baie onwaarskynlik in enige land in die wêreld. In hierdie bedeling werk die Here met individue eerder as met volke.

Hoewel baie Christene met eerbare bedoelings die transformasiebeweging ondersteun omdat hulle diep besorg oor die verslegtende toestand in Afrika en die res van die wêreld is, is hulle nogtans besig om ‘n mensgemaakte visie vir die vestiging van God se koninkryk na te jaag. Hulle moet hierdie beweging ondersoek om die ernstige dwalings en swakhede daarvan te ontdek. Hoe kan hulle met George Otis assosieer, wat nie uitdruklik sy plan vir veranderde lewens op die bloedevangelie van die Lam van God baseer nie? Hoe kan hulle die koms van God se koninkryk verwag voordat die Koning kom? Hoe kan hulle ooit verwag dat hemelse toestande nét so in ‘n wêreld kan bestaan waar die meerderheid van die mense hardkoppige bewandelaars van die breë weg is?

Sien hulle nie die groot afval vanaf Bybelse waarhede rondom ons raak nie? (vgl. 1 Tim. 4:1). Dit is sekerlik eindtydse tekens van ‘n rebelse en geestelik vyandige wêreld wat in die komende verdrukking deur God geoordeel sal word wanneer die Antichris, as die mens van sonde, oor die wêreld regeer. Verlore siele moet soos brandhout uit die vuur van dreigende oordele geruk word, sodat hulle die toekomstige toorn kan ontvlug (1 Thess. 1:10). Hulle wat “vrede en veiligheid!” uitroep terwyl donker wolke van goddelike oordele rondom die wêreld saampak, sal skielike verderf ervaar in plaas van die koninkryk van God wat oor hulle neerdaal (1 Thess. 5:3).

George Otis moet eerder sy laaste video oor ‘n gebroke en oorloggeteisterde wêreld verder uitbrei en planne beraam om siele gered te kry in die Naam van Jesus Christus wat die losprys vir alle sondaars aan die kruis betaal het, as om verwagtings vir die openbaring van God se koninkryk in hierdie bedeling te skep.

Graham Power se idee dat meer krag deur gebede gegenereer sal word wat van die top van hoë berge af gebid word, is afkomstig van die beginsels van strategiese geestelike oorlogvoering wat deur George Otis, Peter Wagner, Cindy Jacobs, Ted Haggard en andere nagevolg word. Hierdie soort gebed is op die neerwerp van demoniese vestings in die lugruim ingestel, maar het geen Bybelse grondslag nie. Ons moet na die basiese beginsels van die evangelieboodskap terugkeer, waarin die klem hoofsaaklik op gesprekvoering met sondaars val – veral as individue, maar ook in kleingoepsverbande. Die transformasie van totale samelewings sal slegs ná Christus se koms plaasvind, wanneer Hy sy heiliges sal beloon en sy vyande oordeel.

Watchman Nee 27