Print

Ons Lewe in Christus

Written by Prof Johan Malan.

“Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Fil. 1:21).

Ons lewe in Jesus Christus is totaal anders as die natuurlike lewe waarmee ons gebore word. Wat behels hierdie nuwe lewe alles?

1. ‘n Geestelike geboorte

Alle mense kom as sondaars, sonder God en sonder hoop, in die wêreld in. Daar is nie een wat regverdig is nie, want ons is almal onder die heerskappy van die sondige natuur wat ons van Adam geërf het. Die lewe saam met die Here Jesus begin by ‘n geestelike geboorte, of wedergeboorte, wanneer ons vanuit God se oogpunt uit die dood na die ewige lewe oorgaan (Joh. 3:3; 5:24). Op dié dag word ons gelowiges wat uit genade gered is en die heilige natuur van Christus verkry het.

Die nuwe lewe is ‘n gawe van God wat deur sy Seun aan ons geskenk word: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12). Vir ons is die lewe Christus.

2. ‘n Daaglikse wandel met Christus

Nadat ons geestelik lewend gemaak is, word ons geroep om op te groei in die nuwe lewe in Christus, en as sy dissipels daagliks met Hom te wandel. Ons moenie soos Demas teruggelok word na ‘n lewe wat buite Christus in die wêreld gelei word nie. Daar is ongelukkig Christene wat dit probeer doen, maar hulle word as vleeslike Christene beskryf wat nie met oortuiging kan sê: “Vir my is die lewe Christus” nie. Hulle weet nie wat vir hulle die belangrikste is nie – die Here Jesus of die wêreld.

Daar is twee voorwaardes waaraan ons moet voldoen om die voordele van ‘n lewe in Christus kwalitatief te kan ervaar. Die een is dat ons aan onsself moet sterf (Luk. 9:23), en die ander dat ons met die Heilige Gees vervul moet word (Ef. 5:18).

Ons moet só volkome met die kruisdood van die Here Jesus identifiseer dat ons saam met Hom vir die wêreld en die sonde sal sterf. Paulus het gesê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). Daar was ‘n kruis tussen hom en die wêreld ingeplant, daarom kon hy sê: “Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).

Selfsterwe as ‘n voorwaarde vir die lewe in Christus is nie net ‘n eenmalige belewenis tydens wedergeboorte nie, maar ‘n voortgaande proses. Ons moet met die Here Jesus saamgroei deur die gelykvormigheid aan sy dood indien ons prakties en op ‘n daaglikse basis sy opstandingslewe wil ervaar (Rom. 6:5; Fil. 3:10).

In reaksie op ‘n volle oorgawe van hierdie aard sal die Here Jesus ons met sy Heilige Gees vervul. Wanneer dit gebeur, sal die nuwe lewe in Christus tot sy volle reg kom, want die Heilige Gees skep by ons die bewussyn van Christus se daaglikse teenwoordigheid (Joh. 16:14). Wanneer die Here Jesus in ‘n groter mate gestalte in ons lewe kry (Gal. 4:19), sal ons opgroei tot die mate van ’n volwasse man of vrou in Christus, “sodat ons nie meer soos kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-15). Ons sal geestelik volwasse raak met ‘n goeie onderskeidingsvermoë en vaste oortuigings.

3. Saam met Christus in konflik met ‘n verdorwe wêreld

As ons ernstig is om die Here Jesus te volg met die belydenis dat Hy ons hele lewe is, moet ons goed begryp dat ons, soos alle gelowiges regdeur die kerkbedeling, die lydende Christus volg wat steeds deur die groot meerderheid mense verwerp word. Ons moet teëstand van die wêreld verwag en bereid wees om sy smaad te dra. Jesus het vir die dissipels gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie... daarom haat die wêreld julle... ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle julle woord ook bewaar... In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 15:19-20; 16:33).

Ons moet daarop ingestel wees om te midde van antagonisme en selfs openlike teëstand die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Ons is nie nou konings en koninginne nie, maar soldate vir die kruis. Ons moet bereid wees om ‘n volle wapenrusting aan te trek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Is jy bereid om hierdie rol te vervul deur die sout van ‘n bedorwe aarde en die lig van ‘n donker wêreld te wees? Paulus sê dit is genadiglik aan ons gegee om nie alleen in Christus te glo nie, maar ook vir Hom te ly (Fil. 1:29).

Die waarheid van die evangelie is omstrede in die wêreld omdat die meeste mense die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). Ons het die opdrag om te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Dit beteken dat ons in die praktyk geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis mag hê nie, maar dit liewer moet bestraf (Ef. 5:11). Ons moet ‘n duidelike standpunt daarteen inneem.

As gevolg van hierdie situasie is dit dikwels ‘n eensame paadjie wat op ons wag as ons getroue volgelinge van die Here Jesus wil wees. Ons moenie net vir die wêreld en die sonde gekruisig word nie, maar ook onder vormgodsdienstiges uitgaan wat die krag van die evangelie verloën het en net lippediens aan die Here bewys (2 Tim. 3:5). Ons kan nie met dwalings en halwe waarhede assosieer nie, want dan word ons geestelik afgetrek en raak self van die waarheid afvallig.

Die lewe in Christus is ‘n lewe van stryd teen ongeloof, sonde, kompromie en ‘n misleidende gedaante van godsaligheid. Die afvalliges is wêreldgesind omdat hulle net in wêreldse terme loon en seën wil ontvang. As gevolg hiervan is hulle nie op die hemel ingestel nie en verkondig nie die spoedige koms van Christus vir sy gemeente nie. Daar is ‘n hele stroom van valse opvattings waarteen ons onsself moet uitspreek wanneer ons Christus verkondig.

Paulus sê vir Timótheüs: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12). In sy tweede brief het hy aan hom gesê: “Ly verdrukking, doen die werk van ‘n evangelis, vervul jou bediening” (2 Tim. 4:5). As ons saam met Christus vir die waarheid ly, sal ons ook eendag saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17). Ons is in ‘n stryd gewikkel en moenie nou al koninkrykstoestande verwag nie.

4. Volhard saam met Christus

In die lig van al die vyandigheid teen die waarheid, verwag die Here van ons ‘n gees van volharding en deursettingsvermoë om ongeag die gevolge daarvan op die regte pad te volhard. Die Here Jesus is ook hierin vir ons ‘n voorbeeld: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:3).

Sommige Christene laat tot oneer van die Here toe dat beproewings en swaarkry hulle geestelik onderkry. Hulle veragter in die genade en veroorsaak dat daar ‘n wortel van bitterheid in hulle harte opskiet. Hulle blameer dan almal, selfs ook die Here, vir hulle onaangename ervarings. Ons moet hierdie gees van afvalligheid teëstaan en op die Here se pad van heiligheid volhard tot die einde toe: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Ons moet met vaste oortuiging aan Christus vashou en nie omkyk nadat ons die hand aan die ploeg geslaan het nie. Moenie deur teëstand en kritiek ontmoedig word nie.

Alle Christene moet gereeld hulle geloofsverhouding met die Here ondersoek en dinge regstel wat verkeerd geloop het. Moenie dat die Here Jesus vir ons sê wat Hy vir die gemeente in Éfese gesê het nie: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4). As ons sê dat die lewe vir ons Christus is, moet ons sorg dat ons nie in ons liefde vir Hom verkoel nie. Maak ‘n nuwe oorgawe om opnuut vervul te word met krag uit die hoogte sodat die vuur van die Heilige Gees nie in ons lewe uitgeblus raak nie. Ons moet volkome heiligmaking najaag sodat ons onberispelik kan wees op die dag van Christus se wederkoms.

5. Voortdurende gebedskontak met Christus

Die kwaliteit van ons daaglikse wandel met Christus word weerspieël deur die aard van ons gebedslewe. Ons moet die Here ken in al ons weë en die gewoonte aanleer om by elke geleentheid te bid in die Gees. Ons moet gereeld deur gebed toetree op die nuwe en lewende weg wat Christus vir ons na sy genadetroon geopen het. Al ons begeertes moet by Hom bekendgemaak word met danksegging, en sy beloftes moet in die geloof toegeëien word. Hy sal ons deur sy Woord en deur omstandighede lei, aan ons krag tot oorwinning in alle krisisse gee, en diep in ons harte ‘n vrede skenk wat alle verstand te bowe gaan.

As ons die Here in ons binnekamer ken en raadpleeg, dan sal Hy ons daarbuite in die praktyk waar die eise van Christenskap hoog is, staande hou, deurdra, en vir ons deure oop- of toemaak waar nodig. Mense moet ons as volgelinge van die Here Jesus kan herken.

6. Aktief in die Here Jesus se diens

Die groot doel waarvoor ons op aarde is, is om getuies vir Christus te wees en daardeur vrugte te dra wat by die bekering pas. Hiervoor het ons die krag van die Heilige Gees nodig, soos deur Jesus Christus self aan ons belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Omdat die toerusting met krag uit die hoogte tot ons almal se beskikking is, sal ons geen verskoning hê as dit in ons lewe ontbreek nie. Ons moenie vleeslik en kragteloos lewe en eendag met leë hande voor die Here staan nie.

Almal van ons moet op een of ander manier by die uitvoering van die Groot Opdrag ingeskakel wees. As ons dit nie deur ons gemeente kan doen nie, dan moet ons gepaste interkerklike strukture vind, of met ons eie bediening van die huis af begin. Ons moenie ledig op die markplein rondstaan nie, want daar is baie werk om gedoen te word. Tyd in die bedeling van genade is besig om uit te loop, daarom moet ons elke geleentheid vir evangelisasie en die geestelike opbouing van gelowiges gebruik. Ons sal rekenskap van ons lewe aan die Here moet gee.

Wanneer ons aktief vir die Here werk, moet ons verwag om groter weerstand van die sielevyand te ervaar, want hy sal ons op allerlei maniere probeer teëstaan en ontmoedig. Die krag van die Heilige Gees is egter ook tot ons beskikking om teen sy aanslae staande te bly. Ons moet leer om die geestelike wapens te gebruik, naamlik geloof, die bloed van die Lam, gebed, en die Bybel as die swaard van die Gees. Wanneer ons oorwinnend leef, sal ons met geestelike werk kan voortgaan en deur die Here gebruik word. Indien ons egter geestelik struikel of die stryd gewonne gee, is ons nie nuttige instrumente in die Here se hand nie, omdat die Gees van die Here net deur ‘n rein kanaal werk.

Ons eie probleme moet eers opgelos word voordat ons oplossings vir ander mense se probleme kan aanbied. As ander mense Christus in ons kan sien, sal hulle ook na Hom toe getrek word.

7. Saam met Hom in sy koninkryk

Vir ‘n Christen lê die beste altyd voor, daarom vergeet ons die dinge wat agter lê en strek ons uit na dit wat voor is. Die Here is besig om vir sy diensknegte ‘n koninkryk en ewige tuiste te berei. Is ons hiervan bewus? Ons moet soos Abraham ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). Dit is die nuwe Jerusalem in die hemel. Hy het gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3). Dit sal ‘n plek van onuitspreeklike vreugde wees (1 Kor. 2:9).

Paulus het gesê: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil. 1:23). Om te sterf, sou vir hom dus wins wees. Ons werk vir Christus se koninkryk wat nou nog op aarde verborge is, maar sien uit na die dag wanneer Hy in mag en majesteit sal terugkeer om sy koninkryk te openbaar. Ons is lede van sy hemelse koninkryk, daarom is ons vreemdelinge en bywoners in die huidige goddelose wêreld: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Die dood is vir ‘n Christen allesbehalwe slegte nuus, want dit is ‘n oorgang van die onvolkome aardse lewe na die volkome lewe in die hemel. Ons behoort ‘n begeerte te hê om by Christus te wees, waar dit oneindig beter is as hier op aarde. Die dood is net traumaties vir geliefdes wat alleen agterbly, maar hulle kan moed skep uit die belofte van ons toekomstige hereniging: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18). Dit is ons heerlike bestemming. Die einde van ons pad op aarde is net die oorgang na ‘n nuwe begin in die hemel waar ons verheerlikte en onverganklike liggame sal hê. Ere aan ons Verlosser.

Na die laaste oordeel sal die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal, God sal by die mense woon, en al die ellendes van die huidige, aardse lewe sal vir ewig verby wees: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4).

Eerlike selfondersoek

Dit is belangrik dat ons van tyd tot tyd kritiese vrae aan onsself sal vra oor hoe ons vorder op die pad wat ons saam met die Here Jesus bewandel. Nie almal van ons doen met ewe veel opregtheid selfondersoek nie. Paulus sê vir medegelowiges: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julleself op die proef” (2 Kor. 13:5). Hierdie ondersoek behels eerstens die vraag of hulle ware gelowiges is of dalk net vormgodsdienstiges wat by ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid berus; en, tweedens, indien hulle wél gelowiges is, om die aard van hulle geloofslewe te bepaal. Baie mense is geneig om sulke direkte, persoonlike vrae te ontwyk en tot hulle eie nadeel aan te hou voorgee dat alles in orde is met hulle geestelike lewe terwyl dit dalk nie die geval is nie.

Wanneer jy nader aan die einde van jou lewe kom en voor die werklikheid van die ewigheid te staan kom, sowel as die verpligting om voor die regterstoel van Christus rekenskap van jou lewe op aarde te gee (Rom. 14:10-12), kom daar dikwels gedagtes in jou op wat jou van alle eiewaan en oneerlike selfbeoordeling stroop. Jy kyk krities na jouself en twyfel selfs oor jou eie integriteit en waardigheid as ‘n gelowige. Jy is geneig om indringend na die wisselvallige en minder suksesvolle kant van jou lewe te kyk en al jou foute en verkeerde besluite raak te sien. Jy is bitter spyt oor al die onvolkomenheid in jou karakter, jou loopbaan, jou Christelike bediening, jou huwelik, in die hantering van jou finansies, en ook in jou menseverhoudings. Jy is minder geneig om ander mense te kritiseer en beskou eerder jouself as die skuldige party in baie van die dinge wat verkeerd geloop het.

Wanneer ‘n Christen introspeksie doen, is daar sekere gevare waarteen gewaak moet word. Die eerste een het te doen met ons sondes van die verlede. Indien ons waarlik weergebore is, met die getuienis van die Heilige Gees in ons harte dat ons kinders van God is wie se sondes vergewe is (Rom. 8:16), moet ons onsself dissiplineer om nie weer aan daardie sondes te dink en dit in gesprekke op te haal nie. Die sielevyand sal probeer om ons gedurig aan daardie sondes te herinner sodat hy ‘n hernude skuldkompleks in ons gedagtes kan vestig. Indien ons hieraan toegee, sal hy mettertyd vrae in ons gemoed laat ontstaan of ons werklik gered is. Vergeet die dinge wat agter is, en strek jou uit na wat voor is (Fil. 3:14). Die Here sê oor sy dwalende volk wat met berou na Hom terugkeer: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Hy sê dit ook ten opsigte van ons.

Die tweede gevaar waarteen Christene in hulle selfondersoek moet waak, is om hulleself met ander Christene te vergelyk en hulleself dan as mislukkings te beskou indien hulle nie kan doen wat ander doen nie. Ons enigste voorbeeld is die Here Jesus, en ons moet in sy voetstappe volg (1 Pet. 2:21; 1 Joh. 2:6). Hy lei ons deur sy Heilige Gees en gebruik elkeen van ons op ‘n ander manier. Nie almal van ons is predikers, sangers, skrywers of goeie sakemanne wat die werk van die Here finansieel kan ondersteun nie. Ons kan egter almal voorbidders wees, getuies vir Christus, en beginselvaste gelowiges wat op die pad van die Here volhard sonder om daarvan af te wyk. Van diegene wat dalk meer talente ontvang het, sal ook meer opgeëis word (Luk. 12:48).

Dit is juis op die terrein van diensbaarheid dat ons onsself moet ondersoek. Alle Christene is uit genade gered, sonder werke, maar dit is net die begin van die nuwe lewe in Christus. Hierna word alle gelowiges gestuurdes wat getuies vir Christus in ‘n donker wêreld moet wees. Hierdie groot taak kan nie in ons eie krag gedoen word nie, daarom het die Here Jesus opdrag gegee dat almal van ons met die Heilige Gees vervul moet word: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Kan jy van hierdie toerusting met krag uit die hoogte getuig? (Luk. 24:46-49).

Indien ons wel van so ‘n oorgawe kan getuig, dan moet ons seker maak dat dit weer en weer hernuwe word. Die dissipels wat in Handelinge 2 met die Heilige Gees vervul is, het later te midde van groot vyandigheid tot die Here geroep om hulp, ‘n nuwe oorgawe gemaak en is opnuut met die Heilige Gees vervul (Hand. 4:31; 13:52). Indien ons nie hierdie oorgawe gereeld hernuwe nie, kan ons van die Here af wegdryf, die krag van die Heilige Gees verloor en weer op die vlees (ons natuurlike menslike vermoëns) begin vertrou. Daar was selfs hele gemeentes wat hulleself hieraan skuldig gemaak het. Paulus het die gemeente van die Galásiërs hieroor aangespreek: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:3).

Daar is verskeie werke wat die Heilige Gees vir ons doen en ook verskeie redes waarom ons met die Gees vervul moet word:

  • Eerstens oortuig Hy ons van ons sonde en verlore toestand, asook van die geregtigheid van Christus wat sy lewe afgelê het as ‘n losprys vir die sonde van die hele wêreld (Joh. 16:8).
  • Indien ons positief hierop reageer en met belydenis van ons sonde tot Christus se genadetroon nader, dan wederbaar die Heilige Gees ons. Hierdie ondervinding word ook beskryf as geestelike lewendmaking, of doop, waardeur ons in die liggaam van Christus ingedoop word (Joh. 3:3-8; 1 Kor. 12:13). Die waterdoop is bloot ‘n getuienis hiervan, daarom kan die waterdoop alleen ons nooit red nie.
  • Indien ons hierna ‘n volle oorgawe maak, vervul die Heilige Gees ons sodat ons effektiewe getuies vir Christus kan wees en vrugte kan dra wat by die bekering pas (Hand. 1:8; Matt. 3:8).
  • Die Heilige Gees vestig goddelike gesindhede in ons waardeur die Here Jesus in ons gestalte verkry, en die wêreld kan sien dat ons dissipels van Jesus is (Gal. 5:22; Joh. 13:34). Die belangrikste hiervan is goddelike liefde (agape) wat Hy in ons harte uitstort (Rom. 5:5).
  • Die Heilige Gees gee aan ons krag om die hartstogte en begeerlikhede van die vlees te kan oorwin: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Hy verskaf aan ons ‘n geestelike wapenrusting waardeur ons die versoekings en aanslae van die Bose kan oorwin (Ef. 6:10-11).
  • Die Heilige Gees is ons Leermeester wat ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13). Hy gee aan ons verligte oë van die verstand om die Bybel te kan verstaan (Ef. 1:18) en herinner ons aan alles wat die Here Jesus sy dissipels geleer het (Joh. 14:26; 16:14).
  • Hy is ook ons Trooster wat ons tydens die fisiese afwesigheid van die Here Jesus vertroos, terwyl ons ons weg deur ‘n vyandige wêreld moet vind (Joh. 14:26; 15:26; 16:7). Hy getuig van Jesus, asook van ons herontmoeting met Hom nadat Hy in die hemel vir ons plek gaan berei het (Joh. 14:1-3).
  • Die Gees rus ons ook met geestelike gawes toe. Dit kan as ‘n spesiale salwing beskryf word (1 Joh. 2:20,27). Dit beteken dat die Gees ons leer én geestelik toerus om die Here met ons besondere talente te kan dien. ‘n Natuurlike gawe sonder die salwing van die Heilige Gees het geen geestelike nut nie. Selfs al het ek dalk van nature (of weens my opleiding) sekere begaafdhede, het ek steeds die salwing van die Heilige Gees nodig sodat daardie talente of vermoëns aan die Here geheilig kan word.

Waarom raak so baie gelowiges die pad byster? Omdat hulle nie op die leiding van die Heilige Gees vertrou nie. Waarom is hulle prioriteite en besluite dikwels verkeerd? Omdat hulle gevalle natuur (die vlees) nie ten volle oorgelewer is om gekruisig te word nie (vgl. Luk. 9:23; Gal. 6:14). Dit is die belangrikste rede vir hulle mislukkings, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Die Here Jesus wil hê ons moet getroue diensknegte wees wat met vrymoedigheid rekenskap van ons lewens sal kan gee – ook hoe ons ons talente in sy diens gebruik het. Dit is op hierdie terrein waarop so baie van ons in die koninkryk van die Here onderpresteer. Sommige van ons sal selfs met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15).

Dit is goed om tekortkomings van hierdie aard in ‘n vroeë stadium te kan identifiseer, want dan kan ons betyds seker maak dat ons gered en ook met die Heilige Gees vervul is, sodat ons goeie en getroue diensknegte van Christus kan wees. Almal van ons wil tog eendag hierdie woorde uit die Here Jesus se mond hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt. 25:21). Om so ‘n positiewe beoordeling te kan verkry, moet ons seker maak dat ons onverdeelde en gereinigde harte het wat met die Heilige Gees vervul is. Dit sal ons in staat stel om met vrymoedigheid en onder alle omstandighede te kan sê: “Vir my is die lewe Christus.”