Print

Geloofswerk op ‘n Sendingstasie

Written by Prof Johan Malan.

Daar word in ons tyd baie klem op geloof met die oog op wonderwerke gelê. In die proses word geloof dikwels aan vleeslike begeertes van die mens dienstig gemaak, soos bv. om gou ryk te word of gou gesond te word. Wat is ware geloof en waarvoor het ons dit nodig?

Geloof is die band tussen ons en die onsienlike God. Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek (Heb. 11:6). Die eerste saak waarvoor ons God in die geloof vertrou, is om ons siele op grond van die Here Jesus se soenverdienste aan die kruis te red. Daarna behoort alles wat ons doen, binne ‘n geloofsraamwerk te geskied. As ek werk soek, of wat ook al doen, vertrou ek die Here om suksesvol te wees. As ek hospitaal toe gaan, stel ek my geloof in die Here om die mediese behandeling wat ek sal kry, vir my genesing te gebruik.

Of ek eet of drink of enigiets doen, streef ek in die geloof daarna om die Here in alles te verheerlik. In die geloof weerhou ek myself van sondige dade en gedagtes. Wanneer ‘n Christen nie in die geloof optree nie, maar in die vlees, deur op sy eie insigte en vermoëns staat te maak en die begeerlikhede van die vlees na te jaag, dan leef hy nie uit die geloof nie en mishaag sodoende die Here. Paulus sê: “Die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Heb. 10:38).

In ons geloofslewe vertrou ons die Here nie noodwendig altyd vir groot en dramatiese dinge nie, maar vir dit wat ons absoluut nodig vir oorlewing het, asook vir die uitvoering van ons opdrag om sy getuies op aarde te wees. Die feit dat ons in ‘n wêreld leef wat in die mag van die Bose lê, veroorsaak dat ons dikwels in krisisse sal wees waarin ons die hulp van die Here dringend nodig het. Dan moet ons nie twyfel nie, maar die Here in die geloof vir uitredding en voorsiening in ons behoeftes vertrou. Die voorsiening van die Here geskied soms op ‘n verrassende wyse en kan as ‘n wonderwerk beskou word, as ons dit net wil raaksien.

Geboorte van ‘n sendingstasie

As ‘n praktiese demonstrasie van ‘n lewe van geloof word ‘n oorsig van geloofstoetse en wonderwerke in die lewe van ‘n sendeling in die voormalige Transkei aangebied. In April 1988 het ek vir ‘n week lank by Harry en Gay Oosthuyzen op ‘n sendingstasie by Kentani naby Butterworth gebly toe ek vir die Gideons Nuwe Testamente in skole in daardie distrik versprei het. In hierdie week het ek ‘n intieme kykie in Harry en Gay se lewens as diensknegte van die Here gekry. Dit is ‘n merkwaardige verhaal van die weë van die Here in die lewens van oorgegewe volgelinge van Hom. ‘n Onwrikbare geloof en wag op die leiding en voorsiening van die Here is wesenlik met hierdie verhaal deurweef, en staan in skrille kontras met steun op menslike vermoëns en die neiging tot maklik tou opgooi as dinge moeilik begin raak.

Harry Oosthuyzen is in die Transkei gebore en het daar op ‘n plaas grootgeword. Sy pa was Afrikaans- en sy ma Engelssprekend, en almal van hulle kon ook goed Xhosa praat. Op 7-jarige ouderdom het Harry reeds sy hart vir die Here gegee en as ‘n 26-jarige man het hy in 1952 ‘n roeping ontvang om sy lewe voltyds aan evangelisasie te wy. Hy het ‘n sterk begeerte gehad om ‘n Bybelskool te begin en Xhosasprekendes as evangeliste en leraars op te lei. Die Here het dit selfs tot sy kennis gebring dat hy die see van die Bybelskoolterrein af sou kon sien. Daar was by hom geen twyfel dat hy homself vir hierdie bediening moes voorberei nie.

Om hierdie roeping te kon vervul, moes Harry eers teologiese opleiding kry. Hy het in 1958 vir ‘n jaar lank aan die Cliff Evangelist College in Sheffield, Engeland, gestudeer. Aan die einde van dié jaar het hy besluit om vir ‘n B.Th.-graad aan die Toronto Bible College in Kanada te gaan studeer. Hy was steeds vir al sy behoeftes van die Here afhanklik en het ernstig vir die reisgeld na Kanada gebid. In dié tyd kon ‘n sendeling in Suid-Afrika een aand nie slaap nie omdat hy gedurig net aan Harry gedink het en later besef het dat hy om een of ander rede in nood verkeer. Die volgende oggend het die sendeling sy suster in Ierland gebel, Harry se adres vir haar gegee en haar gevra om dadelik namens hom ‘n bedrag geld aan die jongman te stuur.

Dit het Harry in staat gestel om ‘n vliegtuigkaartjie na Kanada te koop en hy het met net 13 dollar in sy sak daar aangekom. Die Here het hom egter deurgedra en ook in 1962 in Toronto aan hom ‘n vrou gegee met die naam van Gay, die dogter van ‘n plaaslike predikant. Reg van die begin af het Harry en Gay baie gevas en gebid en geglo dat die Here wat hulle geroep het, getrou is. Hulle het vroeg in 1963, ná die voltooiing van Harry se studies, na Suid-Afrika teruggekeer. Eers het Harrry al sy teologiese boeke en lesings, asook ‘n paar trougeskenke wat hulle ontvang het, in ‘n kis gepak en na Suid-Afrika verskeep. Dié betrokke skip het egter ‘n ent buitekant die Oos Londense hawe gesink.

Harry en Gay het net genoeg geld vir ‘n vlug na Londen gehad, en daar vir die res van hulle reisgeld op die Here gewag. ‘n Week later kon hulle die reis voortsit, maar hulle kon net een kaartjie op die direkte vlug na Johannesburg bekostig. Die ander kaartjie was op ‘n goedkoper vliegtuig wat oor Parys, Athene en verskeie lande in Oos-Afrika na Suid-Afrika gevlieg het. Harry het dié vlug geneem, met net een pond in sy sak. Hy het gereël dat Gay eers vier dae later uit Londen sou vertrek, sodat hulle saam in Johannesburg aankom. Toe Harry se vliegtuig in Mosambiek geland het, is aangekondig dat die lugredery bankrot was en dat die vliegtuig nie verder sou vlieg nie. Harry is daarvandaan per trein na Johannesburg toe.

Tydens die treinreis is dit sterk op Harry se gemoed gelê om na die lugredery se kantoor in Johannesburg te gaan en hulle vir die vlug te bedank. Die boodskap was duidelik: “Gaan sê vir hulle dankie omdat hulle jou na Suid-Afrika teruggebring het.” Harry se eerste reaksie was om die gedagte teë te staan omdat die redery hom eintlik sleg in die steek gelaat het deur nie die vlug te voltooi nie. Die gedagte het egter by hom gebly, en in Johannesburg het hy in die strate gestap totdat hy die kantoor gekry het. Hier het hy gevra om die bestuurder te spreek. Een van die dames by die toonbank het sy naam gehoor, en gesê: “O, mnr. Oosthuyzen, hier is ‘n brief vir u.” Hy was stom van verbasing, want waarom sou daar juis by dié kantoor vir ‘n onbekende soos hy ‘n brief wees? Toe hy dit oopmaak, was daar twee treinkaartjies na Oos-Londen in die koevert. Van wie af dit gekom het, het hy nie geweet nie.

Die bestuurder van die redery was in Londen, maar sy vrou was baie dankbaar toe Harry sy hartlike waardering vir die vlug na Mosambiek uitspreek. Die ander mense het die redery erg gekritiseer, maar hierdie vriendelike jongman kom spreek sy dank uit! Die vrou was só positief teenoor Harry dat sy hom met haar groot motor stasie toe geneem het om besprekings te doen, en ook lughawe toe waar hulle net betyds was om Gay te ontmoet.

In Oos-Londen het Harry en Gay by sy moeder gebly in afwagting op die verdere leiding van die Here. Hy was sterk onder die oortuiging dat die beoogde Bybelskool interkerklik moes wees ten einde dit vir lede van verskeie kerke toeganklik te maak. Dit moes ook ‘n geloofsonderneming wees waarin studente geen fooie betaal nie, sodat hulle én die personeel kon leer om in diepe afhanklikheid van die Here hulle studies te voltooi en hulle werk te doen.

In antwoord op gebede het die Here dit op Harry se hart gelê om Butterworth toe te gaan. Hy het gewonder hoekom, want ‘n mens kan nie die see daarvandaan sien nie. Hier het ‘n vrou hom egter na ‘n Christen-sakeman op Kentani verwys wat ‘n stuk grond teenaan die dorp te koop aangebied het. Van die een kant van hierdie terrein af kon Harry in die verte die see sien, en hy het onmiddellik geweet hy staan op die bestemde plek. Harry het egter nie geld gehad nie, en aanvanklik die terrein vir R20 per maand gehuur.

Harry en Gay het in ‘n eenvoudige sinkgeboutjie op die perseel ingetrek, en in die grootste armoede geleef terwyl hulle op die Here gewag het om die vestiging van die Bybelskool ‘n werklikheid te maak.  Die volgende twee jaar, tussen 1963 en 1965, het die Here hom en sy vrou getoets om te sien of hulle te midde van menslik onmoontlike omstandighede sou voortgaan met die roeping waarmee Hy hulle geroep het. Hulle meubels was lampoliekiste, en in die donker nagte het rotte en muise in die sinkgeboutjie rondgehardloop. Geld was só skaars dat hulle net ‘n halwe brood op ‘n keer kon koop. Vir twee jaar lank het hulle geen vleis gehad om te eet nie. Harry het egter altyd op die terrein waar die Bybelskool later gebou is, sampioene gaan pluk wat hulle saam met die brood geëet het. Vir die hele twee jaar lank, terwyl die sendeling en sy vrou in die uiterste armoede geleef het, het die sampioene daar gegroei. Harry het gesê dat hy in die meer as 20 jaar daarna nooit weer ‘n sampioen op dié terrein gesien het nie.

Intussen het Harry amptelike toestemming gekry om met ‘n Bybelskool te begin, gevolglik kon hy die grond koop en op die Bybelskool se naam registreer. Hy het egter geen geld gehad nie. In Oos-Londen, waar hy vroeër op uitnodiging ‘n byeenkoms toegespreek het, het ‘n jong paartjie agtergebly en gesê dat die Here dit op hulle harte gelê het om hulle huis te verkoop en die geld vir Harry te gee. Hulle was nie welaf nie en het jare lank aan die huis gebou. Harry het hierdie aanbod vyf keer geweier en hulle gevra om weer oor die saak te gaan bid en seker te maak die Here wil hê dat hulle dit moes doen. In dié tyd van toetsing het hulle by hul besluit gebly, die huis verkoop en die geld aan Harry gepos. Dit het in Kentani aangekom net toe die oordragdokumente onderteken en die geld betaal moes word. Die Here het waarlik onderneem!

In 1964 het die “Evangeli Xhosa Bible School,” dit is die Evangeliese Xhosa Bybelskool, sy eerste tree gegee. Een student het ingeskryf en Harry het vir hom klas gegee asof hy vir 50 studente klas gee. Hy en Gay het deur die tyd van toetsing en beproewing gegaan sonder om ontmoedig te word en van hulle geloofsonderneming af te sien. Hiervoor het die Here hulle op wonderbaarlike maniere geseën.

Dit was vir Harry ‘n groot verlies dat die skip waarin al sy teologiese boeke en lesings was, gesink het, want hy het dit baie nodig in die Bybelskool gehad. Hierin het die Here egter ook op ‘n merkwaardige wyse voorsien. Sy moeder in Oos-Londen het ‘n buurman gehad wat dikwels oor die muur gegroet en na haar welstand verneem het. Op ‘n dag het hy gevra of sy nie ‘n seun met die naam van Harry het nie. Dit blyk toe dat hierdie man by ‘n bergingsmaatskappy werk, en dat hulle ‘n deel van die gesinkte skip se vrag herwin het. Hieronder was ook die kis met Harry se boeke. Die vriendelike man het hom net R10 daarvoor laat betaal. Indien die kis normaalweg deur die hawe ingekom het, sou Harry sowat R100 aan doeane- en aksynsbelasting moes betaal, wat hy in daardie stadium nie gehad het nie. Wat verder merkwaardig is, is dat daar geen water in die kis ingekom het om die boeke te kon beskadig nie.

Evangeliese uitreikings

Die opleiding van predikers en geestelike werkers gaan vir Harry en Gay hand aan hand met praktiese geestelike werk. Skole en woongebiede word besoek, waar die Woord verkondig en traktaatjies versprei word. In 1967 het hulle met ‘n uitreikingsprogram in Butterworth begin. Hulle het ‘n ou motorhuis gehuur, ‘n klein drukmasjien gekoop, en traktaatjies begin druk en versprei. Hulle het die Bybelskool op Donderdae gesluit om dié werk op Butterworth te kon doen. Baie mense is hierdeur gered, en verskeie van hulle het daarna die Here voltyds gedien.

Dit was vir Harry ‘n belangrike saak om die sendingopdrag te gehoorsaam en die blye boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan soveel as moontlik mense te verkondig. Wanneer die geleentheid homself voorgedoen het, veral gedurende Bybelskoolvakansies, het hulle verskeie ander gebiede in die voormalige Transkei en Ciskei besoek om te preek en Christelike lektuur te versprei. As gevolg van Harry en Gay se heelhartige toewyding en onvermoeide ywer het daar ‘n besondere salwing op hulle prediking gerus, asook die lektuur wat hulle versprei het.

Die toegewyde wyse waarop Harry en Gay die sendingopdrag in hulle omgewing uitgevoer het, het na groot deurbrake vir die koninkryk van die Here gelei. In die beginjare het hulle te voet oor die heuwels en deur die beboste klowe gestap om die boodskap van verlossing aan die mense te gaan verkondig. Hulle kennis van Xhosa, asook hulle simpatieke houding oor die geestelike én materiële behoeftes van die inwoners, het baie deure vir hulle oopgemaak. Hulle het dikwels van hulle eie karige besittings met arm mense gedeel. Gay het tydens een van hulle besoeke haar skoene vir ‘n vrou gegee en kaalvoet terug huis toe geloop. Sy het ook van haar kinders se klere weggegee. Geen wonder nie dat Harry die bynaam “Usomlandela” gekry het, die Volgeling van Jesus, omdat hy en sy vrou die opdragte van hulle Meester tot in die fynste besonderhede uitgevoer het. Dit is slegs in ‘n bediening soos dié dat gebeurtenisse soos die volgende plaasvind:

Twee tradisionele swart vroue van die omgewing het op ‘n dag by die Oosthuyzens se huis opgedaag. Hulle het gesê hulle weet nie wat hulle soek nie, maar iets binne-in hulle maak hulle onrustig. Harry het bemerk dat hulle in ‘n geestelike stryd was, en het van die studente in die Bybelskool gekry om hulle te bearbei. ‘n Uur later het hulle met stralende gesigte van hulle redding getuig. Harry en Gay het elke aand na die een vrou se huis gestap om ‘n diens te hou en hulle geestelik op te bou. Al hoe meer mense het begin kom, totdat dit later in die bosse weergalm het soos besoekers op pad diens toe lofliedere sing.

Kort daarna het die vrou by wie die dienste gehou word, verneem dat haar man wat oorkant die Keirivier gewerk het, in Komga in die tronk was. Harry het haar vertroos, vir die man gebid en op die ingewing van die oomblik gesê dat haar man die end van die maand by die huis sou wees en ook van sy redding getuig. Dit sou ‘n groot toets vir die geloofwaardigheid van die sendeling wees, want hy het daarna gesê dat hy nie regtig weet waarom hy só ‘n belofte gemaak het nie. Harry het ‘n brief aan die man in die tronk geskryf en ‘n traktaatjie daarby ingesluit. Die bewaarder was ‘n Christen, en hy het die traktaatjie vir die man in die sel gaan voorlees. Die gevangene het net daar neergekniel en die Here Jesus as sy Saligmaker aangeneem.

Hierna het Harry oor die radio gehoor dat die Staatspresident tydens die Republiekdagvieringe aan sekere gevangenes amnestie sou verleen. Hy het net daar gebid dat hierdie man ook een van hulle sou wees. Hy was ook, en vroeg op die oggend van 31 Mei is hy uit die tronk vrygelaat. Hy het net een rand by hom gehad en daarmee ‘n ent ver in die rigting van die Keirivier op ‘n bus gery. Daarna het hy te voet kortpad oor die plase geneem, deur die Keirivier geswem en verder deur die veld in die rigting van Kentani koers gekies. Dit was reeds nag en hy het sy klere geskeur soos hy deur die ruigtes gebeur het. Die duiwel het hom nog verder aangehits en agterdogtig gemaak met gedagtes dat sy vrou die bokke en skape verkoop het toe sy gehoor het dat hy in die tronk was, en daarna weggeloop het.

Uitasem en gehawend het hy lank ná middernag by die huis aangekom. Hy is eers na die kraal toe, waar hy gesien het dat al sy kleinvee nog daar was. Daarna is hy na die hut toe, waar sy vrou rustig gelê en slaap het. Hy het haar wakker gemaak, en die heel eerste ding waaroor hulle gepraat het, was hulle bekering. Hulle is dadelik na die sendeling se huis toe, waar hulle hom omtrent 4-uur die oggend wakker gemaak en die goeie nuus aan hom meegedeel het. Die vorige aand nog in die diens het almal die man se aankoms verwag omdat dit die laaste dag van die maand was. Min het hulle geweet van sy eensame en moedige reis deur die donker klowe van die Keiriviervallei om ‘n nuwe lewe saam met sy gesin en Christenvriende te begin.

Etlike mense het as gevolg van hierdie gebeurtenis tot bekering gekom, sodat die Baptistekerk hier ‘n gemeente kon begin. Die Bybelskool doen interkerklike werk en stig nie self gemeentes nie. Verskeie gemeentes is egter al na aanleiding van hulle evangelisasiewerk gestig, onder andere ook vier deur die Free Church of Scotland.

Betrokkenheid van Christenstudente

Op ‘n baie spesiale en onbeplande manier het Christenstudente van Grahamstad by evangelisasie- en bouwerk op die sendingstasie betrokke geraak. Op een van sy reise deur die Ciskei het Harry ‘n student van die Rhodes Universiteit naby Queenstown opgelaai waar hy geryloop het. Hy het met hom oor die Here gepraat, en hoewel die student ‘n godsdienstige kerklidmaat was, het hy later erken dat hy nie seker van sy redding was nie. Terwyl hierdie gesprek aan die gang was, het die Bybelskoolstudente agter in die voertuig vir die ryloper gebid. Hy was bereid om sy saak met die Here reg te maak, en Harry het stilgehou sodat hulle langs die pad kon kniel en bid. Met trane van berou het die jongman sy hart vir die Here gegee.

Terug in Grahamstad by die Universiteit het hierdie student as ‘n oortuigde Christen probleme ondervind om geestelik staande te bly, en na die sendingstasie toe gebel om raad te vra. Harry het hom uitgenooi om te kom kuier, en saam met vyf ander studente het hy op Kentani gaan besoek aflê. Dit was die begin van ‘n lang pad van samewerking. Die studente is geestelik verryk en het ‘n nuwe visie vir die werk van die Here gekry. Met hulle terugkeer het hulle die Christen-studentevereniging by die universiteit oortuig om Kentani as arbeidsveld te aanvaar en in vakansietye werkkampe daar te reël. Dit was die begin van ‘n jare-lange verbintenis waarin verskeie geboue op Kentani en Butterworth opgerig en ook baie evangelisasiewerk gedoen is.

Die Here het dikwels op ‘n baie duidelike wyse in die voedselbehoeftes van hierdie groepe studente voorsien. By een geleentheid toe Harry na Oos-Londen is, het Gay gevra dat hy groente moes probeer kry. Die geld was maar skraps en hy sou nie veel daarmee kon koop nie. Daardie dag het die mark ‘n besending aartappels van ‘n boer afgekeur. Die eienaar wou dit nie laat terugvervoer nie, en die uiteinde van die saak was dat dit gratis aan Harry aangebied is. Hoe hulle ook al daarna ondersoek ingestel het, kon hulle niks met die aartappels verkeerd vind nie. Harry het ook nog lemoene gekry en met ‘n groot vrag kos by die huis aangekom.

‘n Ander keer het Harry by die groothandelaar op Butterworth gevra of daar nie dalk voedselprodukte was wat hulle om een of ander rede goedkoop verkoop het nie. Die man het gesê dat daar net ‘n paar sakke rys was, maar dat dit só sleg lyk dat hy skaam was om dit te koop aan te bied. Die kalanders het om die sakke saamgekoek, en net om dit van die vloer af te kry het die handelaar al die sakke rys vir net R4 aan Harry verkoop. Op die sendingstasie het dit geblyk dat die kalanders van buite af teen die sakke opgeklim het, en dat die rys binne-in absoluut skoon en onbesmet was. Vir baie lank het die studente rys as stapelvoedsel gekry, elke keer saam met ‘n ander bykos.

Daar was ook die keer toe Gay en die ander dames gesê het die Here lê dit op hulle harte om vir die Saterdag iets spesiaals voor te berei en aan die studente ‘n koue ete voor te sit. Daar was egter geen geld vir koue vleis nie. Soos wat die naweek nader gekom het, het die probleem al hoe ernstiger begin lyk, maar tóg het die oortuiging gebly om met die koue ete voort te gaan. Dit was later half-elf die Saterdagoggend, en al wat Gay gehad het, was tamaties en wortels. Toe lui die telefoon en die voorsitter van die plaaslike tennisklub wou met Harry praat. Hulle sou die dag wedstryde teen besoekende spanne speel, maar op die laaste oomblik is die byeenkoms afgestel. Die klub het nie geweet wat om met al die koue vleis te maak wat hulle vir die middagete gekoop het nie, en het gevra of die Bybelskool dit nie dalk kon gebruik nie. Wat ‘n spesiale feesmaal was dit nie!

Hoewel die studente die meeste geboue help oprig het, het die Here ook op ander maniere in die behoefte aan wonings voorsien. In ‘n stadium toe daar dringend ‘n woning vir een van die swart dosente van die Bybelskool nodig was, het Harry op ‘n vendusie in Oos-Londen ‘n aanbod vir ‘n groot voorafvervaardigde huis gemaak. Die geraamde waarde daarvan was sowat veertig duisend rand, maar Harry kon op die meeste net een duisend rand bymekaarskraap en het sy aanbod tot dié bedrag beperk. Hy het rondom die huis geloop en dit vir die werk van die Here in besit geneem. Sy tender is egter nie aanvaar nie, omdat dit die laagste was. Die teleurstelling het nie lank geduur nie, want ‘n tyd later het die boer wat die huis gekoop het, gebel en gesê dat Harry dit verniet kon kry. Hy het intussen sy plaas verkoop en het nie meer die huis nodig gehad nie.

Loutering deur lyding

Ten spyte van al die goddelike ingrypings en wonderbaarlike voorsiening deur die Here, was dit ‘n baie moeilike pad waarlangs Harry en Gay gekom het om die werk in Kentani te vestig en op te bou. As ‘n mens net die hoogtepunte van ‘n lang bediening uitlig, dan loop jy gevaar om ‘n baie romantiese beeld van sendingwerk te skep. Mense het al met sulke idees sendingvelde toe gegaan, en as gevolg daarvan die probleme, eensaamheid en weerstand van ‘n sondige wêreld wat deel van kruis dra is, onderskat. Diegene wat nie kan volhard nie, raak ontmoedig en verloor soms gou hulle roeping.

Harry en sy vrou het die soet én die suur van hierdie bediening terdeë geken, en weet om saam met die apostel Paulus te kan sê: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:11-13).

Dit is omdat hulle self swaargekry het, dat hulle weet om andere wat in moeilike omstandighede is, te help en te vertroos (2 Kor. 1:3-5). Die Oosthuyzens het ook, soos Paulus in 2 Korinthiërs 11:27 sê, herinnerings aan koue, honger nagte toe hulle op reis deur allerlei probleme oorval is. Hulle moes een nag in Umtata in openbare toilette slaap toe hulle voertuig gebreek en hulle nie genoeg geld vir ‘n herberg gehad het nie. Harry en die seuns het in die manstoilet op die vloer geslaap, en Gay en die dogters in die damestoilet. Die studente het buite by die petrolpompe geslaap.

Hulle lewensweg het deur baie ander probleme en aanslae gelei, maar hierdie ondervindings het hulle geloof en vasberadenheid net sterker gemaak. Soms het die Here op ‘n wonderbaarlike wyse ingegryp om uitkoms te gee, en in ander gevalle was dit sy wil dat hulle die probleme moes aanvaar en ten beste daarmee saamleef – al kos dit ook voortdurende stryd. Hy gee altyd krag tot oorwinning en genade vir berusting.

Op die vlak waarop hierdie mense leef, word alles waardeer en as komende uit die hand van die Here aanvaar. Die opregtheid en innigheid van tafelgebede tref die besoeker ook onmiddellik. Tydens my besoek was daar altyd genoeg kos op die tafel, maar nooit te veel nie. Toe ‘n ander sendeling een middag tydens ete daar aankom, het Gay en Harry van hulle kos vir hom uitgekrap. Slegs nadat ek daarop aangedring het, het hulle ook van my kos uit die bord gekrap. Dit was vir niemand ‘n verleentheid nie, ook nie vir die besoekende broeder nie, want dit is vir hulle die natuurlikste ding om mededeelsaam te wees en mekaar te help.

Omdat die werk in die sendingvelde so baie en die arbeiders so min is, brand baie van hierdie mense hulleself uit in die diens van die Here. Gay moes ‘n hele huishouding behartig, vir haar jongste van ses kinders skoolhou, in die Bybelskool klas gee, en ook bidure en Sondagskool hou. Die week toe ek daar was, het sy van uitputting in die lesingsaal flougeval. Sy het aan bloedarmoede gely, en Harry moes haar daardie oggend en weer die aand na die dokter op Butterworth neem.

Steeds het hulle egter met die werk voortgegaan en die Here vir sy krag en genade vertrou. Omdat daar altyd vars getuienisse van die Here se reddende genade en troue versorging was, het hulle met die grootste blymoedigheid met hulle vol program voortgegaan.

Uit die Sondagskoolklasse het ook ‘n heel besondere getuienis gekom. Die kinders word daar geleer om die Naam van Jesus te bid, want dan sal die Here hulle gebede beantwoord. Daar was een geval van ‘n 12-jarige kind wat lid was van ‘n gesin waarvan die vader weg was om in die myne te gaan werk, maar hy het nie geld huis toe gestuur nie. Die ma het later besluit om Oos-Londen toe te gaan om geld te soek, en sy het haar twee klein kindertjies in die sorg van die 12-jarige by die huis gelos. Ná drie dae was daar geen kos meer oor nie en die oudste kind sê toe dat hulle moes bid soos hulle in die Sondagskool geleer het. Net nadat hulle gebid en vir die Here kos gevra het, het hulle hond, Twini, in die hut ingekom met ‘n stuk brood in sy bek en dit voor die kinders neergesit.

Die moeilike situasie waarin die sendelinge en baie van hulle bekeerlinge verkeer, het my genoop om vrae oor die voorspoedsteologie aan Harry en sy vrou te vra. Hy verskil baie duidelik van die konnotasies van rykdom en probleemvryheid wat deur sommige mense aan die evangelie gekoppel word. Hy sê dat hy nie die voorspoedsevangelie in die Bybel vind nie. ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie, en Jesus het niks gehad nie. Oorvloed van besittings is nie vir hom ‘n aanduiding van geestelikheid nie, want dan sou dit beteken dat die arm Christene baie min geloof het. Dit, sê hy, is nie waar nie.

Gay is ook baie uitgesproke hieroor. Sy sê dat as iemand die Here wil dien, hy ‘n kruis moet opneem deur die wêreld te verloën. Hierdie kruis beteken ook dat pyn en lyding vir die evangelie verduur moet word. In dié verband het sy Filippense 1:29 aangehaal, waarin daar staan dat dit aan ons “ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.” Verder het sy die volgende gedeelte uit Hebreërs 11 oor die lotgevalle van groot geloofshelde aangehaal: “Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry. Ander het weer die proef van bespottinge  en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond” (Heb. 11:35-38).

Gay het die moontlikheid genoem dat die Here ‘n vorm van lyding en loutering oor Christene in Suid-Afrika kan bring as ‘n voorbereiding vir hulle ontmoeting met die hemelse Bruidegom. Wanneer vervolging kom, is dit die oppervlakkige kitsbekeerlinge wat soos die plantjies in die vlak grond in die gelykenis van die saaier, eerste voor die druk swig en hulle getuienis verloën. Hierdie siftingsproses is nodig om die ware gelowiges van die naamchristene te onderskei. Wat die ware Christene betref, word hulle geloof deur lyding gelouter, want dit is hoe die Here sy kinders geestelik sterk maak en opgewasse vir die stryd wat voorlê – nie deur voorspoed en gemak nie.

Harry en Gay se kinders dien almal die Here. Een van die sterk motiverende kragte in hierdie gesin se lewe is die vooruitsig op die wederkoms van die Here Jesus. Hulle glo dat ons beperkte tyd en geleenthede het om die evangelisasie-opdrag uit te voer. Met die oog hierop moet ons des te meer die tyd uitkoop en werk terwyl dit dag is, want die nag kom wanneer niemand kan werk nie.

Uit hierdie oogpunt gesien, het die Oosthuyzens nie na aardse beloning vir hulle werk gesoek nie, maar na ‘n hemelse beloning (vgl. Heb. 11:24-26). Ter wille van ‘n groot oes vir die koninkryk van die hemele, was hulle bereid om die hand aan die ploeg te slaan en selfs onder die moeilikste omstandighede nie om te kyk nie. Hulle het die volle wapenrusting van God aangetrek en die goeie stryd van die geloof gestry, terwyl hulle gryp na die ewige lewe waartoe hulle geroep is. Dit is net met ‘n ingesteldheid soos dié dat ‘n kind van die Here werklik in staat sal wees om die proef van foltering en bespotting te deurstaan, en selfs bereid sal wees om as ‘n uitgeworpene beskou te word. Paulus sê ‘n kenmerk van ‘n ware dienskneg van die Here is dat hy “bekwaam [moet wees] om te onderrig en een wat kwaad kan verdra” (2 Tim. 2:24).

Die Here het Harry na ‘n distrik geroep waar die weerstand van die Xhosa-geloof van voorvaderaanbidding en tradisionele genesing deur waarsêers en dolosgooiers seker die sterkste was, omdat die Gcaleka-opperhoof hier woonagtig is. Min sendelinge sou teen hierdie aanslag opgewasse wees. Die Here het egter ook hier ‘n deurbraak bewerkstellig. Harry was op ‘n groot stamvergadering waar die opperhoof en senior stamlede in die beeskraal byeen was. Die ander mense het rondom die beeskraal vergader. Die opperhoof en sy raadslede het vir mekaar ‘n bottel brandewyn aangegee en elkeen ‘n paar slukke daaruit geneem. In ‘n stadium het die opperhoof gevra wat die witman daar soek, waarop Harry gesê het dat hy ‘n boodskap vir hulle het.

‘n Drom is in die middel van die beeskraal gesit en Harry het daarop gestaan en ‘n bekeringsboodskap in Xhosa aan die stam gerig. Een van die raadsmanne wou hom daarna bedank, maar die opperhoof het hom stilgemaak en gesê dat hy self die bedanking sou doen. Die bottel het eers weer die rondte gedoen, toe begin die opperhoof om die sendeling geweldig te vloek en te beledig. Harry het maar net gestaan en bid dat die Here self hierdie saak sal beskik. Skielik het die opperhoof se storie verander. Hy het na die Bybel gewys en gesê: “Daardie boodskap van jou, dit wil ons hê en ek gee jou die reg om dit in die hele stamgebied te verkondig. Net vir jou, witman, wil ons nie hê nie.” Kort daarna is die opperhoof oorlede. Harry was op die begrafnis en het daarop gewys dat die oorledene se woord nie verander mag word nie. Sy opvolger het die besluit eerbiedig en die evangelie is vryelik verkondig. Vroue en kinders was die eerstes wat gered is, omdat die mans geestelik baie harder is.

Die grootste weerstand teen die evangelie het van die tradisionele genesers gekom, die sogenaamde toordokters. Harry en Gay het op ‘n dag ‘n toordokter langs die pad ontmoet. Hy was geweldig vuil, sy hare was in lang toutjies gevleg en sy oë wild en vyandig. Harry het hom ‘n traktaatjie gegee en gesê dat hulle die aand in die omgewing ‘n diens sou hou en dat hy daar moes wees. Die aand was Ntuli, die toordokter, by die diens en toe Harry die uitnodiging maak, het hy eerste opgestaan. Hy het gesê dat hy die middag al vir Jesus aangeneem het, en na sy hart gewys en gesê: “Hy is nou hier!” Hy vertel toe dat hy sy dogter wat van die skool af gekom het, gevra het om die traktaatjie vir hom te lees. Hy het onder sonde-oortuiging gekom, net daar gekniel, sy sondes bely en die Here Jesus as sy Verlosser aangeneem.

Op eie inisiatief het Ntuli sy hare afgesny, homself gewas en al sy toorgoed na die Bybelskool toe gebring. Harry het hom vuurhoutjies gegee om dit aan die brand te steek. Hierdie man het daarna in die distrik geboer en was ‘n sterk getuie vir die Here Jesus. Hy het teenoor die gemeenskap bely dat hy as toordokter baie vir hulle gelieg het, en dikwels sy hare oor sy voorkop getrek het as hy die mense weens al sy leuens nie in die oë kon kyk nie. Ntuli se vrou, kinders en tantes is ook gered. Sy vrou het die langste weerstand gebied, want sy was ‘n tradisionalis en geharde drinker. Sy was ook dronk in diens waartydens sy gered is.

Die werk van die Oosthuyzens het baie uitgebrei omdat die seën van die Here ryklik daarop gerus het. Benewens die Bybelskool is ‘n Bybelsentrum, die Transkei Christian Bookroom, deur Harry se seun, Stephen, in Butterworth gevestig. Die leuse van die boekwinkel is: “Not sales but souls.” Daar is ook ‘n Christelike jeugkamp langs die see opgebou. Die boodskap dat Jesus red het op ‘n baie duidelike wyse uit Kentani en die Bybelsentrum weerklink, en ook oor die groen heuwels van hierdie gebroke landskap tot daar ver waar die groen heuwels met die blou van die Transkeise wildekus saamsmelt. Daar op die verste uithoek is die Galilea-Bybelkamp waar baie jong lewens op ‘n vaste grondslag op die Rots, Jesus Christus, geplaas is. Dosente van die Bybelskool het ook gereelde programme oor Transwêreldradio aangebied, en Harry is dikwels genooi om by regeringsfunksies in die Transkei op te tree.

Harry, of Usomlandela, die Volgeling van Jesus, het ‘n legende in sy eie leeftyd geword, en oral het die Xhosa-mense van hom geweet. Ná sy dood het sy seun die Bybelskool na Natal verskuif en het hy en sy broers en susters met hulle eie bedienings voortgegaan. Die geestelike nalatenskap van Harry en Gay Oosthuyzen sal egter vir altyd voortduur omdat dit ewigheidswerk is. Dit het nie net sin en blydskap in talle veranderde lewens gebring nie, maar ook blydskap in die hemel oor al die siele wat gered is.

Hoe sal jý onthou word?

Watchman Nee 88