Print

‘n Bybelse Sondebegrip is vir Verlossing Nodig

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die regte begrip van sonde vestig die aandag op die kardinale probleem wat tussen die verlore sondaar en sy redding deur Jesus Christus staan. ‘n Bybelse sondebegrip, wat toenemend in humanistiese, vormgodsdienstige en intergeloofskringe aangeval word, is ‘n wesenlike deel van die Christelike verlossingsleer. Die Here Jesus het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Die volgende oorsig oor die sondeleer, asook verlossing van sonde, is geskryf deur eerw. W.F. Burton onder die titel: Sin, and where to go with evil habits.

Die sielkundige sê dat daar nie sonde is nie. Dit mag wees dat wat hy konstruktiewe en destruktiewe gedrag noem, baie naby kom aan wat die Bybel geregtigheid en sonde noem. Sonde en skuld word egter nie deur gedragsaanpassings of ‘n veranderde ingesteldheid uit die weg geruim nie, maar deur ‘n offer, deur straf, deur die bloed van ‘n onskuldige plaasvervanger.

Die sondeprobleem is die ernstigste probleem in die wêreld. Wat is die oorsaak daarvan dat ons ganse samelewing deur haat, grootskaalse moorde en die verval van die jong geslag in misdadigheid gekenmerk word? Dit is sonde. Waarom gaan misleide en radelose mense met hulle probleme van die een sielkundige berader na die ander en bestee al hulle geld sonder om ‘n oplossing te kry? Dit is sonde.

Sonde vernietig mense se lewens. Dit hits een mens teen die ander aan, en ook nasies teen mekaar, sodat hulle mekaar aan die keel gryp en probeer uitwis. Steeds word daar meer vernietigende wapens vervaardig. Dit is sonde wat al die menslike pyn en lyding veroorsaak en van die lewe een groot stryd op aarde maak. Wat is sonde?

·       Sonde is ‘n oortreding van ‘n bekende wet van God – dit sluit morele én geestelike wette in (1 Joh. 3:4).

·       Sonde is om te weet wat reg is en dit nie te doen nie, of om te weet wat verkeerd is en dit nie te vermy nie (Jak. 4:17).

·       ‘n Selfgerigte, vleeslike lewe en die veragting van ander mense is sonde (Gal. 5:16-21; Spr. 14:21).

·       Ydele gesprekke is sonde (Spr. 10:19, 1 Kor. 15:33).

·       Ongeloof in God se Woord is die uitstaande sonde van hierdie eeu (Rom. 14:23).

Die tien gebooie is die kernagtigste uiteensetting van wat God van ons verwag, asook van ons pligte teenoor God én ons medemens. Hoewel ons verstandelik tot die regverdigheid van hierdie wette instem, vind ons dit onmoontlik om dit sonder die hulp van ‘n krag buite onsself te kan onderhou. Trouens, in 2 Korinthiërs 3:9 word die wet ‘n bediening van veroordeling genoem, omdat dit ons leer wat reg is sonder om ons die krag te gee om dit te kan onderhou.

‘n Ingebore probleem

Elkeen van ons is met sonde besmet. Dit is ingebore in ons. Sonde is die mees knaende en afskuwelikste van alle probleme. Dit is ‘n ketting wat ons nie kan breek nie, en ‘n vloek waaruit ons in ons eie krag nie kan ontsnap nie. Dit is waarom God sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf, sodat ons deur Hom van die heerskappy van die sonde verlos kan word.

Ons sielkundige en antropologiese vriende kan sonde agter allerlei vae, pseudo-wetenskaplike terme en goed klinkende drogredes verberg. Hulle kan sê dat dit anti-sosiale gedrag is, oorgelewerde volkstradisies of die manifestasie van ‘n oergedrag wat in die mens se psige vasgelê is. Hulle kan verskonings daarvoor maak, dit weg verduidelik en maak of dit nie bestaan nie. Die gewete wat die mens aankla, kan toegesmeer of doodgeskroei word, maar die feit van sonde bly steeds bestaan. Sonde kan net so min deur sielkunde uitgeskakel word as wat ‘n vliegtuig met ‘n ertjieblaser (pea-shooter) afgeskiet kan word.

Is daar geen sonde nie? As dít so is, kan mens net sowel redeneer dat daar geen nag ná die dag is, geen winter ná die somer, geen pyn, geen sorge en geen verkeerde dinge nie.

Aangekla deur jou gewete

Sonde is die mees klaarblyklike en voor-die-hand-liggende verskynsel op aarde. In verskeie van die statte in die Kongo was ek die eerste blanke man wat ooit daar besoek afgelê het. In plaas daarvan om vir die mense te begin preek, het ek eers hulle vertroue gewen deur met hulle te gesels. Selfs in berugte kannibaalgemeenskappe het ek gevind dat hulle die duidelikste begrip het van wat reg en verkeerd is. Hulle het nie slegs growwe sondes soos diefstal, leuens, dronkenskap, owerspel en moord veroordeel nie, maar ook sulke dinge soos hoogmoed, wraaksug, humeurigheid, misleiding, luiheid en gierigheid. Hoewel hulle nog nooit tevore ‘n sendeling gesien het nie, het hulle ‘n gewete gehad wat vir hulle gesê het wat reg en verkeerd is.

Die oplossing vir sonde

God het net een manier bepaal waarop daar met sonde gewerk kan word, en dit is deur die Here Jesus Christus. Daar is geen ander manier nie:

"...en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos" (Matt. 1:21). "En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie" (Hand. 4:12).

Ek het gesien hoedat duisende mense van immoraliteit, verborge onsedelikheid, begeerlikheid, dronkenskap, ‘n slegte humeur en dwelmverslawing [insluitende tabak] verlos word. Ek het gesien hoedat hulle nuwe skepsele in Christus word (2 Kor. 5:17). Ek het gesien hoedat hele gesinne in die Kongo gered word.

Die evangelie van Jesus Christus kan die laagste, mees gevalle en vuilste slaaf van die sonde bereik, sy bande breek en hom vry maak. Dit verleen aan hom ook die krag om die sonde te oorkom waardeur hy al die jare gebind is, en maak van hom of haar ‘n skoon, gelukkige en ordentlike lid van die gemeenskap – ‘n krag ten goede vir God én vir die samelewing.

As mense maar net wil besef dat hulle nie die meesters van hulle eie lotgevalle is nie! Hulle word deur sonde oorheers en het behoefte om verlos te word en onder die heerskappy van God te leef!

‘n Russiese ateïs het eenkeer vir my gesê: “Burton, ek het dikwels gesê dat ek nooit sal erken dat daar ‘n mag bokant my is wat sterker as ek is nie. Nou sê die dokter vir my dat as ek nie ophou rook nie, dit verby met my is. Ek is ‘n gedoemde man, en ek moet erken dat daardie klein sigaretjie my baas is. Ek kan nie ophou nie. Ek sal maar moet aanhou rook, ten spyte daarvan dat dit besig is om my dood te maak.”

As daardie man maar net sy probleem aan die gekruisigde en verrese Christus oorgegee het, sou hy daar en dan verlossing gekry het.

‘n Getuienis van verlossing

As daar ooit ‘n man was wat in ‘n ernstige verknorsing was, dan is dit Frank White. Hy het só verslaaf aan drank geraak dat hy sy bevordering in die vloot verbeur het. Hy het ook só onbeskof en brutaal teenoor sy vrou en kinders opgetree, dat hulle hom verlaat het. Hy het voornemens uitgespreek en skriftelike beloftes gemaak dat hy dit nooit weer sou doen nie, maar alles tevergeefs. Hy was nie die meester van homself nie en kon net so min ophou drink as wat ‘n vis kan ophou om te swem.

Alkohol het deel van sy lewe geword en hy kon nie daarsonder leef nie. Hoe langer hy met die gewoonte voortgegaan het, hoe minder moed en krag het hy gehad om dit te weerstaan. By tye het hy van die skip af aan land gegaan en vir homself gesê: “Ek sal nie weer naby ‘n kroeg kom nie.” Ten spyte hiervan kon hy homself nie keer nie, en het sy voete feitlik vanself in die rigting van die kroeg gedraai. Hy het dan aangehou drink totdat hulle hom terug na die skip toe moes sleep.

Op ‘n dag het ‘n jong vrou wat aan hom totaal onbekend was, aan hom ‘n traktaatjie oor bekering gegee. Hy was ‘n Rooms-Katoliek en het absoluut niks van die evangelie geweet nie. Hy het in die traktaatjie gelees hoedat die Seun van God aan die kruis gesterf het om die straf vir mense se sondes te dra, en dat Hy weer opgestaan het en leef om aan almal wat hulle vertroue in Hom stel, verlossing te skenk.

Toe die volle implikasies van hierdie feite tot sy verduisterde verstand deurgedring het, het hy die dorp waar hy gestasioneer was, deursoek na die vrou wat die traktaatjie aan hom gegee het. Hy het haar uiteindelik raakgeloop en haar gevra waar hy meer van hierdie waarhede kon verneem. Sy het hom na ‘n klein saaltjie verwys waar dienste gehou is. White het sy lewe daar met die belydenis van sy sondes aan Christus oorgegee, en is onmiddellik van drank verlos. Hy was ‘n nuwe mens. Toe sy vrou die wonderlike verandering sien wat daar in sy lewe ingetree het, het sy na hom teruggekeer en is kort daarna self gered.

Die gesin met hulle vier kinders het daarna gelukkig saamgeleef. White se onbesproke karakter het die goedkeuring van sy meerderes weggedra, en hy is van een senior posisie ná die ander bevorder. Selfs sy kollegas wat nie godsdienstig georiënteerd was nie, moes erken dat geen ander krag as die evangelie van Jesus Christus hom so volkome kon verlos nie.

Wat die Here vir Frank White gedoen het, kan Hy ook vir jóú doen.

Sonde is ‘n werklikheid en dit sal nie help om dit te probeer wegredeneer nie. Dit is veel beter om dit te erken en in die geloof op te sien na Jesus, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21).

Die goddelose mense leef sorgeloos voort, en totdat die Heilige Gees hulle van hul sonde oortuig (Joh. 16:8), skep hulle behae in sonde en verleen ook hulle goedkeuring aan dié wat dit doen (Rom. 1:32).

Wanneer ‘n sondaar egter sy skrikwekkende toestand besef, dat hy onder die toorn van ‘n God is wie se wette hy oortree het (Joh. 3:36), dan is dit vir hom kosbaar om na die skuilplek vir sondaars te vlug, naamlik die kruis van Jesus waar Hy ons sondes op Homself geneem en die straf daarvoor gedra het.

"[Hy het] self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe" (1 Pet. 2:24). "Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring" (1 Pet. 3:18).

Alle mense op aarde is sondebesmet en het behoefte aan die Here Jesus se reddende genade: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23).

Van ons word dit net verwag om hierdie sondes eerlik aan die Here te bely:

"My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe" (Ps. 32:5).

Wat ‘n onuitspreeklike vreugde om die versekering van die Here te kry dat ons sondes vergewe is:

"Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk" (Jes. 44:22). "As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word" (Ps. 130:3-4).

Voortgesette reiniging

Daar is baie opsigte waarin ons nog steeds sal sondig, en dit moet ook teenoor die Here bely word:

"My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld" (1 Joh. 2:1-2).

Moenie probeer om vergewe te voel nie. Aanvaar net hierdie wonderlike feit in eenvoudige geloof. Dank die Here dat dit ‘n afgehandelde saak is. Glo dat jy vergewe en gereinig is. Verbly jou daarin, en die laste sal van jou gewete af weggerol word. Bou jou vertroue op die beloftes in die Bybel, en moenie deur jou gevoelens gelei word nie. Ons word deur die geloof geregverdig – nie deur gevoelens nie.

Wandel met die Here en moenie jou sensitiwiteit vir sonde verloor nie:

"Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1 Joh. 1:7).

Die Here reinig ons voortdurend van alle sonde. Ons opdrag is om in die lig te wandel en onmiddellik enige sonde waarvan die Heilige Gees ons oortuig, te bely en te laat staan. Moenie jou sondes toesmeer en daarmee volhard nie, want dit sal verwoestende gevolge in jou lewe hê:

"Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13).

Let daarop dat sonde bely én laat staan moet word. Sommige mense bely net hulle sondes, maar hou aan om dit te doen. Wanneer draai jy in die Naam van die Here jou rug op jou sonde en aanvaar sy verlossing? Ons leef in ‘n tyd van permissiwiteit en openlike sondige gedrag. Moet dit nie as ‘n verskoning gebruik om in sonde te leef omdat jou optrede “sosiaal aanvaarbaar” is nie. Meet jouself aan God se standaard en bied ten bloede toe weerstand in die stryd teen die sonde:

"Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" (Heb. 12:3-4).