Print

Wat is Herlewing?

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Vir die geestelik afvallige kerke van ons tyd is daar net een oplossing, en dit is herlewing. Charles Finney, verduidelik wat só ‘n stap van hertoewyding behels.

“Here, roep u werk in die lewe [laat dit herleef] in die midde van die jare” (Hab. 3:2).

Voordat mense God sal gehoorsaam, moet hulle eers geestelik deeglik ontwaak. Slegs dan sal hulle teëwerkende kragte in hulle eie lewe kan oorkom.

Aktiewe, opgewende gevoelens moet nie met geestelikheid verwar word nie. Dit is deur aktiewe wêreldse begeertes, neigings en gevoelens dat die ware Christendom geblokkeer word. Die menslike wil is, in ‘n sin, aan vleeslike en wêreldse begeertes verslaaf. Dit is dus vir die Here nodig om by mense ‘n skuldgevoel en ‘n begrip van gevaar op te wek, en sodoende ‘n teenoorgestelde aktivering van gevoelens en begeertes te bewerkstellig. Hierdeur word die mag van wêreldse begeertes gebreek en die wil vrygemaak sodat dit God kan gehoorsaam.

Herlewing is die hernuwing van die eerste liefde van Christene, en die gevolg hiervan is die ontwaking en bekering van sondaars. ‘n Herlewing van die ware Christendom skud die kerk wakker, trek dit uit sy teruggevalle toestand op, laat alle groepe ontwaak en vestig die aandag weer duidelik op die eise van God. Herlewing berus op die veronderstelling dat die kerk in ‘n besoedelde en teruggevalle toestand verkeer.

Daar ontstaan dikwels ‘n behoefte aan herlewing in die kerk. Dit is net in die millennium dat die herhalende proses van ontwaking en aan die slaap raak van die kerk nie sal plaasvind nie. Christene sal nie die meeste van die tyd aan die slaap wees, net nou en dan wakker skrik, hulle oë vryf, uitroep om hulp en dan maar weer aan die slaap raak nie. Dit sal ook nie vir predikante nodig wees om hulleself af te sloof om voortdurend wal te gooi teen die vloed van wêreldsgesindheid wat die kerk teister, en die oorsaak is waarom mense geestelik afkoel nie.

Die volgende is die belangrikste kenmerke van ‘n geestelike herlewing:

·       ‘n Herlewing lei altyd daartoe dat Christene onder die oortuiging van sonde kom. Mense wat daarop aanspraak maak dat hulle God ken, en teruggeval het, sal nie ontwaak om die Here te dien voordat hulle hul harte deursoek en van hulle sonde bewus geword het nie. Die mag van sonde moet gebreek word.

·       Christene bekeer hulleself by hernuwing. Herlewing is niks anders nie as ‘n nuwe begin van gehoorsaamheid aan God. Met gebroke harte moet Christene in diepe nederigheid in die stof voor die Here buig, al hulle sondes bely en afstand daarvan doen.

·       Herlewing breek die mag en aantrekkingskrag wat die wêreld en sonde oor Christene gehad het. Hulle kry ‘n nuwe visie en voorsmaak van die hemel, en ‘n nuwe begeerte om by die Here te wees.

·       Die geloof van Christene word vernuwe en hulle geestelike waarnemingsvermoë herstel. Terwyl hulle teruggevalle was, was hulle blind vir die toestand van sondaars. Hulle harte was verhard en die beloftes in die Bybel soos ‘n droom. Hulle het erken dat die Bybel waar is, maar hul geloof het nie regtig die werklikhede van die ewigheid waargeneem nie. Wanneer hulle dan geestelik ontwaak, word ‘n nuwe liefde vir ‘n verloregaande wêreld in hulle harte uitgestort. Hulle beywer hulle vir die redding van siele en dra hul bure, familie, vriende en vyande in arms van geloof na die Here toe. Met trane smeek hulle die Here Jesus om die verlorenes in genade aan te sien en hulle siele van die vlam van die ewige dood te red.

·       Wanneer kerke op hierdie wyse ontwaak en hervorm, word dit deur die redding van sondaars gevolg. ‘n Sterk sonde-oortuiging vat pos. Verlorenes se harte word gebreek en voor die Here Jesus verander. Dikwels kom die grootste afvalliges na Christus toe: prostitute, alkoholiste en skeptici ontwaak en word gered. Die mees verharde deel van die samelewing word sag, vir die die Here gewen, en in toonbeelde van heiligheid omskep.

Wanneer het ons herlewing nodig?

·       Wanneer daar ‘n tekort aan broederliefde en onderlinge vertroue tussen belydende Christene is, is herlewing nodig. Dan is daar ‘n behoefte dat die Here sy werk sal laat herleef. Wanneer Christene terugval, het hulle nie die liefde en vertroue teenoor mekaar wat bestaan wanneer hulle lewendig en aktief is en heilige lewens lei nie. Hulle doen uit pligsbesef nog goed aan mekaar, maar verbly hulle nie meer in mekaar nie.

·       Wanneer daar twis, tweespalt, jaloesie en kwaadsprekery onder Christene is, is daar ‘n groot behoefte aan herlewing. Hierdie dinge is ‘n bewys daarvan dat mense ver van die Here afgedwaal het, en dat dit tyd is om ernstig na herlewing te streef. Die ware Christendom kan nie floreer met sulke gesindhede in die kerk nie. Niks bring ‘n einde hieraan soos ‘n herlewing nie.

·       Wanneer wêreldsgesindheid in die kerk voorkom, is ‘n geestelike herlewing dringend nodig. Die kerk is duidelik in ‘n teruggevalle toestand wanneer Christene in kleredrag en houdings aan die wêreld konformeer, wêreldse vermaak beoefen en ook wêreldse boeke en tydskrifte lees. Dit wys dat hulle ver van God af leef en nodig het om geestelik te ontwaak.

·       Wanneer lidmate van die kerk toenemend in skandalige sondes verval, is dit tyd om na die Here te roep vir ‘n herlewing van die ware Christendom. Wanneer die kerk as gevolg van hierdie sondes ‘n slegte naam onder sy kritici kry, is dit tyd om te vra: “Wat sal van die Here se groot Naam word as dit so aangaan?”

·       Wanneer daar ‘n gees van twis in ‘n land of in die kerk is, is herlewing nodig. Die gees van ware geloof is nie ‘n gees van twisgierigheid nie. Die Christendom is nie voorspoedig waar daar voortdurend argumente voorkom nie.

·       Wanneer slegte mense oor die kerk heers en dit aftakel, moet die aangesig van die Here gesoek word.

·       Wanneer sondaars onbesorg na die hel toe op pad is, is dit tyd vir die kerk om homself in beweging te bring. Dit is net soveel die kerk se plig om uit sy slaap wakker te skrik, as wat dit vir brandweermanne nodig is om op te spring wanneer daar in die nag ‘n vuur uitbreek. Die kerk moet die vure van die hel uitblus wat besig is om die bose mense in hulle mag te kry. Wat sal daar van brandweermanne gedink word wat slaap terwyl die hele stad afbrand? Tóg is hulle oortreding niks in vergelyking met dié van Christene wat onbetrokke, passief en aan die slaap is terwyl sondaars rondom hulle in die ewige vlamme van die hel wegsink nie.

Hoe moet herlewing bevorder word?

“Braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën” (Hos. 10:12).

Israel was ‘n boerderyvolk, en in die Bybel is daar baie illustrasies wat landbouers en veeherders goed kan verstaan. Wanneer Hosea dus vir Israel as ‘n teruggevalle volk aanspreek, hulle afgodediens ten sterkste afkeur en hulle met die oordele van God dreig, gebruik hy ‘n braakland as voorbeeld. Dit is ‘n ouland wat vroeër bewerk is, maar wat in ‘n woeste en onbenutte toestand verval het. Die grond het hard geword en moet weer gebreek en omgeploeg word voordat daarin geplant kan word. Al die onkruid en klippe moet ook daaruit verwyder word.

In ‘n geestelike sin dui die breek van die ouland se grond op die breek van die volk se harte, sodat hulle voorberei kan word om die goeie saad van die Woord te ontvang en vrug vir die Here te dra. In die Bybel word die hart van die mens dikwels met grond vergelyk, en die Woord van God met die saad wat daarin gesaai word. Die omploeg van die land is die proses waardeur die hart van die mens geskik en ontvanklik vir die Woord van God gemaak word, sodat die saad kan indring, ontkiem, groei en veel vrug dra.

Soms raak ons harte gevoelloos, droog en hard, en verval in ‘n woeste toestand. Dit sal dan geen vrug dra voordat dit gebreek en voorberei is om die Woord te ontvang nie. Dit is hierdie sag maak van die hart, sodat dit die waarheid kan inneem en ontvang, wat die profeet die braak van die braakland noem.

Indien jy van plan is om die harde grond in jou lewe op te breek, moet jy begin deur die toestand van jou hart te ondersoek. Baie mense dink nooit hieraan nie. Hulle gee geen aandag aan hulle eie harte nie en weet nie of hulle geestelik goed doen nie, of hulle vooruit of agteruit gaan, vrugbaar is of in ‘n woeste toestand ontaard het nie. Neem jou tyd en doen ‘n ondersoek van hierdie aard sodat jy kan vasstel of jy elke dag met God wandel of met die duiwel, of jou lewe onder die heerskappy van Jesus Christus is, of onder die mag van die prins van die duisternis. Om dit te kan doen, moet jy jou sondes identifiseer en evalueer.

In ‘n selfondersoek moet jy al jou dade beoordeel sodat jy die geskiedenis en ware karakter daarvan kan leer ken. Kyk na jou verlede en bestudeer jou sondes een vir een. Moenie net vinnig na jou lewe kyk, sien dat dit vol sonde is, en dan na die Here gaan om ‘n algemene belydenis te doen nie. Dit is die verkeerde manier van doen. Jy moet jou sondes een vir een ondersoek en noukeurig aanteken soos wat hulle in jou gedagtes opkom. Jy het die sondes een vir een gedoen, en so goed as wat jy kan, moet jy hulle een vir een in oënskou neem, teenoor die Here bely en jou grondig daarvan bekeer. Alle bande van sonde moet verbreek word.

Maak vir jou ‘n lys van die sondes van versuim asook van die sondes van daad:

Sondes van versuim

Ondankbaarheid. Tel al die seëninge wat jy van die Here ontvang het, en waarvoor jy geen of min dankbaarheid betoon het nie. Gaan dan op jou knieë en bedank die Here Jesus vir elkeen van die seëninge wat jy op jou lys aangeteken het. Hy is die gewer van alle goeie gawes.

‘n Gebrek aan liefde teenoor God. Bely al die kere dat jy nie liefde teenoor God betuig het nie. Dink daaraan hoe seergemaak jy voel as jou geliefdes koud en afsydig teenoor jou staan en daardeur wys dat hulle jou nie heelhartig liefhet en waardeer nie. Miskien gee hulle meer aandag aan iemand anders en dryf jou sodoende tot jaloesie. Nog veel meer is God ‘n jaloerse God en het jy Hom dalk aanstoot gegee met die ander liefdes en ontrouheid in jou lewe.

Verwaarlosing van die Bybel. Skryf die tye neer toe jy vir dae, weke en selfs maande nie jou Bybel gelees het nie. Jy het nie eers ‘n hoofstuk gelees nie, en wanneer jy wél gelees het, het jy dit op ‘n wyse gedoen waarin jy God glad nie behaag het nie. Sommige mense slaan só min ag op wat hulle lees dat hulle ‘n rukkie later nie eers weet wát hulle gelees of wáár in die Bybel hulle gelees het nie. Die Bybel skryf jou pligte as Christen vir jou voor. Neem jy dit só ligtelik op dat jy vergeet wat jy gelees het? As dit die geval is, is dit geen wonder dat jou optrede so inkonsekwent en jou geestelike lewe so ‘n klaaglike mislukking is nie.

Ongeloof. Lys die kere toe jy die God van die waarheid gewantrou het deur nie sy beloftes en uitsprake te glo nie. Hy het beloof om die Heilige Gees te gee aan dié wat daarom vra. Het jy dit geglo en verwag om die belofte te verkry toe jy daarvoor gebid het?

Die afskeep van gebed. Dit sluit al dié kere in toe jy persoonlike gebed, gesinsgebede en bidure oorgeslaan het, asook gebede waardeur jy God meer aanstoot gegee het as om glad nie te bid nie.

Die geringskatting van genademiddels. Dit blyk uit al die nietige verskonings wat jy aanbied om van byeenkomste weg te bly waar jy gered of geestelik opgebou kan word, net omdat jy nie van godsdienstige pligte hou nie. Wanneer jy wél sulke pligte uitvoer, doen jy dit sonder geloof en is daar ook geen aanduibare geestelike inslag in jou woorde nie. Jou gebede is ook baie oppervlakkig.

‘n Gebrek aan liefde vir jou bure se siele. Dink aan hoe min meegevoel jy vir jou vriende en familie rondom jou het. Jy het toegekyk hoedat hulle op pad hel toe is, en dit het jou nie regtig gepla nie. Hoeveel dae het verbygegaan sonder dat jy ‘n ernstige gebed vir die redding van hulle siele gebid het? Jou hart is gevoelloos en koud.

Belangeloosheid oor ‘n verloregaande wêreld. Jy gee dalk só min vir die redding van verloregaandes om dat jy nie eers die moeite doen om ‘n sendingtydskrif te lees nie. Beoordeel jou betrokkenheid hierby aan die hand van hoeveel jy vir sending- en evangelisasiewerk gee. Ontsê jy jouself onnodige luukshede sodat jy groter bydraes vir die werk van die Here kan maak? Woon jy sendingbidure by? Indien jy hierdie dinge nie doen nie, en jy het nie werklik ‘n passie vir die redding van verblinde ongelowiges nie, waarom is jy so ‘n huigelaar? Waarom gee jy voor dat jy ‘n Christen is? Jou aanspraak om ‘n Christen te wees, is ‘n belediging vir die Here!

Verontagsaming van gesinsverpligtinge. Hoe leef jy voor jou gesinsgenote? Hoedanig is jou gebedslewe? Watter voorbeeld stel jy vir hulle? Watter pogings wend jy aan om hulle geestelik te verryk en vir die lewe toe te rus? Watter plig teenoor hulle het jy nié nagelaat nie?

Ontrouheid om medegelowiges te ondersteun. Hoe dikwels het jy jou plig versuim om andere in die Here te versorg? Wat weet jy van hulle geestelike lewe? Gee jy om? Die Here het aan jou ‘n uitdruklike opdrag gegee om na hulle geestelike welsyn om te sien. Wat het jy gedoen om hulle beter te leer ken? Hoe dikwels het jy gesien dat andere se liefde teenoor die Here Jesus verkoel, sonder dat jy iets daaraan doen? Jy het gemerk hoedat hulle hul pligte begin ontduik, maar jy het hulle nie in liefde vermaan nie. Jy het gesien hoedat hulle in sonde val, en jy het hulle maar laat begaan. Nogtans gee jy voor dat jy hulle liefhet. Wat ‘n skynheilige! Sal jy toekyk hoedat jou vrou of kind in die vuur val en dan stilbly? Nee! Wat dink jy dan van jouself en jou aanspraak om ‘n Christen te wees wat die Here liefhet, en tóg kyk jy toe hoedat mense in oneer verval en jy sê niks aan hulle nie. Jy versaak jou plig van vermaning.

Die nalaat van selfverloëning. Baie selfverklaarde Christene sal omtrent enige geloofstap neem wat nie selfverloëning vereis nie. Jy moet hulle net nie vra om iets te doen waardeur hulle hulself moet verloën nie. Dit is té veel gevra! Hulle dink dat hulle genoeg vir die Here doen as hulle net dinge doen wat pynloos is. Hulle is nie bereid om gerief en gemak ter wille van die diens van die Here prys te gee nie, en wil ook nie spot verduur nie. Hulle weet nie eers dat selfverloëning ‘n voorwaarde vir dissipelskap is nie. Hulle het hulleself nog nie ‘n lint of ‘n stukkie juweliersware ter wille van die evangelie ontsê nie. Hoe seker sal sulke skynheiliges nie in die hel beland nie! Sommige van hulle gee baie uit hulle oorvloed en kla dan omdat andere nie méér gee nie. Die waarheid is dat hulle nie ‘n ding gee wat hulle nodig het nie. Hulle gee net uit hulle oorvloed. Die arm vrou wat ‘n rand of twee per maand gee, beoefen meer selfverloëning as rykes wat duisende van hulle oortollige rande gee.

Sondes van daad

Behalwe dit wat die mens nalaat om te doen, is daar ook die aktiewe sondes van daad in sy lewe, soos die volgende:

‘n Materialistiese ingesteldheid. Wat is jou houding teenoor jou besittings? Dink jy daaraan as jou eie en behou jy die reg voor om self daaroor te besluit? Indien jy besittings uit ‘n gesindheid van inhaligheid opgaar, doen jy ‘n sonde waarvan jy jou moet bekeer.

Hoogmoed. Dink aan al die kere dat jou hoogmoed en ydelheid die oorhand gekry het. Wanneer jy kerk toe gaan is jou uiterlike voorkoms dalk vir jou belangriker as die geestelike voorbereiding van jou hart om die Here te kan dien. Jy vestig graag die aandag op jouself en verheerlik jouself, eerder as dat jy die Here verheerlik. Sodoende is jy vir andere ‘n struikelblok.

Afguns. Hoe dikwels is jy nie afgunstig op mense wat beter af is as jyself nie. Jou afguns teenoor hulle is só sterk dat jy dit nie eers kan verdra as hulle geprys word nie. Dit maak jou gelukkiger om aan hulle foute en mislukkings te dink as aan hulle goeie hoedanighede en suksesse. Wees eerlik met jouself. As jy enige plek aan hierdie duiwelse gees van afguns in jou lewe gegee het, bekeer jou dan grondig voor die Here deur dit te bely en afstand daarvan te doen.

Kritiek. By tye het jy van ander Christene bittere woorde van kritiek uitgespreek wat van alle liefde en genade ontdaan was. Hierdeur veroordeel jy, kweek wantroue en stel nie jou hoop op die beste moontlike oplossing vir ‘n probleemsituasie nie.

Skinder. Jy het soms onnodiglik en sonder rede agter mense se rug van hulle werklike of veronderstelde foute gepraat. Dit is skinder. Jy hoef nie te lieg om aan skinder skuldig te wees nie: deur die waarheid te praat om doelbewustelik iemand anders skade aan te doen deur hom of haar in ‘n slegte lig te stel, is ook skinder.

‘n Gebrek aan eerbied. Hoe dikwels het jy nie oneerbiedwaardig voor die Here opgetree nie. Jy het óf vergeet dat daar ‘n God is, óf jy het minder respek vir Hom as wat jy vir ‘n aardse heerser het.

Leuens. Jy moet goed verstaan wat leuens is, naamlik enige doelbewuste misleiding. Indien jy ‘n indruk skep wat van die volle waarheid verskil, dan lieg jy. Skryf al jou leuens neer waaraan jy kan dink, en moet hulle nie iets anders noem as wat hulle is nie. Kla jouself aan en bekeer jou hiervan. Hoe ontelbaar is die leuens nie wat elke dag in die samelewing deur woorde, uitdrukkings en dade verkondig word nie. Elkeen is ontwerp om ‘n indruk te skep wat van die waarheid afwyk.

Bedrog. Maak ‘n aantekening van al die kere wat jy andere se belange benadeel en aan hulle gedoen het wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Dit is bedrog.

Skynheiligheid. Dit behels nie net onopregtheid in jou optrede na buite nie, maar ook in jou gebede en belydenisse teenoor God. Hoeveel keer het jy al vir iets gebid wat jy nie regtig wil hê nie, of sondes bely wat jy nie regtig van plan was om te laat staan nie? Probeer jy dalk om die Here met jou lippe te dien terwyl jou hart ver van Hom af is?

Die berowing van God. Maak ‘n lys van al die ure wat God jou gegee het om Hom te dien en siele na Hom toe te lei, maar wat jy met nietige tydverdrywe verkwis het – sinnelose gesprekke, die lees of kyk na gemors, en bloot net deur niks te doen nie. Jy het dalk ook jou talente en intellektuele vermoëns onproduktief aangewend, en jou geld op wêreldse begeerlikhede verkwis wat geen nut het nie. Sommige mense spandeer God se geld op tabak. Stel jou ‘n persoon voor wat daarop aanspraak maak dat hy ‘n Christen is, maar hy neem God se geld en koop gif daarmee!

Humeurigheid. Miskien het jy jou vrou, kinders, familie, bediendes of bure sleg behandel.

Die ondermyning van ander mense. Het jy dalk iemand se invloed deur verdagmakery en kwaadwillige kritiek verswak? Dan het jy God nie alleen van jou eie talente beroof nie, maar ook ‘n ander man se hande gebind. Hoe sondig is ‘n dienskneg nie wat self lui is en dan nog ander mense dwarsboom deur hulle tyd te mors en die vertroue in hulle te ondermyn! Jy het daardeur in Satan se hand gespeel en nie net jouself as ‘n luiaard bewys nie, maar ook andere uit die werk gehou.

Maak deeglik werk van jou sondelys

Indien jy ‘n oortreding teenoor iemand begaan het en daardie persoon is binne jou bereik, gaan bely dit dan dadelik teenoor hom en kry dit uit die weg. As die benadeelde persoon té ver van jou af is, gaan skryf dan ‘n brief en bely die kwaad wat jy aan hom gedoen het. Indien jy iemand bedrieg het, betaal die geld met rente aan hom terug.

Doen ‘n deeglike werk, en doen dit nóú. Uitstel sal net die saak vererger. Bely aan die Here sondes wat teenoor Hom gedoen is, en aan mense sondes wat teenoor hulle gedoen is. Moenie begin deur moeilike sake te vermy nie. Hanteer elke probleem en ruim dit uit die weg. Wanneer jy die harde grond in jou lewe breek, moet jy elke klip en kluit verwyder sodat geen struikelblokke oorbly nie.

Moenie dinge oorslaan omdat jy dink dat dit nie belangrik is nie, en dan wonder waarom jy steeds nie toegewyd teenoor God voel nie. Die rede is dat jy in jou hoogmoed iets begrawe het wat die Here gesê het dat jy moet bely en laat staan. Moet dus nie omweë om klein probleempies soek nie. Dryf die ploeg reguit deur hulle, ploeg diep en keer al die grond om sodat dit sag en ontvanklik vir die saad is en honderdvoudig vrug kan dra.

Wanneer jy jou lewensgeskiedenis op hierdie manier in oënskou geneem het, gaan dan ‘n tweede keer deur die lys en gee noukeurige aandag daaraan. Dit wat jy opgeskryf het, sal ander dinge suggereer waaraan jy skuldig is. Gaan dan ‘n derde keer deur die lys, en jy sal nóg dinge onthou. Uiteindelik sal jy soveel besonderhede van jou verlede onthou dat jy nooit gedink het dat dit moontlik is nie. Indien jy nie jou sondes een vir een naspeur nie, sal jy nooit die volle omvang daarvan ken nie. Jy behoort jou lewe só deeglik te deursoek as wat jy dit sou doen om vir die oordeel voor te berei. Niks moet oorgeslaan of verdoesel word nie.

Terwyl jy die lys van jou sondes deurwerk, neem jou voor om ‘n onmiddellike en totale verandering in jou lewe te ondergaan. Wanneer jy iets verkeerd kry, besluit dan net daar, deur die krag van die Here, om nooit weer daardie sonde te doen nie. Dit sal niks help om jouself te ondersoek tensy jy bereid is om elke verkeerde daad in houding en gedrag te verander nie.

Wanneer jy die harde grond van jou hart opgebreek het en vind dat jou gemoed steeds donker is, moet jy rondkyk. Jy sal vind dat daar verdere redes is waarom jy God se Gees bedroef. Jy was nie getrou genoeg nie. In hierdie ondersoek moet jy aggressief en onbuigbaar teenoor jouself wees. Met die oop Bybel voor jou moet jy jou hart deursoek totdat die lig deurbreek. Moenie van die Here verwag om jou harde hart deur ‘n wonderwerk te breek nie. Volg die metode van selfondersoek, belydenis en bekering wat Hy in sy Woord hiervoor bepaal het.

Vestig jou aandag op jou sondes. Jy sal nie baie lank en aandagtig na jou sonde kan kyk en sien hoe sleg dit is, sonder om diep daardeur geraak te word nie. Ondervinding het bo enige twyfel die voordeel daarvan bewys om jou lewe op dié manier te deursoek. Begin nou hiermee en neem jou voor om nie op te hou voordat jy vrymoediglik en sonder verdere skuldgevoelens kan bid nie. Jy sal nooit die gees van gebed verkry voordat jy jouself ondersoek, jou sondes bely en jou harde hart oopgebreek het nie. Die Gees van God sal nie in jou woning maak voordat jy jou hele geskiedenis van sonde ontrafel en voor die Here oopgesprei het nie. Jy moet ontledig en gereinig word.

Wanneer hierdie diep werk van bekering en belydenis plaasgevind het, die afbreek voor die Here, sal jy soveel van die gees van gebed kry as wat jy kan vat. Baie min Christene weet enigiets van die gees van gebed omdat hulle nog nooit hulleself indringend ondersoek het nie, en dus nie regtig weet wat dit is om volledig gebreek te wees nie.

Dit is duidelik dat ek nog net begin het om hierdie onderwerp te ontvou. In my besprekings wil ek aan jou strategieë bied wat net so seker is om resultate op te lewer as wat ‘n boer ‘n oes sal maak wanneer hy ‘n braakland braak en sy saad saai. Dit sal gebeur indien jy die voorskrifte hierbo volg en aanhou totdat jou harde en gevoellose hart heeltemal gebreek het.

Opmerkings

Dit sal niks baat om jou te onderrig terwyl jou hart nog verhard, onvrugbaar en woes is nie. Die boer kan dan netsowel sy saad op die rotse saai. Dit sal nie enige vrug dra nie. Dit is waarom daar so baie vrugtelose Christene in die kerk is, so baie uiterlike aktiwiteite en so min aanduidings van ‘n diep, innerlike werking van God se Gees. Neem byvoorbeeld die toestand van die sondagskole en kyk hoeveel meer programme jy sien as die krag van goddelikheid. As julle aangaan soos nou, sal julle selfs onder die geklank van die Woord ál hoe harder, woester en onvrugbaarder raak. Dit is soos die reën en sneeu wat op ‘n ongeploegde ouland val en net die kleigrond nóg digter laat saamkoek.

Dit is waarom soveel van die prediking vermorste pogings is. Omdat belydende Christene nie die braaklande van hulle lewe wil omploeg nie, sloof predikers hulleself af en bereik baie min. Daar is soveel hoorders wat soos harde, rotsagtige grond is, en nie bereid is om te breek nie. Hulle is slegs half gered, en hulle geloof bestaan meer uit ‘n veranderde opinie as uit ‘n veranderde hart. Daar is baie uiterlike vertoon in hulle lewe, maar min aanduidings van ‘n innerlike hartsverandering.

Mense wat sê dat hulle Christene is, behoort nooit tevrede te wees om net nou en dan uit hulle slaap wakker te skrik, gou iets vir die Here te doen en met sondaars te probeer praat nie. Christene wat vir die Here wil werk, moet eers hulle harte deeglik ondersoek en breek voor die Here. Dit is uiters irrasioneel om te dink dat jy aan Jesus Christus toegewyd sal raak as jy uit eie krag met sondaars oor hulle siele praat. Sulke pogings is mensgemaak en sal nie vrug oplewer nie. As jy éérs jou harde hart breek en dán met sondaars gaan praat om hulle na Christus te lei, sal jy geestelik groei en toeneem in genade.

Sal jy nou die braakgrond in jou lewe breek? Sal jy die pad wat hierbo aangedui is, loop en volhard totdat jy volkome ontwaak het? As jy hierin faal, kan ek jou nie verder onderrig nie. Wat ek hierna te sê het, sal jou net meer verhard as jy nie geestelik reg voorbereid is nie.

As jy nog steeds ‘n ongebroke hart het, moet jy nie verwag om voordeel te trek uit wat ek nog het om te sê nie. As jy nie onmiddellik met hierdie taak begin nie, sal ek jou daarvan moet aankla dat jy Christus weerstaan en weier om jou te bekeer en die eerste werke te doen. As jy egter hierdie voorbereidende werk doen, sal ek jou leer hoe om te bid en siele na die Here te lei.

Oorwinnende gebed

“Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak. 5: 16).

Die twee middele wat noodsaaklik is om ‘n herlewing te bevorder, is om mense te beïnvloed en om God te beïnvloed. Mense word deur die verkondiging van die waarheid beïnvloed en God deur gebed.

Wanneer ek sê dat die Here beweeg word om iets te doen, dan bedoel ek nie dat gebed Hom van gedagte, ingesteldheid of karakter laat verander nie. Gebed bring egter ‘n verandering in óns te weeg wat dit gepas vir God maak om te doen wat andersins ook gepas sou wees. Wanneer ‘n sondaar hom bekeer, maak die toestand van sy hart dit vir God gepas om hom te vergewe. Hy is altyd bereid om die ongelowige op hierdie voorwaarde te vergewe. Wanneer die ongelowige dus tot bekering kom, vereis dit geen verandering aan die kant van God om hom te vergewe nie.

Op dieselfde wyse maak die toestand van Christene se harte dit vir God gepas om hulle te antwoord wanneer hulle oorwinnende gebede bid. Hy is altyd gereed om seëninge te gee op voorwaarde dat hulle harte reg is en hulle die regte gebede bid. Wanneer hierdie verandering in Christene plaasvind en hulle die regte gebede bid, dan kan God – sonder ‘n verandering in Homself – hulle antwoord. Ons effektiewe, vurige gebede vir ander maak dit dus vir God gepas om te antwoord wat andersins nie gepas sou wees nie.

Gebed is ‘n noodsaaklike skakel in die ketting van oorsake wat na herlewing lei, net soveel as wat die waarheid ook is. Sommige Christene maak geesdriftig van die waarheid gebruik om andere vir die Here te wen, maar gee min aandag aan gebed. Met ywer preek en praat hulle en deel traktaatjies uit, en wonder dan waarom hulle so min sukses bereik. Hulle het vergeet om die ander middel te gebruik, naamlik gebed. Hulle het uit die oog verloor dat die waarheid alleen nooit resultate lewer sonder die Gees van God nie, en dat die Heilige Gees slegs gegee word in antwoord op ernstige gebed.

Dikwels is hulle wat die besigste is om die waarheid te verkondig, nie die besigste as dit by gebed kom nie. Dit is jammer, want behalwe as hulle of iemand anders die gees van gebed het, sal die waarheid alleen niks bereik anders as om mense in hulle onbekeerlikheid te verhard nie. Ek glo dat voor die troon van die Here ons eendag sal vind dat niks ooit deur die waarheid alleen bereik is nie, al was dit ook met watter ywer verkondig, tensy gebed op een of ander wyse aan die aanbieding daarvan gekoppel was.

Die eienskappe van effektiewe gebed

Die volgende is slegs sommige van die eienskappe van effektiewe, oorwinnende gebed:

·       Dit moet doelgerig wees. Effektiewe gebede is nie veralgemenend van aard nie, maar duidelik gedefinieerde versoeke aan die Here.

·       Gebede moet altyd in Jesus Christus se Naam gebid word. Jy kom nooit na die genadetroon op grond van jou eie verdienste nie, maar in die enigste Naam wat altyd aanvaarbaar is.

·       Om geantwoord te kan word, moet gebed in ooreenstemming met God se geopenbaarde wil wees, soos wat HyHHy dit in sy Woord aan ons bekend gemaak het.

·       Effektiewe gebede moet uit die regte motiewe voortspruit. Dit moenie uit selfsug gebore word nie, maar volkome op die verheerliking van God toegespits wees. Dit sou selfsugtig van ‘n vrou wees indien sy vir die redding van haar man bid net omdat dit lekker sal wees as hy saam met haar kerk toe gaan. Dan dink sy net aan haarself en is blind vir die manier waarop haar man deur sy sondige lewe die Here se Naam onteer. Sy word dus nie gemotiveer deur die begeerte dat hy die Here moet dien nie – hy moet net die lewe vir háár makliker maak.

·       Effektiewe gebed gaan met die Heilige Gees se intersessie gepaard. Hy leer ons wat om te bid en tree vir ons met onuitspreeklike sugtinge in. Net soos wat dit vir ons moontlik is om heilig te leef, is dit ook moontlik om oorwinnende gebede te bid waarin die Heilige Gees ons swakhede te hulp snel en vir ons intree.

·       Oorwinnende gebed is volhardende gebed. Christene wat teruggeval het, verloor hulle gees van gebed en keer nie weer dadelik na die gewoonte van volhardende gebed terug nie. Hulle kan nie hulle gedagtes op ‘n saak vestig en volhard totdat die antwoord kom nie. Hulle moet oor en oor bid omdat hulle gedagtes van een onderwerp na ‘n ander dwaal. Voordat die gees van gebed weer hulle gedagtes vervul, kan hulle nie op ‘n onderwerp of probleem konsentreer en aanhou bid totdat die oorwinning behaal is nie.

·       Jy kan nie effektiewe gebede bid as jy nie jou sondes en eiesinnigheid vir altyd versaak nie. Dit is struikelblokke in jou gebedslewe wat eers verwyder moet word.

·       Jy moet altyd in die geloof bid, en verwag om te verkry wat jy vra. Moenie vir antwoorde op gebed wag as jy sonder ‘n sterk verwagting op verhoring bid nie.

Die gebed van geloof

“Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Mark. 11:24).

In hierdie bespreking sal ons na die gelowige gebed kyk. Die volgende aspekte hiervan is van belang:

Die voorwaarde vir ware gebed

Dat ons geloof nodig het om in die gebed te seëvier, kan niemand betwis nie. Dit is moontlik om op grond van goeie begeertes te bid, sonder die vaste vertroue dat die betrokke seëninge verkry sal word. Sulke begeertes kan nie die basis vir ‘n effektiewe, gelowige gebed vorm nie. Die Here verhoor soms gebede wat uit goedhartigheid gebid is, maar, streng gesproke, doen Hy dit nie in antwoord op gebed nie.

Die gebed van die geloof berus op geloof wat verseker dat dit wat gevra word, sal gebeur. Om te bewys dat geloof onontbeerlik vir oorwinnende gebed is, kan ons maar net herhaal wat Jakobus hieroor gesê het:

“As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak. 1:5-7).

Ons moet in God se bestaan glo: “Hy wat tot God gaan moet glo dat Hy is…”, en ook in sy gewilligheid om gebed te beantwoord: “…en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Baie mense glo in God se bestaan, en tóg glo hulle nie dat gebed effektief is nie. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle in God glo, maar hulle erken nie geredelik die feit dat ons gebed nodig het of dat ons God deur ons gebede van geloof kan beïnvloed nie.

Wanneer kan ons die gebed van geloof bid?

Die gebed van die geloof moet op vaste gronde gefundeer wees, waaronder die volgende:

Bybelse beloftes

Ons kan hierdie gebed bid wanneer ons voldoende bewyse daarvoor het. ‘n Algemene Bybelse belofte kan op jou situasie toegepas word. Indien ‘n betrokke vers die saak bespreek waarvoor jy bid, of ‘n beginsel bepaal wat jy op jou situasie kan toepas, dan het jy die bewys dat dit God se wil is om jou gebed te beantwoord. Daar is ‘n groot aantal algemene beloftes en beginsels wat Christene kan gebruik om hul gebede op te baseer, as hulle maar net wil dink. ‘n Ouer kan homself bv. op die volgende belofte beroep:

“Die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen” (Ps. 103:17-18).

Hierdie belofte is aan diegene gemaak wat ‘n bepaalde karakter het. Indien ‘n ouer weet dat sy lewe hieraan voldoen, het hy die reg om die belofte op homself en sy familie toe te pas. As jy godvresend wandel, word dit van jou verwag om ‘n belofte van hierdie aard in die gebed te gebruik en ook op jou kinders van toepassing te maak.

Daar is ‘n verbasende hoeveelheid tekste in die Bybel wat beloftes bevat – genoeg om te bewys dat ongeag die omstandighede, die Here beloftes aan sy kinders voorsien het wat op enige situasie toegepas kan word. Baie van sy beloftes is doelbewustelik breed geformuleer om alle moontlike behoeftes in te sluit.

Watter biddende Christen was nog nie in verwondering oor die lengte, breedte en volheid van God se beloftes wanneer die Heilige Gees dit aan sy hart openbaar nie? Wie van hulle was nog nie verbaas oor hulle onvermoë om die volle omvang van hierdie beloftes te begryp voordat die Gees van God hulle oë daarvoor geopen het nie? Ons onkunde is verbysterend. Die Gees pas Bybelse uitsprake toe op ‘n manier wat ons nog nie eers van gedroom het nie.

Die apostels se toepassing van Ou Testamentiese beloftes, profesieë en uitsprake toon vir ons die volheid van God se Woord. ‘n Oppervlakkige belyer van geloof sal nooit eers daaraan dink om al hierdie beloftes op sy eie lewe en omstandighede toe te pas, soos wat ‘n geesvervulde persoon sal doen nie.

Profesieë

Soms is daar ‘n profetiese uitspraak dat die saak waarvoor gebid word, in ooreenstemming met God se wil is. Wanneer die Bybel dit duidelik maak dat ‘n bepaalde gebeurtenis gaan plaasvind, is jy verplig om die profesie te glo en dit as basis vir ‘n gebed van geloof te gebruik. Wanneer die Bybel nie die tyd van die gebeurtenis bepaal nie, en geen getuienis uit ander bronne hiervoor bestaan nie, kan jy ook nie ‘n tydsaspek daaraan koppel nie. Indien die tyd vir die vervulling daarvan egter genoem word, en ‘n studie van die profesieë aandui dat die tyd aangebreek het, het Christene ooreenkomstig die Bybelse belofte ‘n mandaat om gebede van geloof daarvoor te bid.

Neem as voorbeeld die geval van Daniël oor die terugkeer van die Jode uit hulle ballingskap. Hy sê: “In die eerste jaar van [Darius se] regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was” (Dan. 9:2). Op grond hiervan het hy geweet dat die Babiloniese ballingskap sewentig jaar lank sou duur.

Wat doen Daniël? Sê hy: “God het beloof om die ballingskap ná sewentig jaar te beëindig, en die tyd daarvoor het nou aangebreek, dus hoef ek niks daaraan te doen nie?” Nee! Hy sê: “Ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Dan. 9:3). Hy het homself voorgeneem om te bid sodat verlossing verkry sou word. Hy het in die geloof gebid. Wat moes Daniël glo? Die belofte van die Here wat hy in die profetiese woord gelees het.

Daar is baie profesieë in die Bybel wat nog onvervuld is. Christene is geroepe om dit so ver as moontlik te verstaan en as basis vir gelowige gebede te gebruik. Moenie dink, soos wat sommige mense doen, dat omdat iets in die profesieë voorspel is, dit nie nodig is om daarvoor te bid nie omdat dit in elk geval gaan gebeur. Dit is nie waar nie.

Tekens van die tye

Wanneer die tekens van die tye, of God se reëling van gebeurtenisse, aandui dat Hy gereed is om ‘n spesifieke seën te gee, is ons verplig om dit te glo. Jesus het die Jode skynheiliges genoem omdat hulle nie God se raadsplan vir hulle tyd verstaan het nie. Hulle kon die tekens van die natuur onderskei, en het geweet wanneer dit sou reën of droog sou wees, maar hulle kon nie uit die tekens van die tye aflei dat die koms van die Messias naby was nie.

Baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle die Here dien, is terughoudend wanneer sekere aksies voorgestel word. Hulle sê altyd dat die tyd daarvoor nie ryp is nie. Ander lees die tekens reg en het geestelike onderskeidingsvermoë. Hulle bid in die geloof vir die seën en verkry dit.

Beïnvloeding deur die Heilige Gees

Wanneer die Gees van God oor jou is en ‘n sterk begeerte vir ‘n spesifieke seën in jou opwek, plaas dit ‘n verantwoordelikheid op jou om in die geloof daarvoor te bid. Jy sal weet dat hierdie begeerte die werk van die Gees is omdat dit heilige ideale is wat Hy in jou wakker gemaak het. Mense begeer gewoonlik nie die regte dinge tensy God se Gees hulle in dié rigting beïnvloed nie. Paulus verwys na begeertes wat die Heilige Gees in ‘n Christen se hart plaas:

“Net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree” (Rom. 8:26-27).

Hieruit is dit duidelik dat indien jy goeie dinge begeer, jy dit as ‘n aanduiding kan neem dat God daardie besondere seën aan jou wil gee. Dit is jou verantwoordelikheid om dit te glo. Die Here wek nie ‘n begeerte in sy kinders se harte op, en weier dan om dit te gee nie. Hulle moet dit net soek totdat hulle dit in die geloof toegeëien het.

Onverhoorde gebede

Baie mense het probleme met Paulus se gebed teen die doring in sy vlees omdat dit telkens herhaal maar nie verhoor is nie. Hy sê:

“Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg” (2 Kor. 12:8-9).

Die feit dat Paulus se gebed nie verhoor is nie, is geen bewys van ‘n uitsondering op die reël van die gebed van geloof nie. Voordat dit as ‘n uitsondering beskou kan word, moet eers bewys word dat hy die betrokke gebed in die geloof gebid het. Die omstandighede dui aan dat dit nie die geval was nie. Die antwoord van die Here aan hom was min of meer soos volg: “Daardie doring is nodig vir jou heiligmaking, om te verhoed dat jy jouself verhoog. Ek het dit uit liefde en in getrouheid gestuur, en dit is nie jou saak om My te vra om dit weg te neem nie. Los dit uit.”

Paulus se gebed blyk dus ‘n selfsugtige versoek teen persoonlike ongerief te wees. Dit was nie ‘n soort lyding wat sy bruikbaarheid nadelig beïnvloed het nie; inteendeel, dit is juis gegee om sy bruikbaarheid in die diens van die Here te verhoog deur hom nederig te hou.

Omdat die doring hom verontrief het, het hy uit sy eie hart gebid, klaarblyklik sonder dat die Heilige Gees hom so gelei het. Soos enige ander Christen, kon Paulus ook nie sonder die Heilige Gees in die geloof bid nie. Niemand kan redeneer dat die Gees hierdie begeerte in Paulus se hart gelê het nie, omdat dit baie duidelik buite die wil van die Here was om daaraan te voldoen.

Voorwaardes vir die geloofsgebed

·       Jy moet bewyse in die Bybel kry dat die Here se seën op ‘n bepaalde saak rus. Lees die Bybel noukeurig deur, want jy kan nie verwag om van God se kosbare beloftes kennis te dra as jou Bybel op die rak weggebêre is nie.

·       Volkome toewyding aan die Here is onontbeerlik vir die gebed van geloof. Jy moet heilig leef en alles aan die Here wy – jou tyd, talente en invloed – alles wat jy het en is. Lees die lewensverhale van heilige manne en vroue van God, en een feit sal jou veral tref: hulle het almal tyd ingeruim om hul verhouding met die Here te vernuwe en hulleself opnuut aan Hom toe te wy. Wanneer hulle dit gedoen het, het ‘n seën van die Here onmiddellik in hulle lewe en bediening gevolg.

·       As jy in die geloof wil bid, moet jy elke dag met God wandel. As jy dit doen, sal Hy jou sê waarvoor jy moet bid. Word vervul met sy Gees, en Hy sal aan jou meer as genoeg sake gee om voor te bid. Hy sal aan jou soveel van die gees van gebed gee as wat jou liggaam kan vat.

Opmerkings

Miljoene is in die hel omdat mense wat bely dat hulle Christene is, nie in die geloof vir sondaars gebid het nie. Selfs wanneer hulle beloftes uit die Bybel gehad het, het hulle nie genoeg geloof gehad om dit te gebruik nie. Ouers laat hulle kinders, selfs gedoopte kinders, hel toe gaan omdat hulle nie in God se beloftes glo nie. Baie mans is hel toe, terwyl hulle vrouens in gebed vir hulle redding kon volhard het. Hulle het die gunstige tyd vir die uitstorting van die Here se seëninge nie opgemerk en in die gebed daarvoor gevra nie.

Jy sê dat hierdie beweringe ‘n geweldige vrag skuld op die kerk plaas. Dit is inderdaad so. ‘n Groot menigte sal eendag voor die Here staan, bedek met die bloed van die siele wat as gevolg van hulle gebrek aan geloof verlore gegaan het. Die onbenutte beloftes in die Bybel sal hulle in die gesig staar en na die hel toe sleep.

Ek wil aan die mense wat sê dat hulle die Here Jesus ken, ‘n paar vrae vra: Weet jy wat dit is om in die geloof te bid? Het jy al ooit so ‘n gebed gebid? Het jy al aangehou bid totdat jy die seën verkry – totdat jy só volkome in die Here gerus het dat dit was asof Hy uit die hemel neergedaal het om dit aan jou te gee? Indien jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy jou geestelike fondament ondersoek. Hoe kan jy lewe sonder om in die geloof te bid? Hoe kan jy voor jou kinders leef terwyl jy geen versekering het dat hulle gered sal word nie? Die onsekerheid oor hulle siele behoort jou van jou verstand af te dryf.

Ek het ‘n vader geken wat ‘n goeie man was, maar ‘n verkeerde beskouing oor die gebed van geloof gehad het. Sy kinders het almal groot geword, en nie een van hulle was ‘n Christen nie. Ná ‘n tyd het sy een seun dodelik siek geword. Die pa het gebid, maar die seun se toestand het versleg tot op ‘n punt waar daar geen hoop meer vir hom was nie. Die pa het gebid, en sy benoudheid was onuitspreeklik groot. Ten spyte van die omstandighede het hy volhard in die gebed totdat hy die versekering in sy hart gekry het dat sy seun nie alleen sal leef nie, maar ook gered sal word. Nie net hierdie seun is gered nie, maar uiteindelik ook die man se hele gesin. Dit het hy in die geloof aangeneem nog voordat dit gebeur het.

‘n Saak van groot kommer is die geweldige pogings om van die Bybel ontslae te raak! Ongelowiges gooi die waarskuwings uit die Bybel uit, en die kerk die beloftes. Wat bly oor? Niks nie. Ek sê dit in liefde: Waarvoor is ons Bybels goed as ons nie die kosbare beloftes daarin neem om ons geloof op te baseer wanneer ons om God se seëninge bid nie? Stuur julle Bybels na die ongereddes toe as julle nie bereid is om dit te glo en te gebruik nie.

Min mense bid die gebed van geloof. Wat gaan van julle kinders, julle bure en die ongeredde wêreld word?

Word met die Gees vervul

“Word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

Die Here beveel jou in hierdie teks om met die Heilige Gees vervul te word. ‘n Opdrag van die Here om iets te doen, is die beste bewys dat dit gedoen kán word. Om met die Gees vervul te wees, is om die volgende redes jou plig:

·       Jy het ‘n belofte hieroor.

·       God beveel dit.

·       Om met die Gees vervul te wees, is noodsaaklik vir jou groei in genade.

·       Dit is nodig vir jou heiligmaking.

·       Dit maak jou bruikbaar.

Die gevolge van ‘n geesvervulde lewe

Die geesvervulde lewe het sekere eienskappe, asook ‘n aantal implikasies waarmee jy rekening moet hou. Hieronder tel nie net groter diensbaarheid nie, maar ook verskerpte konflik met vormgodsdienstiges, die ongeredde wêreld en met die Satan en sy ryk.

Jy sal eksentries genoem word

Ek ken nie ‘n geesvervulde persoon wat nog nie as eienaardig of eksentries beskryf is nie. Dit gebeur om goeie redes, want hulle is nie soos ander mense nie. Hulle tree onder verskillende invloede op, hulle het verskillende beskouings en motiewe en word deur ‘n ander gees gelei. Verwag opmerkings soos: “Hy is ‘n goeie man, maar so ‘n bietjie snaaks.” Berei jou dus daarop voor om anders as die wêreld te wees. Moenie doelbewus abnormaal optree nie, maar verwag nogtans negatiewe opmerkings. Paulus is selfs as versteurd beskou terwyl hy woorde van waarheid en gesonde verstand gespreek het (Hand. 26:24-25).

Jy sal groot benoudheid ervaar

Wanneer jy met die Gees vervul is, moet jy verwag om as gevolg van die vervalle toestand van die kerk en die wêreld groot benoudheid te ervaar. Sekere geestelike genotsugtiges dink dat die Heilige Gees hulle tevrede en bly sal maak. Hulle verkeer onder die wanindruk dat volwasse Christene geweldig gelukkig en vir ewig sonder probleme is.

Hulle kan nie ‘n groter fout as dit maak nie. Lees net jou Bybel! Kyk hoe die profete en apostels oor die toestand van die wêreld en die kerk benoud was. Paulus het gesê dat hy die dood van Christus in sy liggaam dra, en dat hy daagliks sterf. Die ware Christen sal weet wat dit is om saam met die Here Jesus te voel, en om gedoop te word met die doop waarmee Hy gedoop is. Hoe was Hy nie in benoudheid oor die toestand van sondaars nie! Sy hart is gepynig vir hulle redding! Hoe meer jy van sy Gees het, hoe meer sal jy die nood van sondaars besef en oor hulle lot beangs wees. Jy sal dikwels voel of jy kan sterf omdat jy hulle haglike situasie gesien het. Jou benoudheid sal té groot vir woorde wees.

Jy sal bedroef wees oor dooie predikante

Geestelike Christene treur dikwels oor die doodsheid van predikante – hulle wêreldsgesindheid en openlike pogings om mense te behaag. Geesvervulde lidmate durf nie hieroor praat nie, uit vrees dat hulle veroordeel en selfs uit die kerk geskop sal word.

Ek sê nie hierdie dinge uit ‘n gesindheid van kritiek teenoor my mede-predikante nie. Predikers moet egter weet dat niks meer algemeen is as volwasse Christene wat probleme met hulle bediening het nie. Dit is een van die mees prominente en afkeurenswaardige euwels van ons dag. Die toewyding van predikante is dikwels só oppervlakkig dat hulle glad nie aan die behoeftes van die geestelike gedeelte van die gemeente kan voldoen nie. Hulle prediking voed nie hierdie mense nie omdat hulle self klein kindertjies in Christus is wat nog versorging, voeding en opbouing nodig het.

Jy sal teëstand binne én buite die kerk hê

As jy baie van die Gees in jou het, moet jy verwag om teëstand binne én buite die kerk te kry. Kerkleiers sal jou opponeer en beveg, soos wat hulle ook met Christus gedoen het. Ouderlinge, en selfs die predikant, sal jou beveg as jy met die Heilige Gees vervul is. Indien jy bokant ander mense se geestelike vlak is, sal hulle jou ook teëstaan omdat die populêre mening altyd na laer geestelike standaarde neig – ook in die kerk. Jy sal ervaar dat almal wat godvrugtig in Christus Jesus wil leef, vervolg sal word.

Satan sal jou hewig aanval

Verwag vele angsvolle konflikte met Satan. Hy het min probleme met vleeslike Christene – die lou, wêreldsgesinde en lui persone. Hulle verstaan nie geestelike konflik nie, en glimlag net wanneer meer volwasse gelowiges van sulke dinge praat. Satan los hulle uit omdat hulle hom nie opponeer nie. Hulle pla hom nie, en hy ook nie vir hulle nie.

Die duiwel weet egter dat geestelike Christene hom groot skade kan aandoen, daarom loods hy venynige aanvalle op hulle en veroorsaak groot stryd en konflik in hulle lewens. Hulle staar versoekings in die gesig wat nooit tevore op dié skaal ervaar is nie: godslasterlike gedagtes, ateïsme, suggesties om bose dinge te doen en selfs om selfmoord te pleeg. As jy geestelik is, moet jy sulke konflikte verwag as gevolg van die felle stryd teen die Bose.

Jy sal groter innerlike stryd ervaar

Jy sal ‘n groter innerlike stryd as ooit tevore met jouself hê. Die bedorwenheid van jou ou natuur sal soms onverwagte vordering teen die Gees maak: “…want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees” (Gal. 5:17). Innerlike bedorwenheid kan ‘n Christen wat die Here Jesus wil volg, soms baie in die war bring. Die vlees moet egter verloën en gekruisig word.

‘n Sekere kommodoor in die vloot was ‘n baie geestelike man. Sy predikant het aan my vertel dat hy dikwels in die nag op die vloer gelê en kreun het terwyl hy in ‘n hewige stryd was om versoekings te weerstaan. Die duiwel het hom probeer vernietig, en soms het dit vir hom gevoel asof sy eie hart aan die kant van Satan was.

Jy sal vrede met God hê

Jy sal ook vrede met God hê. Selfs al haat die kerk, die sondaars en Satan jou, sal daar Een wees met wie jy vrede sal hê. Wanneer jy al die beproewinge en aanslae beleef, terwyl jy sug, bid en huil, onthou altyd: jou vrede met God sal vloei soos ‘n rivier. Jy sal ‘n onversteurde innerlike vrede hê wat alle verstand te bowe gaan.

Jy sal ‘n skoon gewete hê

As jy deur die Gees gelei word, sal jou gewete skoon en kalm wees. Jou hart sal jou nie op ‘n pynbank martel nie. Hy sal kalm wees soos ‘n somermeer wat nie ‘n rimpeling op die water het nie.

Jy sal bruikbaar wees

Jy sal bruikbaar in die hand van die Here wees. Selfs as jy siek in die bed is en met niemand praat nie, sal jy nog tien maal meer bruikbaar as ‘n honderd onvolwasse Christene wees. Ek weet van ‘n geval waar een siek man se vurige gebede tot die redding van verskeie sleutelpersone aanleiding gegee het, wat op hulle beurt weer aan die voorpunt van ‘n herlewingsbeweging gestaan het.

Jy sal teen skinderstories bestand wees

As jy met die Heilige Gees vervul is, sal jy nie ontsteld raak as mense van jou skinder nie. Iemand wat maklik seergemaak voel oor die kleinste ou dingetjie, is duidelik nie onder die beheer van die Gees van Christus nie. Mense het alle denkbare vorms van kwaadwillige gerugte oor Christus versprei, en tóg was Hy nie daaroor ontsteld nie. As jy verdraagsaam onder verdrukkinge wil wees en jou Verlosser se temperament wil hê, moet jy met die Gees vervul wees.

Jy sal siele na die Here kan lei

Jy sal weet hoe om ongelowiges na die Here toe te lei. Die Heilige Gees in jou sal aan jou die nodige wysheid gee om die regte metodes te gebruik.

Baie belydende Christene is so onkundig oor geestelikheid as wat Nikodémus oor wedergeboorte was. Ek vrees dat hulle ongered is. As enigeen met hulle oor die gees van gebed praat, is dit Grieks vir hulle. Die geestelike toestand van sulke mense is skrikwekkend. Hoe anders was die karakter en geestelike ingesteldheid van die apostels nie! Lees oor hulle lewens, lees hulle briewe, en jy sal sien dat hulle elke dag met God gewandel het.

Hoe ongewoon is ‘n Christelike lewenswandel van dié aard nie vandag nie. ‘n Ware geloof ontbreek dikwels: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Gee aan sommige van hierdie sogenaamde Christene ‘n werk om te doen in ‘n herlewing, dan weet hulle nie wat om te doen nie. Hulle het geen motivering, kennis of invloed nie. Wanneer sal almal wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, as geesvervulde mense begin werk vir die Here?

Krag uit die hoogte

Die opdrag om dissipels van alle nasies te maak, is deur Christus aan die ganse kerk gegee. Wat is die toerusting wat ons nodig het om hierdie groot taak mee te verrig? Ons moet met krag uit die hoogte beklee word. Nadat Christus aan sy dissipels die opdrag gegee het om die wêreld te evangeliseer, het Hy bygevoeg:

“Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte… Julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie… En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle.”

Die toerusting met die krag van die Heilige Gees was ‘n noodsaaklike vereiste vir die uitvoering van die werk wat die Here aan ons gegee het. Niemand het die reg om in enige tyd sukses te verwag indien hy nie eers met krag uit die hoogte toegerus is nie. Die voorbeeld van die eerste dissipels leer ons hoe om hierdie gawe deelagtig te word. Hulle het hulself vir die werk afgesonder en eers in gebed en smeking gewag totdat die Heilige Gees op Pinksterdag oor hulle gekom en hulle die beloofde toerusting met krag ontvang het. Dit is die enigste wyse waarop dit gebeur, en die Vader is steeds net so gewillig om dit aan ons te gee as wat ons gewillig is om goeie gawes aan ons kinders te gee.

Daar is ‘n groot verskil tussen die vrede en krag van die Heilige Gees. Die dissipels was voor Pinksterdag reeds Christene gewees en het die vrede van sondevergifnis en regverdigmaking ervaar, maar was nog nie met die krag uit die hoogte toegerus wat noodsaaklik was vir die evangelisasiewerk wat aan hulle opgedra is nie. Hulle het die vrede gehad wat Christus aan hulle gegee het, maar nog nie die krag wat Hy aan hulle beloof het nie.

Dit mag van baie Christene waar wees, en ek dink dat juis dít die groot gebrek in die kerk en in die bediening is. Mense berus by bekering, en hou nie aan soek totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte nie. Om hierdie rede is hulle nie kragtig in die Here nie, en het ook geen noemenswaardige invloed op ander mense nie.

Tot eer van die Here wil ek iets van my eie ondervinding hier meedeel. Kort ná my bekering het ek oorweldigende vervullings met die Heilige Gees beleef. Ek het só ‘n toerusting met krag ondervind dat slegs ‘n paar woorde wat ek gespreek het, tot mense se onmiddellike bekering gelei het. My woorde het die skerpte van ‘n swaard gehad en mense se harte soos pyle binnegedring. Dit het hulle weerstand afgebreek en talle het tot bekering gekom.

Op ander tye was ek egter weer sonder hierdie krag, dan het my woorde geen indruk op mense gemaak wat tot hulle bekering gelei het nie. Ek het dan ‘n dag vir vas en gebed afgesonder en angstig na redes vir die oënskynlike leegheid gesoek. Nadat ek myself verootmoedig en om hulp geroep het, het die krag van die Heilige Gees met ‘n nuwe varsheid na my teruggekeer. Só het ek dit telkens in my lewe ondervind.

Wanneer kinders van die Here hulleself verootmoedig, ‘n nuwe oorgawe aan Christus maak en ook om hierdie krag bid, word hulle dikwels só vervul en bekragtig dat hulle in een dag meer siele na die Here lei as in hulle hele lewe tot in daardie stadium. Indien hulle nederig genoeg is om hierdie krag te behou, sal die redding van mense onder hulle bediening voortduur.

Die gebrek aan toerusting met krag uit die hoogte moet as ‘n besliste diskwalifikasie vir teologiese professore, predikante, ouderlinge, diakens en sondagskoolonderwysers gereken word. Is dit ‘n harde en liefdelose woord? Is dit onregverdig, onredelik of onskriftuurlik?

Christus het die apostels uitdruklik verbied om die werk in eie krag te probeer doen, maar om te wag totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus is. Mag dit dan toegelaat word dat die kerk van Christus belas word met voorgangers en ampsdraers wat nie oor hierdie fundamentele kwalifikasie beskik nie, en dit as gevolg van hulle eie nalatigheid?

Die onverskilligheid, laksheid, onkunde en ongeloof wat hieroor geopenbaar word, is werklik verstommend. Dit is onverskoonbaar. Met só ‘n opdrag vir die evangelisering van die hele wêreld, met só ‘n bevel om in gebed te volhard totdat ons die krag ontvang, en met só ‘n belofte wat deur só ‘n Verlosser gemaak is en gerig is aan elkeen wat die hulp van Christus nodig het, watter verskoning kan ons aanbied dat ons kragteloos in hierdie groot werk is? Watter verantwoordelikheid rus daar nie op ons én op die kerk nie!

Daar is groot behoefte aan hervorming in die kerk wat hierdie saak betref. Sterk standpunt sal oor die geestelike kwalifikasie van predikante en ander ampsdraers ingeneem moet word. Teologiese kweekskole behoort ook streng op hierdie grondslag beoordeel te word, anders sal hulle nie hul verantwoordelikheid besef nie. ‘n Kweekskool moet nie ‘n plek wees waar slegs dogma geleer word nie, maar ook, en veral, die ontwikkeling van ‘n Christelike ondervinding. Daar behoort wél ‘n hoë peil van intellektuele opleiding te wees, maar dit is oneindig meer belangrik dat studente gelei sal word in ‘n persoonlike kennis van Christus, en dat hulle die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde sal ervaar, terwyl hulle aan sy dood gelykvormig word.

Ek wil die kerke en kweekskole vriendelik vra om ‘n vermaning te aanvaar van ‘n ou man wat baie ondervinding van hierdie dinge het. Ek smeek julle, broeders, om nie te rus nie totdat hierdie saak reggestel is, en die toerusting met krag uit die hoogte sy regmatige plek verkry het wat Christus daarvoor in sy kerk bedoel het.

AW Tozer 22